Die vrou van Sunem kry haar huis en haar grond terug
1Elisa het voorheen 'n vrou se seun weer laat lewe. Hy het met haar gaan praat en vir haar gesê: “Jy moet gereedmaak en weggaan, jy en jou huisgesin, en jy moet gaan woon in 'n ander land waar jy 'n vreemdeling is, want die Here het gesê daar sal sewe jaar lank hongersnood in hierdie land wees.”
2Die vrou het gereedgemaak en sy het gedoen wat die man van God vir haar gesê het. Sy en haar huisgesin het sewe jaar lank in Filistyne-land gaan woon, hulle was daar vreemdelinge. 3Ná die sewe jaar het die vrou teruggekom uit Filistyne-land. Sy het toe vir die koning gaan vra dat hy haar moet help sodat sy haar huis en haar grond kan terugkry. 4Die koning was besig om te praat met Gehasi, die jongman wat vir die man van God gewerk het. Die koning het gevra Gehasi moet vir hom vertel van al die wonderlike dinge wat Elisa gedoen het. 5Gehasi het vir die koning vertel dat Elisa 'n seun wat dood was, weer laat lewe het. Daardie selfde tyd het die seun se ma daar gekom. Sy het gevra dat die koning haar moet help om haar huis en haar grond terug te kry. Gehasi sê toe: “Meneer die koning, hier is die vrou, en hier is haar seun, Elisa het hom weer laat lewe.”
6Die koning het vir die vrou gevra wat gebeur het, en sy het vir hom alles vertel. Die koning het toe 'n amptenaar saam met haar laat gaan en hy het vir die amptenaar gesê: “Sy moet alles terugkry wat aan haar behoort, ook al die geld vir die koring wat op haar grond gegroei het, van die dag toe sy uit die land gegaan het, tot nou toe.”
Gasael word koning van Aram
7Elisa het in Damaskus gekom. Koning Ben-Hadad van Damaskus was siek en toe hy hoor die man van God het in Damaskus aangekom, 8het hy vir Gasael gesê: “Jy moet 'n present saamneem en na die man van God toe gaan. Jy moet vir hom sê ek is siek en hy moet vir die Here vra of ek sal gesond word of sal sterf.”
9Gasael het na Elisa toe gegaan en hy het 'n present saamgeneem. Dit was van die beste goed van Damaskus, en hulle het dit op 40 kamele gepak. Gasael het by Elisa gekom en gesê: “Koning Ben-Hadad het my na jou toe gestuur om te vra of hy sal gesond word of sal sterf, want hy is siek.”
10Elisa het geantwoord: “Sê vir Ben-Hadad hy sal nie gesond word nie. Hy sal sterf, dit is seker. Die Here het dit vir my gewys.”
11Elisa het lank na Gasael gekyk, Gasael het later nie geweet wat om te doen nie. Elisa het toe gehuil.
12Gasael het gevra: “Hoekom huil jy, Meneer?”
En Elisa het gesê: “Ek huil omdat ek weet watter slegte dinge jy aan die mense van Israel sal doen. Jy sal hulle stede verbrand, hulle jongmanne doodmaak, hulle babas stukkend slaan en hulle vroue oopsny wat babas verwag.”
13Gasael het gesê: “Ek is nie belangrik nie, ek is soos 'n hond wat niks beteken nie. Ek sal nie daardie slegte dinge doen nie.”
En toe sê Elisa: “Die Here het vir my gewys dat jy die koning van die Arameërs sal word.”
14Gasael het weggegaan van Elisa en hy het by sy koning gekom. Toe die koning vir hom vra wat Elisa gesê het, het hy gesê: “Hy het vir my gesê dat jy gesond sal word, dit is seker.”
15Maar die volgende dag het Gasael 'n laken natgemaak en hy het dit oor Ben-Hadad se gesig vasgedruk sodat hy nie kon asemhaal nie. Ben-Hadad het gesterf en Gasael het toe koning geword in Ben-Hadad se plek.
Joram seun van Josafat word koning van Juda
16Joram seun van Josafat het koning van Juda geword in die vyfde jaar nadat Joram seun van Agab koning van Israel geword het. 17Joram seun van Josafat was 32 jaar oud toe hy in Jerusalem koning geword het, en hy was ag jaar lank koning. 18Hy het verkeerd gelewe soos die konings van Israel, soos die familie van Agab, want hy was getroud met 'n dogter van Agab. Joram het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. 19Maar die Here wou nie hê dat almal in Juda moet sterf nie, want Hy het vir Dawid belowe dat daar altyd iemand van Dawid se nageslag koning sal wees in Jerusalem. 20In die tyd toe Joram koning van Juda was, het die Edomiete opstandig geword teen Juda, en die Edomiete het vir hulleself 'n koning gekies en aangestel. 21Joram het oorlogkarre geneem en hy het na die land Seïr gegaan. Die Edomiete het rondom hom en sy offisiere kom staan, hulle was gereed om oorlog te maak. Joram het hulle in die nag aangeval, maar sy manne het na hulle tente gevlug. 22Die Edomiete is nou nog altyd vry, Juda regeer nie oor hulle nie. Die mense van die stad Libna het in dieselfde tyd ook opstandig geword.
23Al die ander dinge wat Joram gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda. 24Joram het gesterf, en sy mense het hom begrawe by sy voorvaders in die Dawidstad. Sy seun Ahasia het koning geword ná hom.
Ahasia word koning van Juda
25Ahasia seun van Joram het koning van Juda geword in die twaalfde jaar nadat Joram seun van Agab koning van Israel geword het. 26Ahasia was 22 jaar oud toe hy koning geword het in Jerusalem, en hy was een jaar lank koning. Sy ma was Atalia, 'n kleindogter van koning Omri van Israel. 27Ahasia het gelewe soos die familie van Agab, hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Hy het gedoen soos die familie van Agab, want sy ma was 'n dogter van Agab. 28Ahasia het saam met Joram gaan oorlog maak teen koning Gasael van Aram. Dit was by die stad Ramot in die land Gilead, en die Arameërs het vir Joram gewen. 29Die Arameërs het vir koning Joram raakgeskiet en hulle het hom gewond toe hy in die stad Ramot oorlog gemaak het teen koning Gasael van Aram. Koning Joram het toe teruggegaan na die stad Jisreël om gesond te word. Ahasia seun van koning Joram van Juda het vir Joram seun van Agab gaan besoek in Jisreël, want Joram was siek.