Die mense van Israel word opstandig teen Rehabeam
1Rehabeam het na die stad Sigem gegaan, want al die Israeliete het daarnatoe gekom om hom koning te maak. 2Jerobeam seun van Nebat het dit gehoor. Hy was nog in die land Egipte, want hy het daarnatoe gevlug omdat hy bang was vir koning Salomo. Hy het daar gaan woon, 3maar die mense van Israel het hom laat roep, en hy het gekom. Jerobeam en die hele volksvergadering van Israel het met Rehabeam kom praat. 4Hulle het gesê: “Jou pa het ons baie hard laat werk. Jy moet ons nie so hard laat werk nie, dan sal ons vir jou werk.”
5Rehabeam het vir hulle gesê hulle moet eers weggaan en hulle moet oor drie dae terugkom. Hulle het toe weggegaan. 6Daar was amptenare wat vir Salomo gewerk het toe hy gelewe het. Koning Rehabeam het vir hulle gevra wat hy moet doen. Hy het vir hulle gevra: “Wat sê julle? Wat moet ek vir hierdie mense antwoord?”
7Hulle het vir hom gesê: “As jy vandag hierdie mense wil dien en jy doen wat hulle wil hê en jy gee vir hulle 'n goeie antwoord, dan sal hulle jou altyd dien.”
8Maar Rehabeam wou nie luister na wat hulle vir hom gesê het nie. Hy het toe vir die jongmanne gaan vra wat saam met hom grootgeword het en wat sy amptenare was. 9Hy het vir hulle gevra: “Wat sê julle? Wat moet ek vir hierdie mense antwoord? Hulle het vir my gevra dat ek hulle nie so hard moet laat werk soos hulle vir my pa moes werk nie.”
10Die jongmanne wat saam met Rehabeam grootgeword het, het vir hom gesê: “Hierdie mense het vir jou gesê dat jou pa hulle baie hard laat werk het, en jy moenie hulle so hard laat werk nie. Jy moet vir hulle sê: ‘My pinkie is dikker as my pa se lyf. 11Daarom, my pa het julle hard laat werk, maar ek sal julle nog harder laat werk. My pa het julle regeer met gewone swepe, ek sal julle regeer met swepe wat soos skerpioene byt.’ ”
12Rehabeam het voorheen vir die mense gesê hulle moet ná drie dae terugkom. Jerobeam en die hele volk het toe op die derde dag teruggekom na Rehabeam toe, 13en die koning het kwaai met hulle gepraat. Hy het nie geluister en gedoen wat die ouer leiers vir hom gesê het nie. 14Hy het gedoen wat die jongmanne vir hom gesê het. Rehabeam het gesê: “My pa het julle hard laat werk, maar ek sal julle nog harder laat werk. Hy het julle regeer met gewone swepe, ek sal julle regeer met swepe wat soos skerpioene byt.”
15Die koning het nie geluister na die volk nie, want die Here het dit so laat gebeur. Die Here wou doen wat Hy vir Jerobeam seun van Nebat gesê het toe Hy vir Agija van Silo gestuur het. 16Toe al die mense van Israel sien die koning luister nie na hulle nie, het hulle vir die koning laat weet:
“Ons is nie Dawid se familie nie,
die seun van Isai
was nie een van ons nie.
Mense van Israel,
gaan terug na julle tente!
Dawid, nou moet jy
jou eie huis oppas.”
Die mense van Israel het toe teruggegaan na hulle tente. 17Rehabeam was toe koning net van die Israeliete wat in die stede van Juda gewoon het. 18Adoram was die hoof van die mense wat vir die koning moes werk. Koning Rehabeam het vir Adoram gestuur na die mense van Israel toe, maar hulle het vir Adoram doodgegooi met klippe. Koning Rehabeam moes vinnig op sy oorlogkar klim en na Jerusalem vlug. 19Dit is hoe die mense van Israel opstandig geword het teen die koningshuis van Dawid, en dit het so gebly tot nou toe.
Rehabeam wil oorlog maak teen Jerobeam
20Toe al die mense van Israel hoor dat Jerobeam teruggekom het, het hulle hom laat roep na die vergadering van die leiers en hulle het hom koning gemaak van al die mense van Israel. Niemand het by die koningshuis van Dawid gebly nie, net die mense van die Juda-stam het by Rehabeam gebly. 21Rehabeam het na Jerusalem gekom en hy het al die manne van die Juda-stam en die Benjamin-stam bymekaargeroep. Hulle was 180 000 soldate wat hy spesiaal gekies het. Rehabeam seun van Salomo wou oorlog maak teen die mense van Israel, hy wou probeer om die land terug te kry. 22Maar God het vir Semaja, 'n man van God, gesê: 23“Jy moet praat met Rehabeam seun van Salomo, koning van Juda, en met die hele Juda-stam en die Benjamin-stam en die ander mense. Jy moet vir hulle sê: 24Die Here sê: Julle moenie gaan oorlog maak teen julle broers, die mense van Israel, nie. Julle moet teruggaan, elkeen na sy huis, want dit is Ek wat alles laat gebeur het.”
Hulle het geluister na die boodskap van die Here en hulle het teruggegaan soos Hy gesê het.
Jerobeam laat kalfbeelde maak
25Jerobeam het die stad Sigem in die Efraim-berge weer gebou en hy het daar gaan woon. Hy het later daar weggegaan en hy het die stad Pniël gaan bou. 26Hy het gedink: Miskien sal die mense van my land teruggaan na die koningshuis van Dawid. 27As hulle aanhou om offers te gaan bring in die tempel in Jerusalem, dan sal hulle weer aan hulle koning wil behoort, aan Rehabeam koning van Juda. Hulle sal my doodmaak en na Rehabeam toe teruggaan. 28Koning Jerobeam het toe vir sy raadgewers gevra wat hy moet doen, en hy het twee goue kalfbeelde laat maak. Hy het vir sy mense gesê: “Mense van Israel, julle het lank na Jerusalem gegaan, maar hier is nou julle gode wat vir julle uit die land Egipte gebring het.”
29Hy het die een kalfbeeld in die stad Bet-El gesit en die ander kalfbeeld in die stad Dan. 30Hierdie ding het die volk sonde laat doen. Hulle het saam met die kalfbeeld gegaan tot by Dan. 31Jerobeam het tempels by die offer-plekke laat bou en hy het priesters gekies en aangestel, die priesters was nie van die Levi-stam nie. 32Hy het 'n fees op die 15de dag van die agste maand laat vier, soos die fees in Juda. Hy het na die altaar in Bet-El gegaan en hy het offers gebring vir die kalfbeelde wat hy laat maak het. Hy het priesters gekies en aangestel vir die offer-plekke wat hy laat bou het.
'n Man van God bring 'n boodskap
33Op die 15de dag van die agste maand het Jerobeam 'n offer gebring op die altaar wat hy in Bet-El laat bou het. Hy het self besluit dat die mense van Israel daardie dag moet feesvier.