Dawid laat die volk tel, en die Here straf die volk
1Die Satan was teen die Israeliete. Hy het vir Dawid laat besluit om die Israeliete te laat tel. 2Dawid het vir Joab en die leiers van die volk gesê: “Julle moet al die Israeliete gaan tel, van die stad Berseba tot by die stad Dan, en julle moet vir my kom sê hoeveel mense hulle is, ek wil dit weet.”
3Joab het gesê: “Ek wens die Here maak sy volk 100 maal meer as wat hulle is. Maar, Meneer die koning, hulle behoort almal aan jou, hoekom wil jy hierdie ding doen? Die Here sal die Israeliete straf as jy dit doen.”
4Maar die koning het gesê Joab móét dit doen, en Joab moes doen wat die koning gesê het. Joab het deur die hele land Israel gegaan en hy het toe teruggekom in Jerusalem. 5Hy het vir Dawid gesê hoeveel mense hy getel het. Die manne van Israel wat oorlog kon maak, was almal saam 1 100 000, en die manne van Juda wat oorlog kon maak, was 470 000. 6Joab het nie die manne van die Levi-stam en die Benjamin-stam saam met die ander manne getel nie, want hy het dit gehaat om te doen wat die koning gesê het. 7Die Here het ook nie gehou van wat Dawid gedoen het nie en Hy het die Israeliete gestraf. 8Toe het Dawid vir God gesê: “Ek het 'n groot sonde gedoen toe ek hierdie ding laat doen het. Nou moet U asseblief u dienaar se sonde vergewe, want ek het 'n baie dom ding gedoen.”
9Gad was Dawid se siener. Die Here het vir Gad gesê: 10“Jy moet vir Dawid gaan sê Ek sê: Dawid, Ek noem drie dinge vir jou. Jy moet een kies, dan sal Ek dit met jou laat gebeur.”
11Gad het na Dawid toe gegaan en hy het vir Dawid gesê: “Die Here sê jy moet sê wat moet gebeur: 12Wil jy hê daar moet drie jaar lank hongersnood wees, of wil jy drie maande lank vlug vir jou vyande? Hulle sal so naby jou kom dat hulle jou en jou mense kan doodmaak. Of moet die Here self jou mense in die land drie dae lank laat sterf van pes? Moet die Engel van die Here mense in die hele land Israel doodmaak? Jy moet besluit en sê wat ek moet sê vir Hom wat my gestuur het.”
13Dawid het vir Gad gesê: “Ek het 'n groot probleem. Die Here moet met my doen wat Hy besluit, want Hy is baie genadig. Maar Hy moenie my vir mense gee sodat hulle met my kan doen wat hulle wil nie.”
14Die Here het pes laat kom in die land Israel, en daar het 70 000 Israeliete gesterf. 15God het 'n engel na Jerusalem gestuur om die mense in die stad dood te maak, maar toe die engel dit begin doen, het die Here dit gesien en Hy het besluit dat die straf moet ophou. Hy het vir die engel wat die mense laat sterf het, gesê: “Stop, dit is nou genoeg, laat sak jou hand.”
Die Engel van die Here het bly staan by die dorsvloer van die Jebusiet Ornan.
Dawid koop die dorsvloer van Ornan
16Toe Dawid opkyk, sien hy die Engel van die Here tussen die hemel en die aarde staan. Die Engel het 'n swaard in sy hand gehad en hy het dit oor Jerusalem gehou. Dawid en die leiers van Israel het rouklere aangehad en hulle het laag gebuig met hulle gesigte teen die grond. 17Toe sê Dawid vir God: “Dit is ék wat gesê het hulle moet die volk tel, dit is ék wat sonde gedoen het. Dit is ék wat die verkeerde ding gedoen het. Wat het hierdie mense verkeerd gedoen? Niks. U moet vir mý en my familie straf, U moenie u volk straf nie.”
18Die Engel van die Here het vir Gad gesê hy moet vir Dawid sê hy moet opgaan en hy moet 'n altaar bou op die dorsvloer van die Jebusiet Ornan. 19Dawid het gegaan om te doen wat die Here vir Gad gesê het om vir hom te sê. 20Ornan was besig om koringkorrels uit die koring-are te haal. Toe hy omdraai, het hy die Engel gesien. Sy vier seuns wat by hom was, het weggekruip. 21Dawid het na Ornan toe gegaan. En toe Ornan kyk en vir Dawid sien, het hy uit die dorsvloer gekom. Hy het voor Dawid gebuig met sy gesig teen die grond. 22Dawid sê toe vir Ornan: “Jy moet die plek waar die dorsvloer is, aan my verkoop. Ek wil daar 'n altaar vir die Here bou. Ek sal vir jou alles betaal wat jy daarvoor wil hê. Wanneer ek die altaar gebou het, dan sal die pes ophou.”
23Ornan het vir Dawid gesê: “Meneer die koning, neem dit vir jou en doen daarmee wat jy besluit. Kyk, ek gee die beeste vir 'n brand-offer en ek gee ook die dors-sleë vir brandhout en die koring vir 'n koring-offer. Ek gee dit alles.”
24Maar koning Dawid het vir Ornan gesê: “Nee, ek wil dit van jou koop, jy moet sê hoeveel ek moet betaal. Ek wil dit doen, want ek kan nie iets vir die Here neem as dit aan jou behoort nie. Ek kan nie 'n brand-offer bring as ek nie daarvoor betaal het nie.”
25Dawid het toe vir Ornan 600 sikkels goud betaal vir die plek. 26Dawid het daar 'n altaar vir die Here gebou en hy het brand-offers en ete-offers gebring. Hy het tot die Here gebid, en die Here het hom geantwoord. Die Here het uit die hemel vuur gestuur op die brandoffer-altaar. 27Die Here het met die engel gepraat, en die engel het sy swaard teruggesit in sy leersak. 28Toe Dawid sien dat die Here hom geantwoord het by die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet, het Dawid daar ge-offer. 29Die tempel-tent van die Here wat Moses in die woestyn laat maak het en die brandoffer-altaar was in daardie tyd nog op die offer-plek by die stad Gibeon. 30Maar Dawid kon nie daar by die tempel-tent gaan vra wat God wil hê hy moet doen nie, want hy was bang vir die Engel van die Here en vir sy swaard.