1Hulle het die kis van God gebring en hulle het dit neergesit in die tent wat Dawid laat opslaan het om die kis in te sit. Daarna het hulle brand-offers en ete-offers vir God gebring. 2Nadat Dawid die brand-offers en die ete-offers ge-offer het, het hy vir die volk gesê dat die Here hulle sal seën. 3Hy het vir elke Israeliet 'n broodjie en dadels en rosyntjies gegee, hy het dit vir elke man en vrou gegee. 4Hy het ook party Leviete gekies en aangestel om by die kis van die Here te werk. Hulle werk was om vir die Here, die God van Israel, te sing en dankie te sê en om Hom te prys. 5Asaf was die hoof van hierdie Leviete, en die onder-hoof was Sagaria. Jeïel, Semiramot, Jegiël, Mattitja, Eliab, Benaja, Obed-Edom en Jeïel het die harpe en liere gespeel, en Asaf het die simbale geslaan. 6Die priesters Benaja en Jagasiël moes aanhou om trompette te blaas voor die verbondskis van God.
Die lied “Julle moet vir die Here dankie sê”
7Daardie dag het Dawid die eerste maal vir Asaf en sy familie gesê hulle moet 'n lied sing vir die Here. Die lied se naam was: “Julle moet vir die Here dankie sê.” 8Die woorde van die lied is:
“Julle moet vir die Here
dankie sê,
julle moet sy Naam sê,
julle moet vir al die volke vertel
wat Hy gedoen het.
9Julle moet sing vir Hom,
julle moet musiek maak vir Hom,
julle moet dink oor
al sy wonderwerke.
10Julle moet Hom prys,
Hy is heilig.
Almal wat die Here dien,
moet wys dat hulle bly is.
11Julle moet die Here kom dien,
Hy is sterk,
julle moet altyd naby Hom
wil bly.
12Julle moet dink
aan sy wonderwerke
wat Hy gedoen het,
julle moet dink aan sy tekens
toe Hy sy vyande gestraf het.
13Julle is die nageslag
van Israel, sy dienaar,
die nageslag van Jakob
wat Hy gekies het.
14Hy is ons God die Here,
Hy oordeel al die mense.
15Hy het altyd sy verbond
onthou,
Hy het dit belowe
vir 1 000 geslagte.
16Hy het hierdie verbond gemaak
met Abraham,
Hy het dit vir Isak belowe,
17Hy het vir Jakob gesê
die verbond sal nie
verander nie,
dit is 'n verbond
met die volk Israel,
'n verbond wat vir altyd sal wees.
18Die Here het gesê:
‘Ek gee vir jou die land Kanaän,
dit moet altyd aan julle behoort.’
19Hulle was min mense,
net 'n paar mense,
en hulle was vreemdelinge
in die land.
20Hulle het rondgetrek
van een volk na 'n ander volk,
van een land na 'n ander land.
21Die Here het gesê
niemand mag sy mense
verdruk nie,
Hy het konings gestraf
omdat hulle sy volk
verdruk het.
22Hy het gesê:
‘Julle moet niks sleg doen
aan die mense
wat Ek gesalf het nie,
julle moenie slegte dinge doen
aan my profete nie.’
23Julle moet vir die Here sing,
al die mense op die aarde
moet dit doen.
Julle moet elke dag
die goeie nuus bring
dat die Here mense red.
24Julle moet vir die volke vertel,
vir al die volke,
julle moet vertel
dat die Here Koning is
en dat Hy wonderwerke doen.
25Want die Here is groot,
mense moet Hom baie prys,
hulle moet vir Hóm bang wees,
nie vir al die afgode nie.
26Want al die gode
van die volke beteken niks,
maar dit is die Here
wat die hemel gemaak het.
27Almal wat Hom dien,
weet dat Hy Koning is,
almal in sy woonplek is bly,
hulle weet dat Hy
die sterk Koning is.
28“Julle almal, al die volke,
julle moet die Here prys,
julle moet Hom prys,
want Hy is Koning,
Hy is sterk.
29Julle moet die Naam
van die Here prys,
julle moet presente bring
en na Hom toe kom,
julle moet buig voor die Here,
die heilige Koning.
30Al die mense op die aarde,
julle moet bang wees vir Hom
en bewe.
Hy laat die aarde vas staan,
dit skud nie.
31Die hemel moet bly wees,
die aarde moet juig,
hulle moet vir die volke sê:
‘Die Here is Koning.’
32Die see en alles in die see
moet raas en dreun,
die veld en alles in die veld
moet juig en skree.
33Dan sal al die bome
in die bos sing
vir die Here,
want Hy kom
om te regeer oor die aarde.
34Julle moet vir die Here
dankie sê,
want Hy is goed,
ja, Hy doen altyd wat Hy
belowe het.
35“Julle moet sê: ‘O God wat ons
altyd red,
U moet ons red
en ons bymekaarmaak en ons
vrymaak van die volke,
sodat ons u heilige Naam
kan sê en vir U dankie
kan sê,
sodat ons dit sal geniet
om U te prys.’
36Almal moet die Here,
die God van Israel, prys,
hulle moet Hom altyd
en altyd prys.
En die hele volk moet sê:
‘Amen’
en hulle moet die Here prys.”
37Dawid het vir Asaf en die ander Leviete daar voor die verbondskis van die Here laat bly. Hulle moes aanhou om die werk by die kis te doen, die werk wat elke dag nodig was. 38Obed-Edom en 68 van sy familielede moes help. Obed-Edom seun van Jedutun en Gosa was poortwagte. 39Die priester Sadok en die priesters van sy familie moes werk by die tent van die Here by die offer-plek wat in die stad Gibeon was. 40Hulle moes aanhou om elke oggend en elke aand brand-offers op die altaar te bring, hulle moes dit doen soos dit geskryf is in die wette van die Here wat Hy vir die Israeliete gegee het. 41Saam met hulle was Heman en Jedutun en die ander Leviete, Dawid het hulle gekies en aangestel om vir die Here dankie te sê. Hulle het gesing en gesê: “Ja, Hy doen altyd wat Hy belowe het.” 42Heman en Jedutun het trompette en simbale en ander musiek-instrumente by hulle gehad om musiek te maak wanneer hulle hierdie lied vir God gesing het. Jedutun se seuns was by die poort.
43Al die mense het toe huis toe gegaan, en Dawid het teruggegaan om sy huisgesin te groet.