Jerusalem is soos 'n weduwee wat aanhou huil
1Hoekom het dit gebeur?
Kyk hoe leeg is die stad,
die stad waar baie mense
gewoon het.
Die stad het geword soos
'n weduwee.
Die mense van die wêreld
het almal gedink
dit is 'n groot en belangrike stad.
Maar die mense van die stad
moet nou vir ander volke werk.
2Hulle huil die hele nag lank,
hulle trane vloei oor hulle wange.
Daar is niemand wat die stad nou wil help nie,
nie een van almal wat lief was vir haar nie.
Haar vriende het ontrou geword,
hulle het haar vyande geword.
3Die mense van Juda het gevangenes geword
wat swaarkry en hard moet werk.
Hulle woon tussen die volke
en hulle kry nie 'n plek waar hulle kan rus nie.
Al die vyande wat vir hulle gejaag het,
het vir hulle gevang, hulle kon nie vlug nie.
4Daar is niemand op die paaie na Sion nie,
niemand kom om daar fees te vier nie,
daar is nie mense in die poorte nie.
Die priesters kla en sug,
die jongmeisies huil en treur,
dit gaan sleg met almal in die stad.
5Die vyande van Jerusalem regeer nou,
en dit gaan goed met hulle.
Dit gebeur omdat die Here
die mense van die stad straf
oor hulle baie sondes.
Hulle moes weggaan,
hulle het gevangenes geword,
hulle vyande het hulle gejaag.
6Al die belangrike mense van die stad
moes weggaan.
Die amptenare het geword soos takbokke
wat nie gras kry om te vreet nie.
Hulle het nie krag gehad om te veg
teen die mense wat hulle jaag nie.
7Jerusalem is soos 'n weduwee
wat dink hoe sleg
dit met haar gaan.
Sy dink daaraan dat sy nie meer
'n woonplek het nie,
en sy onthou al die mooi goed
wat sy gehad het.
En dan dink sy hoe die vyande
haar mense oorwin het,
en dat daar niemand was
wat gehelp het nie.
Ander vyande het gestaan en kyk,
hulle het gelag toe die stad verwoes is.
8Die mense van Jerusalem het sonde gedoen,
baie sonde.
Dit is hoekom die stad geword het
soos 'n vuil, kaal vrou.
Mense het haar voorheen gerespekteer,
maar hulle spot en verneder haar nou,
want hulle sien sy is kaal.
En wat doen sy?
Sy sug en draai weg.
9Haar klere het onrein geword,
sy het nie gedink aan wat met haar kan gebeur nie.
Niemand het geglo dat dit so sleg met haar sal gaan nie.
Niemand het haar gehelp nie.
Jerusalem het geskree:
“Here, kyk hoe sleg gaan dit met my,
want die vyande doen wat hulle wil.
10Hulle het al my mooi goed vir hulleself gevat.
Ek het gesien heidene kom in die tempel.
Maar, Here, U het gesê heidene mag nie
in u gemeente kom nie.
11Al die mense van die stad het gekla en gesug
terwyl hulle loop en kos soek.
Hulle het kosbare goed gegee om kos te kry,
want hulle was honger.”
Jerusalem skree: “Here, U moet kyk
en sien hoe hulle my verneder.
12Julle almal wat hier op die pad verbygaan,
wil julle my nie help nie?
Julle moet kyk of daar ander stede is
met wie dit so sleg gaan
soos die Here dit met my laat gaan.
Het die Here met ander stede gedoen
soos Hy met my gedoen het
toe Hy vir my kwaad geword het?
13Hy het vuur van bo gestuur in my liggaam in,
en dit het in my gebrand.
Hy het 'n vangnet neergesit
om my voete te vang.
Hy het my op my rug laat val,
en my alleen gelos
en my siek laat word,
elke dag.
14Die Here het my sondes bymekaargesit.
Hy het dit gevat en Hy het daarvan 'n juk gemaak,
Hy het dit op my nek gesit.
Ek het nie meer krag gehad nie.
Die Here het my vyande laat wen teen my,
ek kon niks doen teen hulle nie.
15Die Here het al my sterk manne verneder,
almal wat kon veg.
Die vyande het dit geniet
om my manne te oorwin.
Die Here het op die volk Juda getrap
soos 'n mens druiwe trap in 'n parskuip.
16Ek huil oor hierdie dinge,
daarom vloei die trane soos water
uit my oë,
want daar was niemand naby
wat my kon help nie,
niemand wat dit met my beter
kon laat gaan nie.
My mense is verwoes,
want die vyande was te sterk vir hulle.”
17Sion steek haar hande uit
en vra iemand moet help,
maar niemand help haar nie.
Die Here het van al die kante
vyande na Jakob toe gestuur.
Jerusalem was soos 'n vuil stuk lap
tussen hulle.
18Jerusalem het geskree:
“Die Here het reg gedoen,
want ek was opstandig teen Hom.
Volke, julle almal moet luister,
julle moet kyk hoe sleg gaan dit met my.
My jongmeisies en my jongmanne
moes weggaan, hulle is gevangenes.
19Ek het die mense geroep
wat lief was vir my,
maar hulle het my verraai.
My priesters en my leiers het gesterf
terwyl hulle kos in die stad gesoek het,
want hulle was honger.
20Here, U moet kyk,
want ek kry baie swaar.
Dit pyn binne-in my,
my hart kan nie rus nie,
want ek was baie opstandig teen U.
My mense sterf in die oorlog
op die strate,
en in die huise sterf die mense.
21Al my vyande het gehoor
hoe ek kla en sug,
niemand het my gehelp nie.
Toe my vyande hoor dit gaan sleg met my,
het hulle gejuig omdat dit U was
wat dit met my gedoen het.
U het gesê dit sal eendag gebeur
en U moet dit nóú laat gebeur,
U moet my vyande straf soos U
my gestraf het.
22U moet die slegte dinge onthou
wat hulle gedoen het,
en U moet met hulle doen soos U
met my gedoen het
omdat ek opstandig was teen U.
Want ek kan nie ophou kla en sug nie,
my hart het swak geword.”