Job sê hy sal aanhou sê dat hy onskuldig is
1Job het weer begin praat. Hy het gesê:
2“God het nie reg gedoen aan my nie,
die Allerhoogste God het my laat swaarkry,
Hy het my lewe bitter gemaak.
Maar so seker soos God lewe,
3-4ek sal niks sê wat verkeerd is nie,
ek sal nie lieg nie,
so lank soos ek lewe,
so lank soos God vir my lewe gee.
5Ek sal nooit kan sê dat julle reg is nie,
ek sal aanhou sê dat ek onskuldig is,
so lank soos ek lewe.
6Ek sal aanhou sê dat ek reg gelewe het,
ek sal nie anders praat nie.
Ek sal nie jammer wees oor enige iets
wat ek in my lewe gedoen het nie.”
Job vra dat God sy vyande moet straf
7“Ek bid dat dit met my vyande sal gaan
soos met mense wat verkeerde dinge doen,
ek bid dat dit met die mense wat téén my is,
sal gaan soos met mense wat slegte dinge doen.
8Want die mens wat nie vir God wil dien nie,
kan nie hoop dat dit goed sal gaan
wanneer hy moet sterf nie,
hy kan niks hoop wanneer God hom
laat sterf nie.
9God sal nie luister
wanneer dit sleg begin gaan
met daardie mens,
en wanneer hy skree en vra
dat God hom moet red nie.
10Die mens wat nie vir God wil dien nie,
hou nie van die Almagtige nie
en hy bid nooit tot Hom nie.”
Job sê hy wil vir die vriende leer
11“Ek wil vir julle leer wat God kan doen,
ek wil vir julle reguit sê wat Hy besluit het.
12Julle weet dit, julle almal het dit self gesien.
Daarom, hoekom hou julle aan om nonsens te praat?”
Job sê hoe God die slegte mense straf
13“Ek sal vir julle sê wat God besluit het,
ek sal vir julle sê wat sal gebeur
met die mense wat verkeerd doen.
Dit is wat die Almagtige sal doen
aan die mense wat altyd
vir ander mense wil seermaak
en doodmaak:
14Hulle sal miskien baie seuns kry,
maar die seuns sal nooit genoeg kos hê
om te eet nie en hulle sal in oorlog sterf.
15As daar dan nog seuns lewe,
dan sal hulle sterf van pes,
en hulle weduwees sal nie rou oor hulle nie.
16Die mens wat verkeerd lewe,
sal miskien baie silwer bymekaarmaak,
so baie soos stof.
Hy sal miskien baie hope klere hê,
so baie soos klei.
17Maar die mense wat reg lewe,
sal daardie klere dra.
Mense wat nie verkeerd gedoen het nie,
sal die silwer tussen hulle verdeel.
18Die mens wat verkeerd doen
se huis kan hom nie beskerm nie.
Hy is soos 'n wurmpie in sy nes,
of soos 'n wag
in 'n huisie van takke,
sy huis kan hom nie beskerm nie.
19Hy is 'n ryk man wanneer hy gaan slaap,
maar wanneer hy sy oë oopmaak,
dan is alles weg, hy is nie meer ryk
wanneer hy weer gaan slaap nie.
20Hy word skielik baie bang,
so bang soos wanneer water oor hom spoel,
die stormwind waai hom weg in die nag.
21Die oostewind waai hom uit sy huis
en hy is weg.
22Die wind is nie jammer vir hom nie,
hy probeer vlug, maar die wind waai hom weg.
23Die wind is bly oor wat met hom gebeur,
dit blaas hom weg uit sy plek.”