1Ek is naby die dood,
my lewe is verby,
die graf wag vir my.
2Ja, almal spot my,
ek sien dat almal téén my is.”
Job sê God moet borg staan vir hom
3“God, U moet asseblief
borg staan vir my,
niemand anders sal dit doen nie.
4U keer sodat my vriende
nie kan verstaan nie,
daarom moet U hulle nie laat wen nie.
5As iemand sy vriende verraai,
dan sal sy kinders swaarkry.”
Job sê hy kry baie swaar
6“Mense gebruik my naam
wanneer hulle mekaar wil verneder,
hulle spoeg in my gesig.
7Ek kry so swaar dat ek amper
nie meer kan sien nie,
my liggaam is soos 'n skaduwee.
8Eerlike mense skrik wanneer hulle
my sien,
onskuldige mense word opstandig
teen mense wat nie vir God wil dien nie.
9Die mense wat reg lewe,
hou aan om reg te lewe,
mense wat goed doen,
word altyd sterker.
10Julle kan almal weer probeer
om die regte dinge te sê,
maar ek sal nie wysheid kry by julle nie.”
Job sê niemand kan vir hom help om te hoop nie
11“My lewe het verbygegaan,
ek kan nie meer die dinge doen
wat ek graag wou doen nie.
12My vriende dink my nag is dag,
hulle dink die lig is naby
wanneer dit vir my donker is.
13Ek kan sê dat ek in die doderyk wil woon,
ek kan daar in die donker 'n plek kry om te lê,
14ek kan vir die graf sê: ‘Jy is my pa,’
ek kan vir die wurms sê: ‘Julle is my ma en my susters,’
15maar dan kan ek niks meer hoop nie,
en niemand kan vir my help
om weer te hoop nie.
16Alles wat ek gehoop het,
gaan dan saam
met my in die doderyk in,
en ons lê daar saam in die stof.”