1U moet die hemel oopskeur en afkom,
sodat die berge voor U bewe.
2U moet kom soos 'n vuur
wat hout aan die brand steek,
'n vuur wat water laat kook.
Dan sal u vyande u Naam ken
en die volke sal voor U bewe.
3Lank gelede het U wonderwerke gedoen,
ons het nie gedink U sal dit doen nie.
U het afgekom,
en die berge het gebewe.
4Ons het nooit voorheen van so iets
gehoor nie,
niemand het 'n ander god gesien
wat hierdie dinge doen
vir die mense wat in hom glo nie.
5U help graag die mense
wat doen wat reg is,
en wat bly is daaroor,
die mense wat onthou
hoe U wil hê hulle moet lewe.
Maar U het kwaad geword
toe ons sonde gedoen het.
Sal U ons weer red?
6Ons almal het soos onrein mense geword,
alles wat ons reg probeer doen,
is nog soos vuil klere.
Ons almal is soos blare
wat droog is en verlep het
en ons sondes is soos 'n wind
wat ons wegwaai.
7Niemand het U aanbid nie,
niemand het probeer
om vas te hou aan U nie.
Daarom het U weggekyk van ons,
U het ons laat wegsmelt
omdat ons sonde gedoen het.
8Maar, Here, U is ons Vader.
Ons is die klei,
en U is die Pottebakker.
U het ons almal gemaak.
9Here, U moenie aanhou om
vir ons kwaad te wees nie,
U moenie altyd
aan ons sondes dink nie.
Kyk asseblief na ons,
onthou ons almal is u mense.
10U gewyde stede het 'n woestyn geword,
Sion het 'n woestyn geword,
daar is nie mense in Jerusalem nie.
11Ons gewyde, pragtige tempel het verbrand,
die plek waar ons voorvaders U geprys het.
Al ons mooi huise het hope klippe geword.
12Here, U sien hierdie dinge,
wil U niks doen om ons te help nie?
Wil U altyd net stilbly
en ons laat swaarkry?