Melgisedek was belangriker as die Levi-priesters
1Hierdie man Melgisedek was koning van die stad Salem. Hy was 'n priester van die Hoogste God. Melgisedek het vir Abraham ontmoet toe Abraham teruggekom het nadat hy die konings oorwin het. En Melgisedek het vir Abraham geseën. 2Abraham het ook vir Melgisedek een tiende gegee van alles wat hy teruggebring het. Melgisedek se naam beteken “die koning wat dinge doen wat reg is.” Die naam Melgisedek kan ook beteken “koning van Salem.” Omdat Salem “vrede” beteken, beteken sy naam daarom ook “die koning wat vrede maak.” 3Ons lees nie van Melgisedek se pa of ma nie, daar is ook nie 'n lys van die name van Melgisedek se voorouers nie, ons lees ook nie van die begin of van die einde van sy lewe nie. Hy is soos die Seun van God en hy bly vir altyd 'n priester.
4Julle moet goed verstaan hoe belangrik hierdie Melgisedek was. Ons voorvader Abraham het een tiende van die beste van alles wat hy in die oorlog gevat het, vir Melgisedek gegee. 5Die Wette van Moses sê dat die mense wat van die nageslag van Levi is, priesters mag wees, en hulle mag tiendes neem van die volk. Die volk is die Leviete se broers en die volk is die nageslag van Abraham, maar die Leviete kon tiendes neem van die volk. 6Maar Melgisedek was nie een van die Levi-priesters nie, en hy het 'n tiende van Abraham geneem. God het vir Abraham goeie dinge belowe, en Melgisedek het vir Abraham geseën. 7Almal weet dat 'n mens wat belangrik is, die minder belangrike mens seën. 8Die Levi-priesters ontvang tiendes en hulle is mense wat sal sterf. Maar Melgisedek ontvang ook tiendes, en die Ou Testament sê dat hy aangehou het om te lewe. 9'n Mens kan miskien sê die nageslag van Levi wat tiendes ontvang, het ook vir Melgisedek tiendes gegee toe Abraham vir Melgisedek ontmoet het en vir hom 'n tiende gegee het. 10Want Levi was toe nog in sy voorvader Abraham se liggaam toe Melgisedek vir Abraham ontmoet het.
Jesus is vir altyd 'n priester soos Melgisedek
11Die volk het die Wette van Moses ontvang om vir hulle te vertel van die werk van die priesters van die nageslag van Levi. As dit waar is dat hierdie priesters van die nageslag van Levi hulle werk heeltemal klaar gedoen het, hoekom moes daar 'n ander priester kom? Hoekom moes hy 'n priester wees wat soos Melgisedek is en nie soos Aäron nie? 12Want wanneer ander mense priesters word, dan moet die wet ook verander. 13Want die Ou Testament het hierdie belofte oor hierdie ander priester gemaak, en hy was van 'n ander stam. Niemand van hierdie stam was 'n priester by die altaar nie. 14Want almal weet dat ons Here van die Juda-stam kom. Moses het niks gesê oor priesters in die Juda-stam nie. 15En wanneer daar 'n ander priester kom wat soos Melgisedek is, dan is dit nog meer duidelik 16dat hy nie 'n priester geword het soos die wette en reëls oor mense se afstammelinge sê nie. Nee, Hy het 'n priester geword omdat Hy nie kon sterf nie. 17Want in die Ou Testament is geskryf:
Jy self sal altyd 'n priester wees,
soos Melgisedek 'n priester was.
18Daar is nie meer priesters nie, want die wette wat voorheen daar was oor priesters, was swak en dit het nie vir die mense gehelp nie. 19Ja, die wet het niks heeltemal reg gemaak soos dit moes wees nie. Maar nou gee God vir ons iets, en ons is baie seker daarvan. Daarom kan ons nou nader kom na God toe.
20Jesus het 'n priester geword omdat God dit vir Hom belowe het. Die Levi-priesters het priesters geword, maar God het dit nie vir hulle belowe nie. 21Maar Jesus het 'n priester geword omdat God dit vir Hom belowe het, en God was self die getuie. Hy het gesê:
Die Here het belowe,
en dit sal so wees:
Jy self sal altyd 'n priester wees.
22God het dit vir Jesus belowe, daarom het Jesus die Een geword wat borg staan vir 'n beter verbond. 23Die ou verbond en die nuwe verbond is nie dieselfde nie: Priesters het gesterf, en daar het altyd ander priesters in hulle plek gekom. Daarom was daar baie priesters in die ou verbond. 24Maar Jesus lewe vir altyd, daarom hou Hy aan om 'n priester te wees. 25Daarom kan Jesus ook die mense heeltemal red, die mense wat Hy na God toe gelei het. Jesus kan dit doen omdat Hy vir altyd lewe om vir God te vra om hulle te help.
26Ons Hoëpriester moes só wees: Hy moes aan God gewy wees, Hy moes onskuldig en rein wees, Hy moes nie saam met sondaars gelewe het nie, Hy moes 'n plek kry bokant die hemel by God. 27Die hoëpriesters wat Leviete was, moes elke dag eers vir hulle eie sondes offers bring en daarna moes hulle vir die volk offers bring. Maar ons Hoëpriester moet dit nie doen nie, want Hy het Homself ge-offer, Hy het dit een maal en vir altyd gedoen en Hy bring nie weer offers nie. 28Want die Wette van Moses kies swak mense om hoëpriesters te wees. Maar God se belofte het ná die wet gekom, sy belofte kies die Seun van God om Hoëpriester te wees, en die Seun het die werk vir altyd klaar gedoen, die werk wat 'n Hoëpriester moet doen.