Jakob gaan terug na die land Kanaän
1Jakob het gehoor dat Laban se seuns sê: “Jakob het alles gevat wat aan ons pa behoort het. Hy het ryk geword van ons pa se goed.”
2Jakob het ook gesien dat Laban nie meer so vriendelik met hom was soos voorheen nie. 3Die Here het vir Jakob gesê: “Gaan terug na die land waar jy gebore is en na jou familie toe. Ek sal by jou wees.”
4Jakob het toe vir Ragel en Lea laat roep na die veld waar hy by sy skape en bokke was. 5En hy het vir hulle gesê: “Ek sien julle pa is nie meer so vriendelik met my soos voorheen nie, maar die God van my pa was by my. 6Julle weet dat ek baie hard gewerk het vir julle pa, 7maar julle pa het my bedrieg en hy het elke maal my betaling verander, tien maal. Maar God het my beskerm teen sy skelm planne. 8Toe julle pa sê dat die skape en bokke met kolle my betaling sal wees, toe kry al die skape en bokke lammers met kolle. En toe hy sê dat die skape en bokke met strepe my betaling sal wees, toe kry die skape en bokke gestreepte lammers. 9So het die Here julle pa se diere weggevat en vir my gegee. 10In die tyd toe die skape en bokke gepaar het, het ek gedroom en gesien al die bok-ramme wat die ooie dek, het strepe of kolle. 11Ek het gedroom die Engel van God sê vir my: ‘Jakob!’ en ek het geantwoord: ‘Hier is ek!’ 12Toe sê Hy: ‘Jy moet goed kyk: Al die bok-ramme wat met die ooie paar, het strepe of kolle. Ek het alles gesien wat Laban aan jou gedoen het. 13Ek is die God wat by Bet-El aan jou verskyn het. Jy het daar olyf-olie op die gedenksteen gegooi toe jy belowe het om My te dien. Maak nou gereed en trek weg uit hierdie land. Gaan terug na die land waar jy gebore is.’ ”
14Ragel en Lea sê toe vir Jakob: “Ons sal niks van ons pa erf nie. 15Hy doen met ons soos hy doen met mense van ander volke. Hy het ons lank gelede aan jou verkoop en hy het die geld opgebruik. 16Al die goed wat God van ons pa weggevat het, behoort aan ons en aan ons kinders. Jy moet nou doen wat God vir jou gesê het.”
17Jakob het toe gegaan. Hy het sy kinders en sy vroue op kamele laat klim 18en hy het al sy diere saamgeneem, ook al sy goed wat hy in Paddan-Aram bymekaargemaak het. Hy het na Kanaän gegaan, na sy pa Isak toe.
Laban se beeldjies
19Laban het sy skape en bokke gaan skeer, en toe het Ragel die beeldjies van haar pa se afgode gesteel. 20Jakob het vir Laban bedrieg, want hy het nie vir Laban vertel dat hy wil vlug nie. 21Jakob het al sy goed geneem en gevlug. Hy het deur die Eufraat-rivier getrek en na die Gilead-berg gegaan.
22Drie dae later het Laban uitgevind dat Jakob gevlug het. 23Laban het die mans in sy familie saamgeneem en hulle het vir Jakob gevolg en gejaag. Ná sewe dae het hulle hom by die Gilead-berg gekry.
24Daardie nag het Laban gedroom dat God na hom toe kom en vir hom sê: “Jy moet pasop wat jy vir Jakob sê, dit maak nie saak of dit goed of sleg is nie.”
25Toe Laban by Jakob kom, het Jakob klaar sy tent by die Gilead-berg opgeslaan. Laban en sy manne het hulle tente ook daar opgeslaan. 26Laban sê toe vir Jakob: “Wat het jy gedoen? Jy het my bedrieg en jy het my dogters soos gevangenes weggevat. 27Hoekom het jy soos 'n skelm gevlug en my bedrieg en niks gesê nie? Ek sou jou laat gaan het en ons sou vrolik gewees het.
“Ons sou gesing het en musiek gemaak het met tamboeryne en liere.
28“Jy het weggegaan, en ek kon nie my kleinseuns en my dogters groet nie. Jy het verkeerd gedoen. 29Ek kan jou straf as ek wil, maar die God van julle pa het gisteraand met my gepraat en gesê: ‘Jy moet pasop wat jy vir Jakob sê, dit maak nie saak of dit goed of sleg is nie.’ 30Dit is goed as jy weggaan omdat jy so baie verlang na jou pa se familie, maar hoekom het jy my beeldjies gesteel?”
31Jakob het vir Laban gesê: “Ek het gevlug, want ek was bang en ek het gedink jy sal miskien jou dogters wegvat van my. 32As jy jou beeldjies hier by iemand kry, dan mag daardie persoon nie lewe nie. Jy mag self soek voor al jou mense wat hier is en jy mag die beeldjies terugvat.”
Jakob het nie geweet dat Ragel die beeldjies gesteel het nie. 33Laban het toe gesoek in Jakob se tent en in Lea se tent en in die twee slavinne se tente, maar hy het niks gekry nie. Hy gaan toe uit Lea se tent na Ragel se tent. 34Ragel het die beeldjies in 'n sak weggesteek en sy het bo-op die sak gaan sit. Laban het oral in al die tente gesoek, maar hy het niks gekry nie.
35Ragel het vir haar pa gesê: “Pa moenie kwaad word vir my as ek nie vir Pa opstaan nie. Ek menstrueer.”
Laban het verder gesoek, maar hy het niks gekry nie.
Jakob en Laban maak 'n ooreenkoms
36Toe het Jakob kwaad geword en hy het hard met Laban gepraat. Hy het vir Laban gevra: “Wat het ek verkeerd gedoen? Watter sonde het ek gedoen? Hoekom het jy my gevolg en gejaag? 37Jy het in al my goed gesoek. Het jy iets gekry wat uit jou huis kom? As jy iets gekry het, sit dit dan hier neer voor my familie en jou familie, sodat hulle kan sê wie was reg, ek of jy. 38Ek was 20 jaar lank by jou. Jou skaap-ooie en jou bok-ooie het gereeld lammers gekry, en ek het nie jou ramme geslag om te eet nie. 39Wanneer die roofdiere 'n dier van jou doodgebyt het, dan het ek nie die dooie dier vir jou gebring nie. Ek moes een van my diere in sy plek gee. Wanneer diewe in die dag of in die nag van jou diere gesteel het, dan moes ek een van mý diere gee vir elkeen van daardie diere. 40Ek het baie swaar gekry. In die dag het die son my gebrand en in die nag het ek baie koud gekry. Ek kon nie slaap nie. 41Ek het nou 20 jaar vir jou gewerk. Ek het 14 jaar lank gewerk om jou twee dogters te kry, en ses jaar om skape en bokke van jou te kry. Jy het my betaling tien maal verander. 42As die God van my pa my nie gehelp het nie, dan sou jy my weggestuur het en jy sou niks vir my gegee het nie. Die God van Abraham en die God wat vir Isak beskerm het, het gesien dat ek swaarkry. Hy het gesien hoe hard ek gewerk het, en Hy het gisteraand gesê wie is reg, ek of jy.”
43Toe sê Laban vir Jakob: “Hierdie dogters is my dogters en hierdie kinders is my kinders en hierdie skape en bokke is my skape en bokke. Alles wat jy sien, is myne. Ek mag nie aan my dogters of hulle kinders iets doen wat sleg is nie. 44Kom ons twee maak 'n ooreenkoms wat sê wat ons aan mekaar moet doen.”
45Jakob neem toe 'n klip en hy sit dit regop sodat dit 'n gedenksteen kan wees wat hulle sal help om die ooreenkoms te onthou. 46Jakob sê toe vir sy familie: “Bring nog klippe.”
Hulle het 'n hoop klippe opmekaar gepak. Toe het hulle daar by die hoop klippe geëet. 47Laban het die plek Jegar-Sahaduta genoem en Jakob het dit Galed genoem. 48Toe sê Laban: “Hierdie hoop klippe wys vandag dat ons saam besluit het om reg te doen aan mekaar.”
Daarom het hulle dit Galed genoem. 49Laban het die plek ook Mispa genoem. Hy het gesê: “Die Here sal kyk dat dit reg gaan tussen ons, ook wanneer ons mekaar nie sien nie. 50God sal weet wanneer jy slegte dinge doen aan my dogters of wanneer jy met ander vroue trou, ook wanneer daar niemand anders by ons is nie.”
51Laban het vir Jakob gesê: “Hier is die hoop klippe en hier is die gedenksteen wat ek regop gesit het. 52Hierdie hoop klippe en die gedenksteen is die tekens dat ons nie slegte planne sal hê wanneer ons hier verbygaan na mekaar toe nie. 53Die God van jou voorvader Abraham en die God van my voorvader Nahor sal altyd sê wie is reg, ek of jy.”
Jakob het toe gesê die God wat sy pa Isak beskerm het, is die getuie van die ooreenkoms. 54Jakob het op die berg 'n offer gebring vir die Here. Hy het sy familie geroep om saam te kom eet. Hulle het geëet en hulle het daardie nag op die berg geslaap.
55Die volgende oggend vroeg het Laban sy kleinseuns en sy dogters gegroet en geseën. Toe het hy teruggegaan huis toe.