Bilha se seuns
1Ragel kon nie kinders kry vir Jakob nie, en sy het jaloers geword op haar suster Lea. Ragel sê toe vir Jakob: “Gee vir my kinders, anders sterf ek.”
2Toe word Jakob kwaad vir Ragel en hy sê: “Ek is nie God nie. Dit is Hy wat wil hê jy moenie kinders kry nie.”
3Ragel sê toe vir Jakob: “Neem my slavin Bilha en gaan slaap by haar. Die kind wat sy dan kry, sal myne wees. So kan my nageslag uit haar kom.”
4Sy gee toe haar slavin Bilha vir Jakob, en hy het seks gehad met Bilha. 5Bilha het swanger geword en sy het 'n seun gekry vir Jakob. 6Toe sê Ragel: “God het reg gedoen aan my. Hy het geluister na my gebed en Hy het vir my 'n seun gegee.”
Sy het hom Dan genoem.
7Ragel se slavin Bilha het weer swanger geword en sy het nog 'n seun vir Jakob gekry. 8Toe sê Ragel: “Ek en my suster wou altwee wen, maar ek het haar gewen.”
Daarom het sy haar seun Naftali genoem.
Silpa se seuns
9Lea kon nie meer kinders kry nie. Sy neem toe haar slavin Silpa en sy gee haar vir Jakob om sy vrou te wees. 10Lea se slavin Silpa het 'n seun gekry vir Jakob, 11en Lea het gesê: “Ek is gelukkig.”
Daarom het sy hom Gad genoem.
12Toe kry Lea se slavin nog 'n seun vir Jakob, 13en Lea sê: “Ek is gelukkig. Die vroue sal sê ek is baie gelukkig.”
Daarom het sy haar seun Aser genoem.
Lea kry nog twee seuns en 'n dogter
14Dit was die tyd om koring af te sny. Ruben het liefdes-appels in die veld gekry en hy het dit vir sy ma Lea gebring. Toe sê Ragel vir Lea: “Gee asseblief vir my van jou seun se liefdes-appels.”
15Maar Lea het haar geantwoord: “Jy het al klaar my man gevat. Nou wil jy ook my seun se liefdes-appels vat!”
Toe sê Ragel: “As jy vir my van jou seun se liefdes-appels gee, dan mag Jakob vannag by jou slaap.”
16Toe Jakob daardie aand uit die veld kom, het Lea na hom toe gegaan en vir hom gesê: “Jy moet vanaand by my kom slaap, want ek het daarvoor betaal met my seun se liefdes-appels.”
Jakob het toe daardie nag seks gehad met Lea. 17Die Here het geluister na Lea se gebed, en sy het weer swanger geword. Sy het 'n vyfde seun vir Jakob gekry. 18Toe sê Lea: “God was goed vir my. Hy het my beloon omdat ek my slavin vir my man gegee het om 'n kind te kry.”
Sy het die seun Issaskar genoem.
19Lea het weer swanger geword en sy het 'n sesde seun vir Jakob gekry. 20Toe sê Lea: “God het vir my 'n groot present gegee. Nou sal my man by my bly en hy sal onthou dat ek sy vrou is, want ek en hy het ses seuns gekry.”
Sy het haar seun toe Sebulon genoem.
21Lea het daarna 'n dogter gekry en sy het haar Dina genoem.
Ragel kry 'n seun
22Die Here het aan Ragel gedink en Hy het geluister na haar gebed. 23Sy het swanger geword en sy het 'n seun gekry. Sy sê toe: “God het my gehelp en ek is nie meer skaam nie.”
24Sy het hom Josef genoem en gesê: “Ek bid dat die Here nog 'n seun vir my sal gee.”
Jakob word baie ryk
25Nadat Josef gebore is, het Jakob vir Laban gesê: “Laat my nou gaan na my eie plek en na my eie land. 26Gee my vroue en my kinders en laat my gaan. Jy weet ek het vir jou gewerk om hulle te kry.”
27Maar Laban sê vir hom: “Ek sal dankbaar wees as jy by my bly. Ek het gesien dat die Here my seën omdat jy hier is. 28Jy moet sê hoeveel ek jou moet betaal, en ek sal dit vir jou gee.”
29Toe sê Jakob vir Laban: “Jy weet hoe hard ek vir jou gewerk het en hoe goed dit met jou beeste en skape gegaan het vandat ek hulle oppas. 30Jy het min skape gehad voor ek by jou begin werk het, maar hulle het baie meer geword. Die Here het jou geseën vandat ek hier gekom het. Maar wanneer kan ek vir my eie huis werk?”
31Toe vra Laban vir hom: “Wat moet ek vir jou gee?”
Jakob het vir hom gesê: “Jy moenie vir my betaal nie, niks nie. Ek sal weer jou skape oppas en na hulle kyk, maar daar is een ding wat jy vir my moet doen. 32Ek sal vandag tussen al jou skape en bokke deurloop. Ek sal al die bont skape en die skape wat kolle het, apart jaag, saam met al die swart skaap-ramme. Ook al die bont bok-ramme en die bok-ramme wat kolle het. Dit is wat jy vir my moet gee. 33Dan sal jy kan sien dat ek nie skelm is nie. Wanneer jy later kom kyk watter diere myne is, sal jy maklik kan sien: Al die bokke wat nie kolle het of bont is nie, en al die skaap-ramme wat nie swart is nie, is joune. As jy van daardie diere tussen my diere kry, dan het ek hulle van jou gesteel.”
34Toe sê Laban: “Goed. Ons sal doen soos jy gesê het.”
35Maar Laban het toe daardie dag gou al die bont bokke en die bokke met kolle apart gejaag. Hy het ook al die bokke wat wit dele gehad het, en al die swart skaap-ramme vir sy seuns gegee om op te pas. 36Hy het gesê hulle moet daardie diere wegvat van Jakob, so ver soos 'n mens in drie dae kan loop. Jakob moes Laban se ander skape en bokke oppas.
37Jakob het toe groen stokke geneem van populierbome, van amandelbome en van plataanbome, hy het dele van die bas afgeskil, sodat daar wit strepe op die stokke was. 38Hy het die stokke wat hy so afgeskil het, in die waterbakke van die skape en bokke gesit. Hy het die stokke so neergesit dat dit reg voor die skape en bokke was wanneer hulle water kom drink. 39Wanneer die skape en bokke daar by die stokke gepaar het, dan het hulle gestreepte of bont lammers gekry of lammers met kolle.
40Jakob het die skaap-ramme apart gehou en hy het die skape en bokke laat kyk na die bont skape en bokke van Laban en na die skape en bokke met kolle. So het Jakob 'n klomp skape en bokke vir homself gekry, maar Laban het niks gekry nie. 41Elke maal wanneer die sterk skape en bokke wou paar, dan het Jakob die stokke voor hulle in die waterbakke gesit sodat hulle net by die stokke kon paar. 42Maar as dit swak skape of bokke was, dan het hy nie die stokke in die waterbakke gesit nie. Toe het Laban al die swak lammers gekry, en Jakob het die sterk lammers gekry.
43So het Jakob baie ryk geword. Hy het baie skape, bokke, slavinne, slawe, kamele en donkies gekry.