Dawid gaan woon in Hebron en hy word koning oor die Juda-stam
1Daarna het Dawid vir die Here gevra: “Moet ek na een van die stede van Juda gaan?”
En die Here het vir hom gesê: “Ja, jy moet gaan.”
Toe vra Dawid: “Waarnatoe moet ek gaan?”
En die Here het gesê: “Na Hebron.”
2Dawid het toe na Hebron gegaan, en ook sy twee vroue, Aginoam van die stad Jisreël en Abigajil van die stad Karmel. Abigajil was Nabal se weduwee. 3Dawid het die manne wat by hom was, saam met hom geneem, en elkeen het sy huisgesin saamgeneem. Hulle het in die stede naby Hebron gaan woon. 4Die leiers van Juda het gekom en hulle het vir Dawid daar in Hebron gesalf om koning te wees van die Juda-stam.
Hulle het vir Dawid vertel dit is die manne van Jabes in Gilead wat vir Saul begrawe het.
5Dawid het toe boodskappers na die manne van Jabes in Gilead gestuur om vir hulle te sê: “Ek bid dat die Here dit goed sal laat gaan met julle, want julle het gedoen wat julle moes doen en julle het julle koning Saul begrawe. 6En nou bid ek dat die Here lief sal wees vir julle en dat Hy ook goed sal doen aan julle. Ek sal self ook goed wees vir julle omdat julle hierdie goeie ding gedoen het. 7Julle koning Saul is nou dood, nou moet julle sterk wees en gereed wees om oorlog te maak. Daar is nog iets: Die Juda-stam het vir my gesalf om hulle koning te wees.”
8Abner seun van Ner, die hoof van Saul se leër, het vir Is-Boset seun van Saul na die stad Maganajim geneem 9en hy het vir Is-Boset koning gemaak oor die mense van Gilead en Aser en Jisreël en Efraim en Benjamin. Is-Boset was toe koning oor die hele Israel. 10Is-Boset seun van Saul was 40 jaar oud toe hy koning oor Israel geword het en hy was twee jaar lank koning. Dawid was koning net van die Juda-stam. 11Hy was sewe jaar en ses maande in Hebron koning van die Juda-stam.
Die oorlog tussen die manne van Dawid en die manne van Is-Boset
12Abner seun van Ner en die manne van Is-Boset seun van Saul het van die stad Maganajim na die stad Gibeon gegaan. 13Joab seun van Seruja en die manne van Dawid het ook gegaan en hulle het vir Abner en sy manne by die Gibeon-dam gekry. Abner en die manne van Is-Boset het aan die een kant van die dam gaan sit, en Joab en die manne van Dawid het aan die ander kant van die dam gaan sit. 14Toe sê Abner vir Joab: “Kom ons laat die jongmanne eers speel, dan kyk ons.”
Joab het gesê: “Goed, hulle mag dit doen.”
15Toe het twaalf van die manne van Benjamin en Is-Boset en twaalf van die manne van Dawid opgestaan en hulle het vorentoe gekom. 16Elke jongman het die kop gegryp van die jongman wat voor hom was en hy het hom met sy swaard in die sy gesteek, en hulle het saam gesterf. Dit is hoekom hulle hierdie plek in Gibeon noem die “Swaard-veld.” 17Die oorlog het toe begin, en die manne het daardie dag hard geveg. Die manne van Dawid het vir Abner en die manne van Israel gewen. 18Daar was drie seuns van Seruja. Hulle was Joab en Abisai en Asael. Asael het so vinnig soos 'n gasel gehardloop. 19Hy het Abner gevolg en gejaag en hy het nie weggedraai nie. 20Abner het omgekyk en gevra: “Is dit jy, Asael?”
Asael het gesê: “Ja, dit is ek.”
21Toe sê Abner vir Asael: “Jy moet wegdraai en jy moet met een van die jongmanne veg, dan kan jy sy wapens en klere vir jouself vat.”
Maar Asael wou nie wegdraai agter Abner nie. 22Abner het weer gesê: “Jy moet wegdraai agter my. Ek wil jou nie doodmaak nie, want dan sal ek nie in jou broer Joab se oë kan kyk nie.”
23Maar Asael wou nie wegdraai nie, en Abner het hom toe met die agterkant van sy spies deur sy maag gesteek. Die spies het by Asael se rug uitgekom, en hy het daar geval en gesterf. Elkeen wat by die plek gekom het waar Asael geval en gesterf het, het gaan staan. 24Joab en Abisai het aangehou om vir Abner te jaag. Die son het ondergegaan toe hulle by die Elmboog-heuwel kom, naby die fontein langs die pad na die Gibeon-woestyn. 25Die Benjamin-manne het by Abner bymekaargekom en hulle het daar bo-op die heuwel saam gereedgestaan om te veg. 26Maar Abner het vir Joab geskree: “Moet ons aanhou om mekaar dood te maak? Jy moet dit weet: Alles sal slegter en slegter word as ons aanhou veg. Wanneer sal jy vir jou manne sê hulle moenie aanhou om hulle broers te jaag nie?”
27Joab het toe gesê: “As jy nie gepraat het nie, dan sou die manne aangehou het om hulle broers te jaag tot die oggend toe. Dit is so seker soos God lewe.”
28Joab het die ramshoring geblaas, en al die manne het gaan staan. Hulle het nie meer die Israel-manne gejaag en aangehou veg nie. 29Abner en sy manne het daardie hele nag deur die Jordaan-vallei geloop. Hulle het oor die rivier gegaan en hulle het die volgende middag by die stad Maganajim gekom. 30Nadat Joab opgehou het om vir Abner te jaag, het hy al die manne laat bymekaarkom. Negentien van Dawid se manne was nie daar nie, en Asael was ook nie daar nie. 31Maar Dawid se manne het 360 van Abner se manne doodgemaak. 32Hulle het Asael opgetel en hom begrawe in sy pa se graf in Betlehem. Joab en sy manne het die hele nag geloop en hulle het in Hebron gekom toe dit lig word.