2 Konings 24
1In die tyd toe Jojakim koning was, het Nebukadnesar koning van Babel die land aangeval, en Jojakim het drie jaar lank gedoen wat die koning van Babel gesê het. Maar daarna het hy opstandig geword. 2Die Here het groepe Galdeërs en Arameërs en Moabiete en Ammoniete gestuur om Juda aan te val. Die Here het dit gedoen omdat Hy Juda wou verwoes. Hy het voorheen sy dienaars die profete gestuur om te sê dit sal so gebeur. 3Die Here self het gesê wat in Juda moet gebeur, Hy wou hulle weggooi oor al die sonde wat Manasse gedoen het 4en oor die onskuldige mense wat Manasse in Jerusalem doodgemaak het. Manasse het so baie mense doodgemaak dat Jerusalem vol van hulle bloed was. Die Here wou nie hierdie sondes vergewe nie.
5Al die ander dinge wat Jojakim gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda. 6Jojakim het gesterf, en sy seun Jojagin het koning geword ná hom.
Jojagin, koning van Juda
7Die koning van Egipte kon nie weer uit sy land kom nie, want die koning van Babel het al die lande gevat wat aan die koning van Egipte behoort het, alles van Egipte-spruit tot by die Eufraat-rivier.
8Jojagin was 18 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was drie maande lank koning in Jerusalem. Sy ma was Negusta dogter van Elnatan, van Jerusalem. 9Jojagin het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hy het gedoen soos party van sy voorvaders. 10In die tyd toe Jojagin koning was, het die soldate van koning Nebukadnesar van Babel na Jerusalem gekom en hulle het die stad van al die kante aangeval. 11Nebukadnesar het self ook na die stad gekom terwyl sy soldate die stad aangeval het. 12Koning Jojagin van Juda het toe uitgegaan na die koning van Babel toe, hy en sy ma en sy offisiere en sy amptenare en sy paleisbediendes. Die koning van Babel was ag jaar lank koning toe hy vir Jojagin gevang het.
Die koning van Babel vat mense en goed weg uit Jerusalem
13Die koning van Babel het al die kosbare goed in die tempel en in die paleis gevat. Hy het al die goue goed stukkend laat slaan wat Salomo, koning van Israel, vir die tempel laat maak het. Dit het gebeur soos die Here gesê het. 14Die koning van Babel het al die mense van Jerusalem, al die amptenare en die belangrike mense, gevang en weggevat. Daar was 10 000 gevangenes. Al die ambagsmanne en smede was ook by die gevangenes. Die koning van Babel het niemand laat oorbly nie, hy het net die armste mense van die land laat bly. 15Hy het vir Jojagin gevang en weggevat na Babel, en ook die koning se ma en sy vroue en sy paleisbediendes, en die belangrikste mense van die land. 16Die koning van Babel het 7 000 van die rykste mense weggevat, en 1 000 ambagsmanne en smede. Hulle was belangrike manne en hulle kon almal oorlog maak. Hulle het gevangenes geword en die koning van Babel het hulle weggevat. 17Die koning van Babel het Jojagin se oom Mattanja koning gemaak en hy het Mattanja se naam verander, hy het hom die naam Sedekia gegee.
Sedekia, koning van Juda
18Sedekia was 21 jaar oud toe hy koning geword het en hy was elf jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Gamutal dogter van Jeremia, van die stad Libna. 19Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hy het gedoen soos Jojakim. 20Die Here was so kwaad vir die mense van Jerusalem en Juda dat Hy hulle wou weggooi.
Die koning van Babel oorwin Jerusalem
Sedekia het opstandig geword teen die koning van Babel,
Bybel vir dowes/almal © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007, 2008. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2012. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.