Joas sê hulle moet die tempel regmaak
1Joas was sewe jaar oud toe hy koning geword het, en hy was 40 jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma se naam was Sibja, sy het van die stad Berseba gekom. 2Terwyl die priester Jojada gelewe het, het Joas dinge gedoen waarvan die Here hou. 3Jojada het vir Joas twee vroue gekry, en Joas het seuns en dogters gehad. 4Later het Joas besluit om die tempel reg te maak. 5Hy het die priesters en die Leviete bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Julle moet na die stede van Juda gaan en julle moet geld kry van al die Israeliete sodat julle elke jaar die tempel van julle God kan regmaak. Julle moet gou maak.”
Maar die Leviete het nie gou gemaak nie. 6Toe roep die koning die hoëpriester Jojada en hy vra vir hom: “Hoekom het jy nie gekyk dat die Leviete die geld van die mense van Juda en Jerusalem kry nie? Dit is die geld wat hulle elke jaar moet betaal. Moses, die dienaar van die Here, het gesê die volk Israel moet die geld betaal vir die tent waarin die tien gebooie is.”
7Dit was nodig om die tempel reg te maak, want die slegte Atalia en haar mense het nie die tempel reggemaak nie en hulle het die gewyde dinge van die tempel gebruik vir die Baäls. 8Die koning het gesê hulle moet 'n kis maak en hulle moet dit voor die poort van die tempel sit, en hulle het dit gedoen. 9Hulle het toe vir die mense van Juda en Jerusalem gesê dat hulle die geld moet bring wat Moses, die dienaar van God, in die woestyn vir die Israeliete gevra het. 10Al die amptenare en die hele volk was bly daaroor. Hulle het almal die geld gebring en hulle het dit alles in die kis gegooi. 11Die Leviete moes elke maal die kis na die koning se amptenare toe bring. Wanneer die amptenare gesien het daar is baie geld in die kis, dan het die sekretaris van die koning en 'n priester gekom. Hulle het die kis leeggemaak en dit dan teruggesit op sy plek. Hulle het dit elke dag gedoen, en hulle het baie geld bymekaargemaak. 12Die koning en Jojada het dan die geld gegee vir die mense wat die tempel moes regmaak. Hulle het mense wat klippe gekap het, gehuur om die tempel reg te maak, en ook ambagsmanne en mense wat met yster en brons kon werk. 13Die mense wat die werk moes doen, het dit gedoen, en dit het goed gegaan met die werk. Hulle het die tempel reggemaak soos dit moet wees, hulle het dit weer sterk gemaak. 14Toe hulle klaar was, het hulle die geld wat oorgebly het, vir die koning en vir Jojada gegee, en hulle het gereedskap laat maak vir die tempel, gereedskap vir die werk by die tempel en vir die brand-offers. Hulle het ook panne en goue goed en silwergoed gemaak. Hulle het brand-offers gebring na die tempel so lank soos Jojada gelewe het.
Jojada sterf
15Jojada het oud geword. Hy het gesterf toe hy 130 jaar oud was. 16Hulle het hom begrawe by die konings in die Dawidstad, want hy het goeie dinge vir Israel en vir God en sy tempel gedoen.
Joas dien afgode en vermoor 'n profeet
17Nadat Jojada gesterf het, het die amptenare van Juda voor die koning kom buig, en hy het gedoen wat hulle gevra het. 18Hulle het die tempel gelos en hulle het gewyde pale en afgode gedien. Die Here het kwaad geword vir die mense van Juda en Jerusalem oor hierdie verkeerde dinge wat hulle gedoen het. 19Hy het profete na hulle toe gestuur om hulle te laat terugkom na Hom toe. Die profete het vir hulle gesê hulle doen verkeerde dinge, maar hulle het nie geluister nie. 20Toe het die Gees van God gekom in Sagaria seun van die priester Jojada. Sagaria het voor die mense gaan staan en hy het vir hulle gesê: “Hoekom doen julle nie wat die gebooie van die Here sê nie? Dit sal nie goed gaan met julle nie, want julle het die Here gelos, en nou het Hy júlle gelos.”
21Maar die mense het saam besluit om vir Sagaria dood te maak en hulle het hom met klippe doodgegooi op die oop stuk grond by die tempel. Die koning het gesê hulle moet dit doen. 22Koning Joas het nie onthou dat Sagaria se pa Jojada goed was vir hom nie, hy het gesê hulle moet Jojada se seun vermoor. Toe Sagaria sterf, het hy gesê: “Ek bid dat die Here dit sien en dat Hy jou sal straf.”
Joas sterf
23Dit was die einde van die jaar. Die leër van die Arameërs het vir Joas en sy leër kom aanval. Die Arameërs het na Juda en Jerusalem gekom en hulle het al die leiers van die volk doodgemaak. Hulle het al die goed wat hulle gevat het, vir die koning van Damaskus gestuur. 24Die leër van die Arameërs was klein, maar die Here het hulle laat wen teen die groot leër van Juda, want die mense van Juda en Jerusalem het die Here, die God van hulle voorvaders, gelos. Die Arameërs het vir Joas gestraf. 25Toe hulle weggaan, het Joas ernstige seerplekke gehad. Party van sy amptenare het besluit om hom dood te maak omdat hy gesê het hulle moet die seun van die priester Jojada vermoor. Die amptenare het vir Joas op sy bed vermoor. Hy het gesterf, en hulle het hom begrawe in die Dawidstad, maar nie in die grafte waar hulle die konings begrawe het nie. 26Die manne wat hom vermoor het, was Sabad seun van Simat, en Josabad seun van Simrat. Simat was 'n Ammonitiese vrou, en Simrat was 'n Moabitiese vrou. 27Die name van Joas se seuns en die baie dinge wat profete teen hom gesê het en hoe hy die tempel laat regmaak het, is geskryf in die Verduidelikings van die Boek van die Konings. Joas se seun Amasia het koning geword ná hom.