Dawid in die Sif-woestyn
1Mense van die stad Sif het na Saul toe gegaan in Gibea. Hulle het vir hom gesê: “Dawid kruip weg op die Gakila-berg naby die droë woestyn.”
2Saul het gereedgemaak en hy het na die Sif-woestyn gegaan. Daar was 3 000 manne by hom, hy het hulle gekies uit die Israeliete. Hy wou vir Dawid gaan soek in die Sif-woestyn. 3Saul het sy tente opgeslaan op die Gakila-berg naby die droë woestyn. Die tente was langs die pad. Dawid het in die woestyn gebly, en toe hy hoor dat Saul hom daar kom soek het, 4het hy mense gestuur om te kyk of Saul regtig gekom het. 5Dawid het toe gereedgemaak en hy het na die plek gegaan waar Saul se kamp was. Hy het gesien waar Saul en Abner lê en slaap. Abner, die hoof van die leër, was die seun van Ner. Saul het in die kamp gelê, en die manne het rondom hom gelê. 6Dawid het vir Agimelek van die stad Gat en vir Abisai, seun van Seruja en broer van Joab, gevra: “Wie sal saam met my na Saul se kamp gaan?”
Abisai het gesê: “Ek sal saam met jou gaan.”
7Dawid en Abisai het in die nag by Saul se manne gekom. Saul het daar in die kamp gelê en slaap. Sy spies het regop gestaan naby sy kop. Abner en die manne het rondom hom gelê. 8Toe sê Abisai vir Dawid: “God het jou vandag gehelp om jou vyand te vang. Ek sal hom met my spies in die grond vassteek. Ek sal dit net een maal doen, dan sal hy dood wees.”
9Maar Dawid het vir Abisai gesê: “Moenie hom doodmaak nie. As iemand iets doen teen die gesalfde van die Here, dan moet hy weet die Here sal hom straf. 10Ek weet, so seker soos die Here lewe, die Here sal Saul laat sterf, of Saul sal sterf wanneer dit sy tyd is, of hy sal oorlog toe gaan en sterf. 11Nee, ek sal nie iets doen teen die gesalfde van die Here nie. Maar kom ons neem die spies wat by sy kop staan en die waterkruik en dan loop ons.”
12Dawid het die spies en die waterkruik by Saul se kop geneem, en hulle het geloop. Niemand het dit gesien of iets gehoor en wakker geword nie. Almal het geslaap, die Here het hulle baie vas laat slaap. 13Dawid het na die ander kant van die vallei gegaan en hy het op die berg gaan staan, ver van Saul en sy manne. 14Dawid het vir Saul se manne en vir Abner seun van Ner geskree: “Abner, kan julle my hoor?”
Abner het geantwoord en gevra: “Wie is jy? Hoekom roep jy die koning?”
15Toe sê Dawid vir Abner: “Ek het gedink jy is 'n dapper man, niemand in die land Israel is soos jy nie. Maar hoekom het jy nie jou koning opgepas nie? Iemand het in die kamp gekom, hy kon jou koning doodgemaak het as hy wou. 16Jy het nie jou werk goed gedoen nie. So seker soos die Here lewe, julle moet sterf, want julle het nie waggestaan by julle koning nie, en hy is die gesalfde van die Here. Kyk, hier is die spies van die koning en die waterkruik wat by sy kop was.”
17Saul het gehoor dit is Dawid wat praat, en hy het gevra: “Is dit jý wat praat, my seun Dawid?”
En Dawid het gesê: “Ja, Meneer die koning, dit is ek wat praat. 18Hoekom jaag jy my? Wat het ek gedoen wat verkeerd is? 19Meneer die koning, jy moet asseblief nou luister na wat ek sê. As dit die Here is wat vir jou sê jy moet my doodmaak, dan moet ons vir Hom 'n offer bring. Maar as dit mense is, dan hoop ek die Here sal hulle straf, want dit is húlle wat my weggejaag het uit die land van die Here. Dit is húlle wat vir my sê ek moet ander gode gaan dien. 20Maar jy moenie vir my laat sterf ver van die plek waar die Here is nie. Ek is so onbelangrik soos 'n vlooi, maar die koning van Israel jaag my soos 'n mens 'n voël in die berge jag.”
21Toe sê Saul: “My seun Dawid, ek het 'n fout gemaak. Jy moet terugkom. Jy het vandag gewys dat my lewe belangrik is vir jou, en daarom sal ek niks aan jou doen nie. Ja, ek was dom, ek het 'n baie verkeerde ding gedoen.”
22Dawid het geantwoord en gesê: “Hier is die koning se spies, stuur een van die jongmanne om dit te kom haal. 23Die Here het jou vandag vir my gegee. Ek kon jou doodgemaak het as ek wou, maar ek het besluit om niks te doen teen die gesalfde van die Here nie. Ek weet dat die Here goed doen aan mense wat reg doen en wat lewe soos Hy wil hê. 24Jou lewe was vandag belangrik vir my. Ek bid dat my lewe ook belangrik sal wees vir die Here en dat Hy my altyd sal red wanneer dit sleg gaan met my.”
25Saul het vir Dawid gesê: “My seun Dawid, ek bid dat dit goed sal gaan met jou. Ek weet die Here sal al jou planne laat slaag, dit is seker.”
Dawid het toe weggegaan, en Saul het teruggegaan na sy plek.