Jonatan sê vir Dawid wat Saul wil doen
1Dawid het uit die profete-kamp by Rama gevlug en hy het na Jonatan toe gegaan. Hy het vir Jonatan gesê: “Wat het ek verkeerd gedoen? Wat het ek gedoen teen jou pa? Watter fout het ek gemaak? Hoekom wil jou pa my doodmaak?”
2Jonatan het gesê: “Jy sal nie sterf nie, dit is seker. My pa sê vir my alles wat hy wil doen. Hoekom sal hy hierdie ding vir my wegsteek? Dit is nie waar nie.”
3Maar Dawid het gesê: “Nee, dit is seker. Jou pa weet baie goed jy hou van my, en hy het gedink jy moenie hiervan weet nie, dan sal jy nie sleg voel nie. Maar so seker soos die Here lewe en so seker soos jy lewe, ek is baie naby die dood.”
4Jonatan het vir Dawid gesê: “Jy moet vir my sê wat jy wil hê, dan sal ek dit doen.”
5En Dawid het vir Jonatan gesê: “Jy weet, môre is Nuwemaan-fees, en dan moet ek saam met die koning eet. Maar jy moet my laat gaan, sodat ek in die veld kan gaan wegkruip tot oormôre-aand. 6As jou pa sien ek is nie daar nie, dan moet jy sê: ‘Dawid het vir my gesoebat om gou na sy stad Betlehem te gaan, want sy hele familie gaan om die offer te bring wat hulle elke jaar moet bring.’ 7As jou pa sê dit is goed, dan is ek veilig, maar as hy baie kwaad word, dan moet jy weet hy het klaar besluit om my dood te maak. 8Maar jy moet onthou dat ek en jy 'n ooreenkoms gemaak het, en die Here is die getuie daarvan. As ek verkeerd gedoen het, dan moet jy self vir my doodmaak. Jy moet my nie na jou pa toe bring nie.”
9Jonatan het gesê: “Dit sal nooit gebeur nie. As ek weet my pa het vas besluit om jou dood te maak, dan sal ek dit vir jou sê.”
10Toe vra Dawid: “Wie sal vir my sê of jou pa se antwoord sleg is vir my?”
11Jonatan het vir Dawid gesê: “Kom ons gaan na die veld.”
Hulle twee het veld toe gegaan, 12en Jonatan het vir Dawid gesê: “So seker soos die Here, die God van Israel, lewe, ek sal oormôre hierdie selfde tyd vir my pa vra, en as sy antwoord goed is vir jou, dan sal ek dit dadelik vir jou laat weet. 13En as my pa besluit het om jou dood te maak, dan sal ek ook vir jou laat weet. Ek sal jou laat weggaan sodat jy veilig kan wees. Die Here moet my straf as ek dit nie doen nie. En ek bid dat die Here by jou sal wees soos Hy by my pa was. 14As ek dan nog lewe, dan moet jy onthou ons het 'n ooreenkoms gemaak, en die Here is die getuie daarvan. Dan sal ek nie sterf nie. 15En wanneer die Here al jou vyande laat sterf, dan moet jy altyd onthou ons ooreenkoms is ook vir my nageslag. 16En wanneer iemand my saam met jou nageslag laat sterf, dan sal die Here jou vyande straf.”
17Jonatan het weer gesê Dawid moet dit belowe, want hy was lief vir Dawid. Hy was so lief vir Dawid soos hy vir homself lief was. 18Daarna het Jonatan vir Dawid gesê: “Môre is Nuwemaan-fees, en my pa sal sien jy is nie daar nie, want jou sitplek sal leeg wees. 19En oormôre moet jy kom en gaan wegkruip op die plek waar jy voorheen weggekruip het. Jy moet gaan sit by die Esel-klip. 20Ek sal dan drie pyle verby die klip skiet. Ek sal maak of ek na iets skiet 21en ek sal die seun wat by my is, stuur om die pyle te gaan haal. As ek hard vir die seun sê: ‘Kyk, die pyle is tussen my en jou, bring hulle,’ dan moet jy kom, want dan is daar nie probleme nie, so seker soos die Here lewe. 22Maar as ek vir die seun sê: ‘Kyk, die pyle is daar anderkant jou,’ dan moet jy gaan, want dan stuur die Here jou weg. 23Maar onthou wat ons vir mekaar gesê het, ek en jy. Moenie dit vergeet nie, die Here is altyd die getuie dat ek en jy 'n ooreenkoms het.”
24Dawid het weggekruip in die veld. Dit was Nuwemaan-fees, en die koning het by die tafel gaan sit om te eet. 25Hy het gesit op die plek waar hy altyd gesit het, op die sitplek teen die muur. Jonatan het gestaan, en Abner het langs Saul gesit. Dawid se plek was leeg. 26Saul het daardie dag niks gesê nie, want hy het gedink iets het met Dawid gebeur wat hom onrein gemaak het. 27Maar die volgende dag, die tweede dag van die Nuwemaan-fees, was Dawid se plek weer leeg. Saul vra toe vir sy seun Jonatan: “Hoekom het die seun van Isai nie kom eet nie, nie gister nie en ook nie vandag nie?”
28Jonatan het vir Saul gesê: “Dawid het my gesoebat en gevra of hy na Betlehem kan gaan. 29Dawid het gesê: ‘Laat my asseblief gaan, want ons familie moet 'n offer bring, en my broer het gesê ek moet kom. As jy goed wil wees vir my, laat my dan asseblief gaan sodat ek my broers kan sien.’ Dit is hoekom Dawid nie na die koning se tafel gekom het nie.”
30Saul was kwaad vir Jonatan, hy het gesê: “Jy is soos die seun van 'n slegte en ontrou vrou! Ek weet jy wil vir die seun van Isai help teen my. Jy het jou eie naam en jou ma se naam sleg gemaak. 31Want jy sal nie koning kan word terwyl die seun van Isai lewe nie. Stuur nou dadelik manne om hom te gaan haal, hy moet sterf!”
32Jonatan vra toe vir sy pa Saul: “Hoekom moet hy sterf? Wat het hy gedoen?”
33Saul het sy spies na Jonatan gegooi. Hy wou hom raakgooi. Jonatan het toe geweet sy pa het vas besluit om vir Dawid dood te maak. 34Jonatan was baie kwaad en hy het opgestaan en weggegaan van die tafel. Hy het nie daardie tweede dag van die Nuwemaan-fees geëet nie. Hy was hartseer oor Dawid, want sy pa het gemaak of Dawid 'n slegte mens is.
35Jonatan het die volgende oggend uitgegaan na die veld, na die plek waar hy gesê het Dawid moet vir hom wag. Daar was 'n jong seun by Jonatan. 36Jonatan het vir die seun gesê: “Jy moet hardloop en asseblief die pyle soek wat ek skiet.”
Die seun het gehardloop, en Jonatan het 'n pyl verby hom geskiet. 37Toe die seun by die plek kom waarnatoe Jonatan die pyl geskiet het, het Jonatan vir die seun geskree: “Die pyl is anderkant jou.”
38En Jonatan het vir die seun geskree: “Jy moet gou maak, jy moet hardloop, jy moenie staan nie.”
Die seun het die pyl opgetel en hy het na Jonatan toe gekom. 39Die seun het niks geweet nie, maar Jonatan en Dawid het geweet wat Jonatan se woorde beteken. 40Jonatan het sy wapens vir die seun gegee en vir hom gesê: “Gaan neem dit na die stad.” 41Toe die seun weg was, het Dawid opgestaan langs die Esel-klip waar hy weggekruip het. Hy het drie maal gebuig en hy het met sy gesig teen die grond gaan lê. Dawid en Jonatan het mekaar gesoen en hulle het gehuil. Dawid was baie hartseer. 42Toe het Jonatan vir Dawid gesê: “Ek hoop dit gaan goed met jou. Ons twee het vir mekaar belowe en ons het die Here geroep om die getuie te wees. Ons het gesê: Ons bid dat die Here altyd die getuie sal wees dat daar 'n ooreenkoms is tussen ons en ons nageslagte.”
Dawid het opgestaan en weggegaan, en Jonatan het na die stad gegaan.