Afrikaans 1983/1992 (AFR83)
14

Jesus gaan na sy Vader toe

141“Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. 2In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. 3En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 4En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.”

5Tomas sê toe vir Hom: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?”

6Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. 7As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”

8Toe sê Filippus vir Hom: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.”

9En Jesus sê vir hom: “Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’? 10Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek met julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar dit kom van die Vader wat in My bly en sy werke doen. 11Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self.

12“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. 13Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. 14As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”

Die Heilige Gees sal by julle bly

15“As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. 16Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

18“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19Nog net 'n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. 20Daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle.

21“Wie my opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.”

22Judas, nie Judas Iskariot nie, vra toe vir Hom: “Here, hoe kom dit dat U U aan ons gaan openbaar en nie aan die wêreld nie?”

23Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. 24Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s'n wat My gestuur het.

25“Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; 26en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

27“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie. 28Julle het gehoor dat Ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter as Ek is. 29En nou sê Ek dit vir julle voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit gebeur. 30Ek sal nie meer lank met julle kan praat nie, want die owerste van die wêreld is aan die kom. Hy het geen mag oor My nie, 31maar die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom doen wat die Vader My beveel het.

“Staan op, laat ons hiervandaan weggaan.”

15

Die ware wingerdstok

151“Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. 2Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. 3Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. 4Julle moet in My bly en Ek in julle. 'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.

5“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. 6As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos 'n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. 7As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. 8My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”

Julle moet mekaar liefhê

9“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. 10As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly.

11“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees. 12Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. 13Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. 14Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. 15Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want 'n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. 16Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra. 17Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!”

Die wêreld sal julle haat

18“As die wêreld julle haat, onthou: Hy het My voor julle gehaat. 19As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle. 20Onthou wat Ek vir julle gesê het: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woorde ter harte geneem het, sal hulle julle s'n ook ter harte neem. 21Maar hulle sal dit alles aan julle doen omdat julle my Naam bely en hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.

22“As Ek nie gekom en met hulle gepraat het nie, sou hulle nie skuldig gewees het nie; maar nou het hulle geen verskoning vir hulle sonde nie. 23Wie My haat, haat ook my Vader. 24As Ek nie by hulle die werke gedoen het wat niemand anders gedoen het nie, sou hulle nie skuldig gewees het nie; maar nou sien hulle dit, en tog haat hulle My en my Vader. 25Maar die woorde wat in die Skrif geskrywe staan, moet vervul word: ‘Hulle het My sonder rede gehaat.’Vgl. Ps. 35:19; 69:5

26“Wanneer die Voorspraak kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid, wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig. 27En julle moet getuig, want julle is van die begin af by My.”

16

Julle moet nie van My afvallig word nie

161“Hierdie dinge sê Ek vir julle sodat julle nie afvallig word nie. 2Die mense sal julle uit die sinagoges ban. Daar kom selfs 'n tyd dat elkeen wat een van julle doodmaak, sal dink dat hy 'n diens aan God bewys. 3En dit sal hulle doen, omdat hulle die Vader nie ken nie en My ook nie. 4Maar Ek sê dit nou vir julle, sodat wanneer die tyd daarvoor aanbreek, julle daaraan moet dink dat Ek dit vir julle gesê het. Ek het dit egter nie van die begin af vir julle gesê nie, omdat Ek nog by julle was.”

Die werk van die Heilige Gees

5“Nou gaan Ek na Hom toe wat My gestuur het, en tog vra niemand van julle vir My: ‘Waar gaan U heen?’ nie. 6Maar omdat Ek dit vir julle sê, is julle harte vol droefheid. 7Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur. 8En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het. 9Die wêreld is skuldig aan sonde, want die wêreld glo nie in My nie; 10die reg is aan my kant, want Ek gaan na die Vader toe, en julle sal My nie meer sien nie; 11die oordeel het al gekom, want die owerste van hierdie wêreld is klaar veroordeel.

12“Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. 13Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. 14Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig. 15Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”

Julle droefheid sal in blydskap verander

16“Nog 'n klein rukkie, dan sien julle My nie meer nie; en weer 'n klein rukkie, dan sal julle My weer sien.”

17Party van sy dissipels het toe vir mekaar gevra: “Wat beteken dit dat Hy vir ons sê: ‘Nog 'n klein rukkie, dan sien julle My nie; en weer 'n klein rukkie, dan sal julle My weer sien’ en: ‘Ek gaan na die Vader toe’? 18Hierdie ‘klein rukkie’ waarvan Hy praat, wat beteken dit? Ons weet nie wat Hy bedoel nie,” het hulle gesê.

19Jesus het gemerk dat hulle dit vir Hom wou vra, en Hy sê toe vir hulle: “Praat julle met mekaar daaroor dat Ek gesê het: Nog 'n klein rukkie, dan sien julle My nie; en weer 'n klein rukkie, dan sal julle My weer sien? 20Dit verseker Ek julle: Julle sal huil en treur, maar die wêreld sal bly wees. Julle sal bedroef word, maar julle droefheid sal in blydskap verander. 21'n Vrou kry swaar wanneer haar tyd gekom het en haar kindjie gebore word. Maar wanneer die kindjie gebore is, dink sy nie meer aan die pyn nie, so bly is sy dat daar 'n mens in die wêreld gekom het. 22Net so is julle ook nou bedroef, maar as Ek julle weer sien, sal julle harte vol blydskap wees, en niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie. 23Daardie dag sal julle nie meer vrae aan My stel nie.

“Dít verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee. 24Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.”

Ek het die wêreld oorwin

25“Dit het Ek deur beeldspraak vir julle gesê. Daar kom 'n tyd wanneer Ek nie meer deur beeldspraak met julle sal praat nie maar julle reguit van die Vader sal vertel. 26Van daardie dag af sal julle in my Naam bid en hoef Ek nie julle voorspraak by die Vader te wees nie, 27want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefhet en glo dat Ek van God gekom het. 28Ek het van die Vader gekom en Ek is hier in die wêreld. Nou verlaat Ek weer die wêreld en Ek gaan na die Vader toe.”

29Sy dissipels sê toe: “Kyk, nou praat U reguit en gebruik nie beeldspraak nie. 30Nou weet ons dat U alles weet, en niemand hoef U verder uit te vra nie. Ons glo nou dat U van God gekom het.”

31Daarop sê Jesus vir hulle: “Glo julle nou? 32Kyk, daar kom 'n tyd, en dit is nou al hier, dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen sy eie koers in, en dat julle My alleen sal laat; en tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader by My is. 33Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”