Die Here het jou lief
1Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie,
ter wille van Jerusalem sal ek nie stilbly nie
totdat daar vir hom redding deurgebreek het soos 'n nuwe dag,
soos die lig van 'n brandende fakkel.
2Die nasies sal sien dat jy gered is, Jerusalem,
al die konings sal sien dat jy mag het.
Jy sal 'n nuwe naam kry,
'n naam wat die Here self vir jou gekies het.
3Die Here sal jou soos 'n sierlike kroon in sy hand hou,
jou God sal jou soos 'n koninklike tulband vashou.
4Jy sal nie meer die verstote vrou genoem word nie,
en jou land nie meer die een wat verlate lê nie.
Jy sal genoem word: “Die een vir wie die Here liefhet,”
en jou land: “Die een wat aan die Here behoort.”
Die Here het jou lief,
en jou land behoort aan Hom.
5Soos 'n jong man met 'n meisie trou,
so sal jou volk jou syne maak
en vir jou sorg.
Soos 'n bruidegom bly is oor sy bruid,
so sal jou God oor jou bly wees.
6Ek het wagte op jou mure uitgesit, Jerusalem,
hulle sal dag en nag roep.
Julle wat die Here aan sy beloftes moet herinner,
julle moenie stilbly nie.
7Julle moenie stilbly nie totdat Hy Jerusalem herstel het,
totdat Hy die hele wêreld die roem van Jerusalem laat sing het.
8Die Here het 'n eed afgelê,
en deur sy groot mag sal Hy dit gestand doen:
Ek sal jou koring nie weer aan jou vyande gee om te eet nie,
uitlanders sal nie weer die wyn drink
waarvoor jy hard gewerk het nie.
9Dié wat die koring oes, sal dit eet
en hulle sal My loof;
dié wat die druiwe oes,
sal die wyn drink in die voorhof van my heiligdom.
10Gaan uit, gaan uit by die poorte,
maak die pad gereed vir die volk!
Vul die grootpad op, vul dit op!
Vat weg die klippe!
Steek 'n banier op dat die volke dit kan sien!
11Die Here kondig dwarsoor die wêreld aan:
“Sê vir Sion: Hy wat jou red, kom!
Sy volk wat Hy Syne gemaak het, is by Hom,
dié wat aan Hom behoort, loop voor Hom uit.”
12Hulle sal genoem word: “Gewyde volk,
volk wat deur die Here verlos is.”
En jy, Jerusalem, sal genoem word: “Gewilde stad,
stad wat nie verlate lê nie.”