Afrikaans 1983/1992 (AFR83)
7

Die uitnemendheid van die priesterskap van Melgisedek bo dié van Aäron

71Melgisedek was koning van Salem en priester van God die Allerhoogste. Dit is Melgisedek wat vir Abraham tegemoet gegaan en hom geseën het toe Abraham op pad terug was nadat hy die konings verslaan het, 2en dit is ook aan hom dat Abraham 'n tiende van al die oorlogsbuit gegee het. In die eerste plek, sy naam Melgisedek beteken: koning van geregtigheid; en hy was ook koning van Salem, en dit beteken: koning van vrede. 3Niks is bekend omtrent sy vader en moeder of sy afstamming of die begin en einde van sy lewe nie. Hy is soos die Seun van God en hy bly priester vir altyd.

4Let nou op hoe groot hierdie man was aan wie Abraham, die stamvader, 'n tiende van die beste oorlogsbuit gegee het. 5Die priesters wat van Levi afstam, het volgens die bepaling van die wet die reg om 'n tiende in te vorder van die volk, dit wil sê van hulle broers, wat net soos hulle ook afstammelinge van Abraham is. 6Maar Melgisedek, wat nie van Levitiese afstamming was nie, het van Abraham 'n tiende geneem en hom, aan wie God sy beloftes gegee het, geseën. 7Dit is onbetwisbaar dat dit altyd die mindere is wat deur die meerdere geseën word. 8In die geval van die Levitiese priesters is dit sterflike mense wat tiendes invorder, maar in die geval van Melgisedek iemand van wie getuig word dat hy lewe. 9'n Mens kan sê dat ook Levi, wat tiendes invorder, deur Abraham aan Melgisedek die tiende gegee het, 10want Levi was nog in die liggaam van die stamvader toe Melgisedek vir Abraham tegemoet gegaan het.

Christus en die Levitiese priesterskap

11Dit was in samehang met die Levitiese priesterskap dat die volk die wet van Moses ontvang het. As hierdie priesterskap volmaaktheid kon bewerk, waarom was dit dan nog nodig dat 'n ander priester volgens die priesterorde van Melgisedek aangestel moes word, van wie daar nie gesê word dat hy 'n priester volgens die orde van Aäron sou wees nie?

12As daar 'n ander priesterskap kom, volg noodwendig ook 'n verandering van die wet. 13Hy van wie hierdie dinge gesê word, behoort juis tot 'n ander stam, waaruit niemand ooit by die altaar diens gedoen het nie. 14Dit is algemeen bekend dat ons Here van Juda afstam, en in verband met daardie stam het Moses niks oor die priesterskap gesê nie. 15Die saak word nog duideliker as ons daaraan dink dat die ander priester wat te voorskyn tree, ooreenkom met Melgisedek, 16deurdat Hy priester word nie deur die bepaling van die wet oor menslike afstamming nie, maar deur die krag van onvernietigbare lewe. 17Van Hom word getuig:

“Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.”Ps. 110:4

18Aan die een kant word die vroeëre bepaling dus afgeskaf vanweë die kragteloosheid en nutteloosheid daarvan: 19die wet het nie volmaaktheid bewerk nie. Aan die ander kant het 'n beter hoop ingetree, waardeur ons tot God nader.

20Dit het nie sonder die bevestiging met 'n eed plaasgevind nie. Die Leviete het wel priesters geword sonder die bevestiging met 'n eed, 21maar Jesus met 'n eed deur God, wat vir Hom gesê het:

“Die Here het dit met 'n eed bevestig en Hy sal dit nie herroep nie: ‘Jy is priester vir ewig.’ ”Vgl. Ps. 110:4

22So het Jesus ook van 'n beter verbond borg geword.

23Daar is ook 'n ander verskil: omdat die dood die Levitiese priesters verhinder het om aan te bly, was daar baie wat mekaar opgevolg het. 24Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hý 'n priesterskap wat nie op 'n ander oorgedra word nie. 25Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.

26Vir ons was so 'n hoëpriester nodig, een wat heilig, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars en verhoog bo die hemele, 27een wat nie, soos die hoëpriesters, elke dag offers hoef te bring, eers vir sy eie sondes en dan vir dié van die volk nie. Hy het immers eens en vir altyd 'n offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het. 28Die wet stel mense as hoëpriesters aan, en mense het swakhede; maar die uitspraak wat met 'n eed bevestig is en wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan as ewige en volmaakte Hoëpriester.