1'n Lied. 'n Psalm. Van die Koragiete. Vir die •musiekleier. Op Magalat. Om te sing. 'n Maskiel. Van Heman, die Esragiet.
2Here, God wat my verlos,
bedags roep ek om hulp,
snags bly my hulpgeroep voor U.
3Laat my gebed U bereik,
draai u oor na my klaagroep;
4want ek het genoeg gehad van rampe.
My lewe is by die •doderyk;
5ek word gereken by dié
wat afdaal in die put.
Ek het geword soos 'n sterk man
sonder krag,
6vrygelaat onder die dooies,
soos gesneuweldes wat in 'n graf lê,
aan wie U nie meer dink nie;
hulle wat afgesny is van u hand.
7U het my in die diepste put geplaas,
in donker plekke, in die dieptes.
8U woede rus swaar op my;
met al u golwe onderdruk U my. •Sela
9U het my bekendes van my verwyder,
U het my iets afstootliks gemaak
vir hulle.
Ek is opgesluit en kan nie uitkom nie;
10my oë verdof van ellende.
Ek roep na U, Here, elke dag,
ek strek my handpalms na U uit.
11Kan U aan dooies 'n wonder doen?
Of skimme, kan hulle opstaan,
kan hulle U prys? Sela
12Word daar in die graf gepraat
oor u troue liefde,
oor u betroubaarheid
in die onderwêreld?
13Is u wonders bekend in die duisternis,
en u geregtigheid in die land
van vergetelheid?
14En ek, na U roep ek om hulp, Here,
elke oggend kom my gebed voor U.
15Waarom, Here, verstoot U my,
verberg U u gesig vir my?
16Ek is magteloos,
in doodsgevaar van my jeug af;
verslae dra ek u verskrikkinge.
17Oor my het die gloed
van u toorn gebreek,
u verskrikkinge vernietig my.
18Die hele dag omring dit my
soos water,
dit omsluit my heeltemal.
19U het geliefdes en vriende
van my verwyder;
my vertroueling is die duisternis.