1'n Psalm. Van Asaf.
O God, nasies het in u eiendom
ingegaan,
hulle het u •heilige •tempel verontreinig;
hulle het Jerusalem
tot puinhope gemaak.
2Hulle het die lyke van u diensknegte
vir die voëls van die hemel
as kos gegee,
die vleis van u getroue volgelinge
vir die wilde diere van die aarde.
3Hulle het hulle bloed soos water
uitgestort om Jerusalem,
en daar was niemand
wat hulle begrawe het nie.
4Ons het die bespotting
van ons bure geword,
die hoon en spot van hulle
rondom ons.
5Hoe lank nog, Here?
Gaan U vir ewig toornig bly;
sal u heilige jaloesie
soos 'n vuur bly brand?
6Stort u gramskap uit oor
die nasies wat U nie ken nie,
oor die koninkryke wat u Naam
nie aanroep nie;
7want hulle het Jakob verteer,
sy weiding verwoes.
8Moet tog nie ons vroeëre
sondeskuld teen ons hou nie;
laat u ontferming ons gou bereik,
want ons het baie min geword.
9Help ons, o God wat ons verlos,
ter wille van die eer van u Naam.
Red ons en bedek ons sondes,
ter wille van u Naam.
10Waarom moet die nasies sê:
“Waar is julle God?”
Laat dit voor ons oë
onder die nasies bekend word:
die wraak oor die bloed
van u diensknegte wat vergiet is.
11Laat die gesug van gevangenes
U bereik;
laat hulle, gedoem tot die dood,
deur u groot mag gespaar bly.
12Vergeld ons bure sewevoudig
waar dit hulle erg raak
vir die bespotting waarmee
hulle U bespot het, my Heer!
13Ons is u volk en die skape
van u weiding;
ons sal U vir altyd prys.
Van geslag tot geslag sal ons vertel
van die lof wat U toekom.