1Vir die •musiekleier. Op “Narsings”. Van Dawid.
2Verlos my, o God,
want water het tot by my keel gekom.
3Ek het weggesink in diep modder,
en daar is geen vastrapplek nie;
ek het in diep water beland,
en die vloed gaan my meesleur.
4Ek is uitgeput van my geroep,
my keel is al hees.
My oë is vermoeid van wag op my God.
5Meer as die hare op my kop
is hulle wat my sonder rede haat.
Hulle wat my wil vernietig, is ontelbaar,
hulle wat my ten onregte haat.
Wat ek nie geroof het nie,
moet ek nou teruggee.
6O God, U self ken my dwaasheid;
my skuld is nie vir U verborge nie.
7Laat hulle wat op U wag
nie deur my toedoen
beskaamd staan nie,
Here my Heer,
Heerser oor alle magte.
Laat hulle wat U soek
nie deur my toedoen
verneder word nie,
o God van Israel.
8Dit is immers oor U
dat ek bespotting moet verduur,
dat my gesig met skaamte bedek is.
9Ek is vervreem van my broers,
'n vreemdeling vir my moeder se kinders.
10want die hartstog vir u huis
het my verteer.
Die bespotting waarmee hulle U bespot,
moes ek verduur.
11Toe ek getreur het terwyl ek vas,
is ek bespot.
12Toe ek rouklere aangetrek het,
het ek vir hulle 'n spotnaam geword.
13Dié wat in die stadspoort sit,
dryf die spot met my,
en die liedjies van dronkaards ook.
14Maar ek rig my gebed tot U, Here,
in 'n tyd van welwillendheid.
O God, antwoord my
met u betroubare verlossing,
op grond van u oorvloedige
troue liefde.
15Red my uit die modder;
moenie dat ek wegsink nie.
Ek wil vrykom van my haters,
van die diep water.
16Laat vloedwater my nie meesleur nie,
die diepte my nie verswelg nie.
Laat die put nie sy mond
bo my toemaak nie.
17Antwoord my, Here,
want u troue liefde is goed;
draai na my in u groot ontferming.
18Moenie u gesig vir u dienskneg
verberg nie,
want ek is in die nood –
antwoord my gou.
19Bly tog naby my, bevry my lewe;
koop my vry, want ek het vyande.
20U ken self die bespotting,
smaad en vernedering
wat ek verduur;
voor U staan al my teenstanders.
21Bespotting het my hart gebreek,
ek is swak.
Ek het medelye verwag,
maar tevergeefs;
mense om my te troos,
maar ek kon niemand vind nie.
22Hulle het gif in my kos gesit,
en vir my dors het hulle
my asyn laat drink.
23Mag hulle tafel voor hulle
'n vangnet word,
'n valstrik vir hulle vriende.
24Mag hulle oë dof word,
sodat hulle nie kan sien nie.
Laat hulle heupe voortdurend meegee!
25Stort u verontwaardiging oor hulle uit;
laat u brandende toorn hulle inhaal.
26Mag hulle kamp verlate wees;
mag daar in hulle tente
geen bewoner wees nie.
27Want dié wat deur U geslaan is,
word deur hulle agtervolg,
en oor die pyn van dié
wat deur U gewond is,
het hulle die monde vol.
28Voeg sondeskuld by hulle sondeskuld,
laat hulle nie toegang hê
tot u •geregtigheid nie.
29Mag hulle uitgewis word
uit die •boekrol van die lewe;
mag hulle nie saam met
die regverdiges opgeteken word nie.
30Ek is magteloos en verkeer in pyn;
mag u verlossing, o God, my beskerm.
31Ek wil die Naam van God
loof met 'n lied;
ek wil sy Naam groot maak
met 'n danklied.
32Dit sal vir die Here
aanneemliker wees as beeste,
as bulle met horings
en gesplete hoewe.
33Die verdruktes sien dit;
hulle sal bly wees.
Julle wat God raadpleeg,
mag julle harte leef,
34want die Here luister
na die behoeftiges;
Hy minag nie sy gevangenes nie.
35Hemel en aarde moet Hom loof,
oseane en alles wat daarin beweeg;
36want God gaan Sion verlos,
Hy gaan die stede van Juda herbou.
Hulle sal daar woon en die land besit.
37Die nageslag van sy diensknegte
sal dit erf;
hulle wat sy Naam liefhet,
sal daarin woon.