1'n Psalm. Van Dawid. Toe hy in die woestyn van Juda was.
2God, U is my God,
na U soek ek;
my •siel dors na U,
my liggaam smag na U in 'n droë,
uitgeputte land sonder water.
3So het ek uitgesien na U
in die heiligdom,
om u krag en glorieryke
teenwoordigheid te ervaar,
4want u troue liefde is beter as die lewe.
My lippe sal U roem;
5so sal ek U prys in my lewe;
in u Naam sal ek my hande ophef.
6Asof van binnevet en die vetste
dele word ek versadig;
en met jubelende lippe bring my mond lof
7as ek aan U dink op my slaapplek,
as ek in die •nagwake oor U prewel.
8Want U was vir my tot hulp,
en in die skadu van u vlerke jubel ek.
9My diepste wese is aan U verknog;
u regterhand ondersteun my.
10En daardie mense wat daarop uit is
om my lewe te verwoes,
hulle sal die onderste dele
van die aarde binnegaan.
11Hulle sal aan die mag
van die swaard uitgelewer word,
die prooi van jakkalse sal hulle word.
12Die koning sal hom in God verbly;
elkeen wat by Hom sweer, sal in Hom roem.
Want hulle wat leuens verkondig
se monde sal gesnoer word.