1Vir die •musiekleier. Op “Narsing van getuienis”. 'n Miktaam. Van Dawid. Om te onderrig. 2Toe hy geveg het teen Aram-Naharajim en Aram-Soba, en Joab teruggekeer en twaalfduisend Edomiete in die Soutvallei verslaan het.
3O God, U het ons verstoot,
ons uitmekaar geslaan.
U was toornig.
Herstel ons!
4U het die land geskud,
dit oopgekloof.
Maak sy breuke heel,
want dit wankel.
5U het u volk moeilike tye laat beleef;
U het ons wyn laat drink
wat ons laat steier.
6U het aan hulle wat vir U ontsag het,
'n banier gegee waaronder
hulle byeen kan kom,
weg van die boogskutters. •Sela
7Sodat u geliefdes gered kan word –
verlos tog met u regterhand
en antwoord ons!
8God self het in sy heiligdom verklaar:
“Ek wil jubel, Ek wil Sigem verdeel,
die vallei van Sukkot gaan Ek afmeet.
9Aan My behoort Gilead,
aan My Manasse;
Efraim is 'n beskutting vir my kop,
Juda is my heerserstaf.
10Moab is my waskom,
op Edom gooi Ek my sandaal;
oor My moet jy juig, Filistea.”
11Wie sal my bring na 'n versterkte stad?
Wie sal my lei tot by Edom?
12Is dit nie U, o God,
wat ons verstoot het nie?
U, o God, trek nie meer
saam met ons leërs uit nie.
13Kom ons te hulp teen teenstanders –
die hulp van mense is nutteloos.
14Met God tree ons dapper op –
Hý sal ons teenstanders vertrap.