Opskrif
1Die openbaring aan Obadja.
Oordeel oor Edom
Dit is wat die Here, my Heer oor Edom gesê het.
Ja, ons het 'n boodskap gehoor
wat van die Here af kom.
'n Boodskapper is onder die nasies ingestuur:
“Staan op!
Laat ons gereedmaak vir oorlog teen Edom!”
2“Kyk, gering maak Ek jou onder die nasies;
jy sal heeltemal verag word.
3Die verwaandheid van jou hart bedrieg jou,
jy wat tuis is in die rotsskeure
van jou hoë woonplek,
wat in jou hart sê,
Wie sal my afbring aarde toe?
4Al sou jy jou nes so hoog maak
soos dié van 'n arend,
selfs al sou jy tussen die sterre nes maak,
van daar af sal Ek jou afbring,”
is die uitspraak van die Here.
5“Was dit maar diewe
wat na jou toe gekom het,
was dit maar diewe in die nag!
Hulle steel darem net
tot hulle genoeg het.
Hoe word jy vernietig!
Was dit maar druiweplukkers
wat na jou toe gekom het!
Hulle laat darem natrossies agter.
6Hoe word Esau deursoek,
sy wegsteekplekke kaal gestroop!
7Almal met wie jy
'n verbond gesluit het,
stuur jou terug tot by die landsgrens.
Hulle het jou bedrieg, jou uitoorlê,
daardie mense met wie jy
'n vredesooreenkoms het.
Hulle wat saam met jou geëet het,
laat 'n vreemde jou plek inneem.
Daar is nie meer raad in Edom oor nie!”
8“Sal Ek nie op daardie dag,”
is die uitspraak van die Here,
“wyse manne uit Edom laat verdwyn
en raadgewers uit die bergland
van Esau nie?”
9Teman, jou krygshelde sal verskrik wees,
sodat mense uitgeroei sal word
op die bergland van Esau.
“Vanweë moord, 10vanweë geweld
teen jou broer Jakob,
sal skaamte jou oorval
en jy sal uitgeroei word vir altyd.
11Die dag toe jy eenkant gaan staan het,
die dag toe vreemdes die besittings
van Jakob weggevoer het,
toe buitelanders sy poorte binnegedring
en geloot het oor Jerusalem,
was ook jy soos een van hulle!
12Jy moes nie gestaan en toekyk het
op die dag van jou broer,
op die dag toe 'n ramp
hom getref het nie.
Jy moes nie bly gewees het oor die Judeërs
op die dag van hulle ondergang nie.
Jy moes nie 'n groot mond gehad het
op die dag van angs nie.
13Jy moes nie in die poort
van my volk gekom het
op die dag van hulle teenspoed nie.
Jy moes nie ook sy onheil staan en dophou het
op die dag van sy teenspoed nie.
Jy moes nie jou hande
uitgesteek het na sy besittings
op die dag van sy teenspoed nie.
14Jy moes nie op die ontsnaproetes
gaan staan het om sy vlugtelinge
uit te roei nie.
Jy moes nie sy mense
wat wou ontvlug uitgelewer het
op die dag van angs nie.
15Voorwaar, die dag van die Here
oor al die nasies is naby!
Soos wat jy gedoen het,
sal aan jou gedoen word.
Jou daad sal terugkeer op jou kop.”
Boodskap van die Here aan sy volk
16“Ja, soos wat julle die beker moes drink
op my heilige berg,
sal al die nasies voortdurend
moet drink.
Hulle sal drink en onsamehangend praat
en hulle sal wees asof hulle
nooit bestaan het nie.
17Maar op die berg Sion
sal daar ontvlugting wees,
en Sion sal heilig wees.
“Die huis van Jakob sal dié
wat hulle verdryf het, uitdryf.
18Die huis van Jakob sal vuur wees
en die huis van Josef 'n vlam,
maar die huis van Esau sal strooi wees.
Die vuur sal die strooi brand en dit verteer.
Daar sal van die huis van Esau
nie een ontvlug nie.”
Want die Here het dit gesê.
Terugkeer uit ballingskap
19Hulle sal die Negev saam met die bergland van Esau in besit neem, die Sjefela saam met Filistea. Hulle sal die gebied van Efraim en die gebied van Samaria in besit neem en Benjamin saam met Gilead. 20Die ballinge van hierdie leër, die Israeliete, sal Kanaänitiese gebied in besit neem tot by Sarfat, en die ballinge van Jerusalem wat in Sefarad is, sal die stede van die Negev in besit neem. 21Verlossers sal dan na die berg Sion opgaan om oor die bergland van Esau te regeer; en die koningskap sal aan die Here behoort.