1Jona het uit die vis se maag tot die Here sy God gebid. 2Hy het gesê:
“In my nood het ek
na die Here geroep,
en Hy het my geantwoord.
Uit die ingewande van die •doderyk
het ek om hulp geroep,
en U het my stem gehoor.
3U het my in die diepte gegooi,
in die hart van die oseane.
Seestrome het my omring,
al u golwe en branders
het oor my gespoel.
4“Ek self het gedink,
ek is weggewerp, onder u oë uit.
Maar ek sal weer u •heilige •tempel sien!
5Water het my tot aan my keel omsluit,
•oerwater het my omring;
seewier het my kop omstrengel.
6Na die basis van die berge
het ek afgesak;
die aarde – haar sluitbalke
was vir altyd toe agter my.
“Maar tog het U my lewe
uit die grafkuil opgetrek,
Here my God!
7Terwyl die lewe uit my vloei,
het ek net aan die Here gedink.
My gebed het U in u heilige tempel bereik.
8“Wie nuttelose afgode dien,
versaak hulle trou aan die verbond.
9Maar ek, met 'n danklied
wil ek aan U 'n offer bring,
wat ek beloof het, sal ek betaal.
Dit is die Here wat redding bring.”
10Die Here het toe die vis beveel om Jona op die droë grond uit te spoeg.