1Sefatja, seun van Mattan, Gedalja, seun van Pasgur, Jugal, seun van Selemja, en Pasgur, seun van Malkija, het die woorde gehoor wat Jeremia vir die hele volk bly sê het: 2“So sê die Here, ‘Wie in hierdie stad bly, sal sterf deur die swaard, hongersnood en epidemie, maar wie uitgaan na die Galdeërs, sal leef; hy sal sy lewe vir homself as buit behou en bly leef;’ ” 3en ook: “So sê die Here, ‘Hierdie stad sal beslis oorgegee word in die hand van die leër van die koning van Babilonië, en hy sal dit inneem.’ ”
4Die •hoë amptenare sê toe vir die koning: “Hierdie man moet tog doodgemaak word! Op stuk van sake is hy besig om die hande van die krygsmanne wat nog in hierdie stad oor is, en die hande van die hele volk, lam te maak deur hierdie woorde vir hulle te sê. Ja, dié man soek nie vrede vir hierdie volk nie, maar teenspoed.” 5Daarop het koning Sedekia gesê: “Kyk, hy is in julle hande. Die koning kan immers niks aan julle doen nie.”
6Hulle het Jeremia gevat en hom laat afsak in die opgaarput wat in die binnehof van die wagte se kwartiere was, wat aan Malkija, seun van die koning, behoort het. Hulle het Jeremia met toue laat afsak. Daar was nie water in die opgaarput nie, maar modder, en Jeremia het in die modder ingesak.
7Ebed-Meleg, die Kussiet, 'n eunug wat in die paleis was, het gehoor dat hulle Jeremia in die opgaarput geplaas het. Terwyl die koning in die Benjaminpoort sit, 8het Ebed-Meleg uit die paleis gegaan en vir die koning gaan sê: 9“My heer die koning, hierdie manne het verkeerd opgetree in alles wat hulle aan die profeet Jeremia gedoen het deurdat hulle hom in die opgaarput laat afsak het. Hy sal, waar hy ook al is, van honger omkom, want daar is nie meer brood in die stad nie.”
10Die koning het Ebed-Meleg, die Kussiet, toe opdrag gegee: “Neem hiervandaan dertig man met jou saam en trek die profeet Jeremia uit die opgaarput voordat hy sterf!” 11Ebed-Meleg het die manne met hom saamgeneem en by die paleis na die kelder onder die stoorkamer gegaan. Hy het daaruit vodde van verslete en geskeurde klere geneem en dit met toue laat afsak na Jeremia in die opgaarput. 12Ebed-Meleg, die Kussiet, het vir Jeremia gesê: “Sit tog die vodde van verslete en geskeurde klere onder jou armholtes, onder die toue in.” Jeremia het toe so gemaak, 13en hulle het Jeremia met die toue opgetrek en hom uit die opgaarput laat kom. Jeremia het daarna in die binnehof van die wagte se kwartiere gebly.
Laaste gesprek met Sedekia
14Koning Sedekia het die profeet Jeremia na hom toe ontbied by die derde ingang van die huis van die Here. Die koning het vir Jeremia gesê: “Ek gaan jou iets vra; moet niks vir my wegsteek nie!” 15Jeremia het egter vir Sedekia gesê: “As ek u inlig, sal u my nie sonder twyfel doodmaak nie? En as ek u raad gee, sal u tog nie na my luister nie!” 16Koning Sedekia het toe in die geheim vir Jeremia 'n eed afgelê: “So waar as die Here leef wat vir ons hierdie lewe moontlik maak: Ek sal jou nie doodmaak en jou nie oorgee in die hand van hierdie manne wat jou lewe soek nie!”
17Toe sê Jeremia vir Sedekia: “So sê die Here, die God van alle magte, die God van Israel, ‘As jy wel uitgaan na die bevelvoerders van die koning van Babilonië, sal jou lewe behoue bly, en hierdie stad sal nie afgebrand word nie. Jy en jou huisgesin sal leef. 18Maar as jy nie uitgaan na die bevelvoerders van die koning van Babilonië nie, sal hierdie stad oorgegee word in die hand van die Galdeërs, en hulle sal dit afbrand. En jy, jy sal nie uit hulle hand vrykom nie.’ ”
19Toe sê koning Sedekia vir Jeremia: “Ek is bang vir die Judeërs wat na die Galdeërs oorgeloop het, dat hulle my in hulle hand sal oorgee en dat hulle my sal martel.” 20Maar Jeremia het gesê: “Hulle sal u nie oorgee nie. Luister asseblief net na die stem van die Here, na dit wat ek vir u sê! Dan sal dit met u goed gaan; u sal u lewe behou. 21Maar as u bly weier om uit te gaan, is dít wat die Here my laat sien het: 22Kyk, al die vroue wat in die huis van die koning van Juda oorgebly het, word uitgeneem na die bevelvoerders van die koning van Babilonië, terwyl die vroue sê,
“ ‘Jou vertroude vriende het jou mislei
en die oorhand oor jou gekry.
Toe jou voete weggesink het in die slyk,
het hulle teruggetree.’
23“Al u vroue en kinders gaan uitgebring word na die Galdeërs, en u self sal nie vrykom uit hulle hand nie, maar deur die koning van Babilonië sal u gevange geneem word, en hierdie stad sal afgebrand word.”
24Daarop sê Sedekia vir Jeremia: “Niemand mag van hierdie gesprek weet nie, anders sterf jy! 25As die hoë amptenare hoor dat ek met jou gepraat het en by jou kom en vir jou sê, ‘Vertel asseblief vir ons wat jy met die koning gepraat het. Moenie vir ons iets wegsteek nie, dan sal ons jou nie doodmaak nie. Wat het die koning vir jou gesê?’ 26dan moet jy vir hulle sê, ‘Ek het my smeekbede voor die koning gelê, dat hy my nie moet laat terugkeer na die huis van Jonatan om daar te sterf nie.’ ”
27Al die hoë amptenare het toe na Jeremia gekom en hom uitgevra; en hy het hulle al hierdie woorde meegedeel, net soos die koning hom beveel het. Hulle het hom toe met rus gelaat, want die saak het nie rugbaar geword nie.
28Jeremia het in die binnehof van die wagte se kwartiere gebly tot op die dag dat Jerusalem ingeneem is.
Inname van Jerusalem
Dít het gebeur toe Jerusalem ingeneem is: