Oordeel en hoop
1Wee jou, verwoester,
jy wat nie verwoes is nie,
trouelose, aan wie niemand
ontrou was nie!
Wanneer jy jou verwoestingswerk
voltooi het,
sal jy verwoes word;
wanneer jy ophou
om troueloos te wees,
sal daar troueloos
teen jou opgetree word.
2Here, wees ons genadig!
Op U wag ons.
Wees elke oggend ons krag,
ja, ons verlossing
in 'n tyd van nood.
3Vir die geluid van 'n gedreun
vlug volke;
vanweë u verhewenheid
word nasies verstrooi.
4Wat julle gebuit het, nasies,
word bymekaargemaak,
soos kaalvretersprinkane
bymekaarmaak.
Soos swerms toesak,
word op julle buit toegesak.
5Die Here is verhewe,
ja, Hy woon in die hoogte.
Hy vul Sion
met reg en geregtigheid.
6Hy sal bestendigheid
aan jou tye bied,
'n rykdom van bystand,
wysheid en kennis,
ontsag vir die Here –
dit is sy skatte.
7Kyk, die mense van Jerusalem
roep om hulp op straat,
die boodskappers van vrede
huil bitterlik.
8Gebaande weë was verlate,
niemand het meer op die pad
verbygegaan nie.
Hy het verdrae verbreek,
hy het stede geminag,
hy het mense nie geag nie.
9Dit het droog geword,
die land was uitgedor;
die Libanon was verbluf,
het swart geword.
Saron het soos die Araba
geword;
Basan en Karmel
het hulle blare verloor.
10“Nou gaan Ek opstaan,”
sê die Here,
“nou gaan Ek Myself verhef,
nou gaan Ek My oprig.
11Julle raak swanger van droë gras,
gee geboorte aan kaf;
julle asem is 'n vuur
wat julle sal verteer.
12Die volke
sal 'n kalkbrandery word –
afgekapte doringstruike
wat 'n vuur aan die brand
moet kry.
13Luister, julle wat ver is,
na wat Ek gedoen het;
en julle wat naby is,
erken my mag.”
14In Sion sidder sondaars
van angs;
bewing pak hulle beet,
hulle wat vervreemd is van God:
“Wie van ons kan
by 'n verterende vuur vertoef?
Wie van ons kan
by 'n ewig brandende
vuurherd vertoef?”
15Hy wat eerlik leef
en spreek wat reg is,
wat wins uit afpersing afwys,
wat sy handpalms daarvan
weerhou om omkoopgeld
te aanvaar,
wat niks van bloedvergieting
wil hoor nie,
niks wat boos is,
wil aanskou nie –
16dit is hy wat op die hoogtes
sal woon.
Bergvestings in kranse
is sy toevlugsoord;
sy kos word vir hom voorsien,
sy watervoorraad
is standhoudend.
17Jou eie oë sal 'n Koning
in sy skoonheid sien,
sal uitkyk oor 'n wyd
uitgestrekte land.
18Jou hart sal die verskrikking
oordink:
Waar is hy wat neerskryf,
waar hy wat weeg?
Waar is hy wat die getal
van die torings neerskryf?
19Dié aanmatigende volk
sal jy nie weer sien nie,
die volk met spraak
wat te moeilik is om te volg,
met 'n gestamel van tong
wat onverstaanbaar is.
20Kyk na Sion, die stad
van ons feestelike byeenkomste!
Jou oë sal Jerusalem sien –
'n ongestoorde tuiste,
'n tent wat nie afgeslaan sal word,
waarvan die tentpenne
nooit uitgetrek,
en die tentlyne
nooit losgeruk sal word nie;
21want daar sal 'n magtige,
die Here, by ons wees,
by 'n plek van riviere,
met breë strome aan alle kante.
'n Boot met spane
sal nie daarop vaar nie,
'n magtige skip
sal dit nie oorsteek nie.
22Ja, die Here is ons Regter,
die Here is ons Regeerder,
die Here is ons Koning –
Hy sal ons verlos.
23Al hang jou takelwerk nou slap,
al hou dit nie die mas se voetstuk
stewig nie,
al span dit nie die banier
oop nie,
dan sal daar buit in oorvloed
verdeel word;
selfs lammes sal wat te roof is,
plunder.
24Geen inwoner sal sê,
“Ek is siek” nie.
Die volk wat in Jerusalem woon,
se sondeskuld is vergewe.