1Wee hulle wat na Egipte afgaan
vir hulp,
wat op perde staatmaak,
hulle vertroue plaas op strydwaens,
omdat daar baie is,
en op perderuiters,
omdat hulle besonder talryk is.
Maar hulle sien nie op
na die Heilige van Israel nie;
hulle raadpleeg nie die Here nie.
2Maar ook Hy is wys,
en Hy bring onheil;
sy woorde herroep Hy nie.
Hy sal optree teen 'n huis
van boosdoeners,
en teen die hulp van hulle
wat onreg pleeg.
3Die Egiptenare is mense,
nie God nie;
hulle perde is vlees
en nie gees nie.
En die Here –
as Hy sy hand uitstrek,
struikel die helper,
val dié een wat gehelp word;
saam gaan hulle almal tot niet.
4Ja, so het die Here vir my gesê:
“Soos 'n leeu grom,
'n jong leeu by sy prooi
– al word 'n hele groep herders
teen hom saamgeroep,
vir hulle geskreeu
word hy nie bang nie,
en vir hulle geraas
krimp hy nie ineen nie –
so sal die Here, Heerser oor alle magte,
neerdaal om te veg
op die berg Sion,
op die Sionsheuwel.
5Soos voëls bo hulle neste hang,
so sal die Here, Heerser oor alle magte,
Jerusalem beskerm.
Hy sal beskerm en uitred,
spaar en laat ontkom.
6“Keer terug na Hom,
teen wie die Israeliete
uiters onversetlik was.
7Ja, op daardie dag sal elkeen sy nuttelose afgodsbeelde van silwer en goud verwerp, die beelde wat julle hande vir julle tot sonde gemaak het.
8Assirië sal val deur die swaard,
maar nie dié van 'n man nie;
en 'n swaard,
nie dié van 'n mens nie,
sal hom verteer.
Hy sal vir sy lewe vlug
voor die swaard,
en sy jong manne
sal dwangarbeid verrig.
9Sy rots sal vanweë ontsetting
vergaan,
sy •aanvoerders
sal angsbevange wees
by die sien van 'n banier.”
Dit is die uitspraak van die Here,
wie se vuur in Sion,
en wie se oond in Jerusalem is.