1“Wee Ariël, Ariël, die stad
wat Dawid beleër het!
Laat jaar op jaar volg!
Laat die feeste hulle kringloop volg!
2Maar Ek sal Ariël
in benoudheid bring,
sodat daar verdriet
en droefheid sal wees.
Dan sal sy vir My
soos 'n vuurherd wees.
3Ek sal jou reg rondom beleër,
Ek sal jou met wagposte omring,
beleëringswerke teen jou oprig.
4Jy sal verneder wees,
uit die grond sal jy praat,
uit die stof sal jou woorde
gedemp wees.
Soos dié van 'n waarsêergees,
sal jou stem uit die grond kom,
en uit die stof sal jou woorde
gefluister word.
5Die menigte vreemdes by jou
sal soos fyn stof word,
en soos kaf wat verwaai
die menigte geweldenaars.
Dit sal heel onverwags gebeur.
6Van die kant van die Here,
Heerser oor alle magte,
sal daar afgereken word,
deur donderslae en aardbewings,
deur harde geluide,
deur storm en stormwind,
met verterende vuurvlamme.
7Dit sal wees soos in 'n droom,
soos in 'n naggesig –
die menigte van al die nasies
wat teen Ariël veg,
almal wat haar en haar
versterkte vestings beveg,
hulle wat haar in die noute bring.
8Dit sal wees soos wanneer
'n honger mens droom:
Kyk, hy is besig om te eet;
maar as hy wakker word,
is sy keel leeg.
Dit sal wees soos wanneer
'n dors mens droom:
Kyk, hy is besig om te drink;
maar as hy wakker word,
is hy uitgeput
en sy keel is droog.
So sal dit met die menigte
van al die nasies wees,
hulle wat veg teen die berg Sion.”
9Wees maar verslae, verstom!
Hou julle blind, en wees verblind!
Hulle het dronk geword,
maar nie van wyn nie.
Hulle het gesteier,
maar nie van sterk drank nie.
10Ja, die Here het 'n gees
van diepe slaap
oor julle uitgestort,
Hy het julle oë, die profete, gesluit;
julle koppe, die sieners, het Hy bedek.
11Vir julle het die openbaring van al hierdie dinge geword soos die woorde van 'n verseëlde boekrol, wat hulle gee aan iemand wat kan lees, en sê: “Lees dit asseblief!” Dan sê hy: “Ek kan nie, want dit is verseël.” 12Die boekrol word dan gegee aan iemand wat nie skrif ken nie, met die woorde: “Lees dit asseblief!” Dan sê hy: “Ek ken nie skrif nie.”
13My Heer het gesê:
“Omdat hierdie volk My nader
met hulle mond
en met hulle lippe My eer,
maar hulle hart ver is van My,
en hulle ontsag vir My bloot
'n aangeleerde menslike gebod,
14daarom, kyk, Ek sal voortgaan
om op 'n wonderlike,
wonderbaarlike manier
met hierdie volk te handel.
Die wysheid van hulle wyses
sal tot niet gaan,
en die insig van hulle verstandiges
sal verborge bly.”
15Wee hulle wat planne
vir die Here diep wegsteek!
Hulle dade vind in die donker plaas,
en hulle sê:
“Wie sien ons en wie ken ons?”
16Julle verdraai alles!
Of moet die pottebakker beskou word
as gelykwaardig met die klei,
dat die maaksel vir sy maker kan sê,
“Jy het my nie gemaak nie”,
en dit wat gevorm is
vir die pottebakker sê,
“Hy verstaan nie”?
17Is dit nie nog net 'n rukkie nie,
dan verander die Libanon
in 'n vrugteboord,
en word die vrugteboord
as 'n bos beskou?
18Die dowes sal op daardie dag
die woorde van 'n boekrol hoor.
Sonder donkerte en duisternis,
sal die oë van blindes sien.
19Magteloses sal weer
vreugde ervaar in die Here,
en behoeftige mense sal juig
oor die Heilige van Israel.
20Want gewelddadiges
is nie meer daar nie,
en spotters is tot niet;
almal wat gereed staan
om onreg te doen,
word uitgeroei –
21hulle wat mense deur woorde
as sondaars brandmerk,
wat strikke stel vir dié
wat mense in die stadspoort teregwys,
en wat oor nietighede
regverdiges dwarsboom
voor die gereg.
22Daarom, so sê die Here vir die huis van Jakob, Hy wat Abraham gered het:
“Nou sal Jakob nie meer
beskaamd staan,
sy gesig nie meer bleek word nie.
23Want wanneer hulle
hulle kinders, die werk
van my hande,
in hulle midde sien,
sal hulle my Naam heilig.
Hulle sal die Heilige van Jakob
se heiligheid erken,
en vrees koester vir die God
van Jakob.
24Dan sal hulle wat verbyster
van gees is, insig leer ken,
en hulle wat gemurmureer het,
sal onderrig aanvaar.