Jakob se terugkeer
1Jakob het die woorde van Laban se seuns gehoor toe hulle sê: “Jakob het alles gevat wat aan ons pa behoort; uit wat aan ons pa behoort, het hy al hierdie rykdom bymekaargemaak.” 2Jakob het dit aan Laban se gesig gesien – kyk, hy was nie meer teenoor hom soos gister en eergister nie! 3Die Here sê toe vir Jakob: “Gaan terug na die land van jou voorouers en na jou familie. Ek sal met jou wees.”
4Jakob het Ragel en Lea ontbied na die veld toe, na sy kleinvee toe, 5en vir hulle gesê: “Ek sien aan julle pa se gesig dat hy nie meer teenoor my is soos gister en eergister nie. Maar die God van my vader was met my. 6Julle weet tog self dat ek met al my krag vir julle pa gewerk het. 7Maar julle pa het my vir die gek gehou en my vergoeding tien keer verander. God het hom egter nie toegelaat om my skade aan te doen nie. 8As hy sê, ‘Bontes sal jou loon wees,’ dan lam al die kleinvee bontes; en as hy weer sê, ‘Gestreeptes sal jou loon wees,’ dan lam al die kleinvee gestreeptes. 9God het julle pa se vee weggeneem en dit vir my gegee. 10In die tyd toe die kleinvee bronstig was, het ek in 'n droom rondgekyk en gesien: Kyk, die ramme wat die kleinvee dek, is gestreep en bont en gespikkel. 11Die •Engel van God het in die droom vir my gesê, ‘Jakob!’ en ek het geantwoord, ‘Hier is ek!’ 12Hy sê toe, ‘Kyk rond, dan sal jy sien dat al die ramme wat die kleinvee dek, gestreep, bont en gespikkel is. Ek het immers alles gesien wat Laban jou aandoen. 13Ek is die God van Bet-El, waar jy 'n gedenksteen gesalf het, waar jy aan My 'n gelofte afgelê het. Maak nou gereed, trek weg uit hierdie land en keer terug na die land van jou herkoms.’ ”
14Ragel en Lea het daarop geantwoord en vir hom gesê: “Het ons nog enige aandeel aan of erfenis in die huis van ons pa? 15Is ons nie deur hom as vreemdes beskou nie? Want hy het ons verkoop, en ons koopprys ook volledig opgebruik. 16Ja, al die rykdom wat God van ons pa weggeneem het, kom ons en ons kinders toe. Daarom, alles wat God vir jou gesê het, doen dit!”
17Jakob het toe gereedgemaak, sy kinders en sy vroue op kamele getel 18en al sy vee aangejaag – al sy besittings wat hy bekom het, sy eie veestapel wat hy bekom het in Paddan-Aram – om na Isak, sy vader, na die land Kanaän te gaan.
19Toe Laban gegaan het om sy kleinvee te skeer, het Ragel die huisgode gesteel wat aan haar vader behoort. 20Jakob het Laban, die Arameër, se vertroue geskend deurdat hy hom nie ingelig het dat hy gaan vlug nie. 21Hy het gevlug met alles wat aan hom behoort. Hy het gereedgemaak, die Rivier oorgesteek en koers ingeslaan in die rigting van die bergland van Gilead.
22Op die derde dag is daar aan Laban berig gebring dat Jakob gevlug het. 23Hy het toe sy familielede saam met hom geneem en Jakob agternagesit, sewe dagreise lank. Toe was hy op sy hakke in die bergland van Gilead. 24God het egter in 'n droom in die nag na Laban, die Arameër, gekom en vir hom gesê: “Pasop dat jy nie in enige woordewisseling met Jakob betrokke raak nie.”
25Laban het Jakob ingehaal. Jakob het sy kamp opgeslaan in die bergland, en Laban met sy familielede het hulle kamp opgeslaan in die bergland van Gilead. 26Laban sê toe vir Jakob: “Wat het jy gedoen? Jy het my vertroue geskend en my dogters soos krygsgevangenes weggevoer. 27Waarom het jy in die geheim gevlug en my vertroue geskend? Jy het my nie ingelig nie. Ek sou jou weggesien het met vreugde en liedere, met tamboeryne en liere. 28Maar jy het my nie die geleentheid gegee om my kleinseuns en my dogters te soen nie. Jy het nou 'n dwase ding gedoen. 29Dit is binne my mag om julle kwaad aan te doen; maar die God van julle vader het verlede nag vir my gesê, ‘Pasop dat jy nie in enige woordewisseling met Jakob betrokke raak nie.’ 30Maar nou is jy vasbeslote op pad omdat jy so erg verlang na jou ouerhuis. Waarom het jy dan my gode gesteel?”
31Jakob het hom verweer en vir Laban gesê: “Ek het weggegaan omdat ek bang was! Want ek het gedink anders sal jy jou dogters met geweld van my afneem. 32By wie ook al jy jou gode vind – hy mag nie bly leef nie. Voor ons familielede sê ek, ‘Wys uit wat van jou by my is, en neem dit vir jou!’ ” Jakob het nie geweet dat Ragel dit gesteel het nie.
33Laban het in Jakob se tent ingegaan, ook in Lea se tent en dié van die twee slavinne, maar niks gekry nie. Toe hy uit Lea se tent kom, het hy in Ragel se tent ingegaan. 34Ragel het egter die huisgode geneem, dit in die saalsak van 'n kameel gesteek en daarop gaan sit. Laban het alles in die tent deursoek, maar niks gekry nie. 35Ragel sê toe vir haar vader: “Moet my nie kwaad aankyk nie, my heer, omdat ek nie vir u kan opstaan nie, want dit is met my soos dit soms met vroue is.” Hy het deeglik gesoek, maar kon nie die huisgode kry nie.
36Jakob het kwaad geword en sy saak teenoor Laban gestel. Jakob het homself verdedig en vir Laban gesê: “Wat is my oortreding? Wat het ek verkeerd gedoen dat jy so op my spoor is? 37Want jy het al my goed deursoek! Wat het jy, van enigiets wat uit jou huis kom, gevind? Sit dit dan hier voor my familielede en jou familielede neer, sodat hulle tussen ons twee kan beslis. 38Twintig jaar was ek nou by jou gewees. Jou skaapooie en jou bokooie het nie misgeboortes gehad nie. Die ramme van jou kleinvee het ek nie geëet nie. 39Diere wat verskeur is, het ek nie na jou geneem nie; ek moes self die skade ly. Uit my hand het jy geëis wat bedags gesteel is en snags gesteel is. 40So het dit met my gegaan: Bedags het die hitte my verteer, en die koue snags. Slaap het van my oë weggevlug. 41So was dit vir my twintig jaar lank in jou huis. Ek het vir jou veertien jaar gewerk vir jou twee dogters, en ses jaar vir jou kleinvee; en jy het my vergoeding tien keer verander. 42As die God van my voorvader, die God van Abraham, die Vrees van Isak, nie vir my was nie, ja, dan sou jy my nou met leë hande weggestuur het. Maar my ellende en die moeitevolle arbeid van my hande – God het dit gesien, en verlede nag daaroor beslis.”
43Laban reageer toe daarop en sê vir Jakob: “Die dogters is my dogters, en die kinders is my kinders, en die kleinvee is my kleinvee. Alles wat jy sien, behoort aan my. Maar my dogters, hoe kan ek hulle vandag iets aandoen, of hulle kinders wat hulle in die wêreld gebring het? 44Kom dan nou, laat ons 'n ooreenkoms aangaan, ek en jy, en dit sal 'n getuie wees tussen my en jou.”
45Jakob het toe 'n klip geneem en dit as gedenksteen opgerig. 46Jakob het ook vir sy familielede gesê: “Maak klippe bymekaar!” Hulle het toe klippe geneem en op 'n hoop gepak. Daar by die klipstapel het hulle geëet. 47Laban het dit Jegar-Sahaduta genoem, maar Jakob het dit Gal-Ed genoem. 48Laban het gesê: “Hierdie klipstapel is vandag 'n getuie tussen my en jou.” Daarom is dit Gal-Ed genoem, 49en ook Mispa, omdat hy gesê het: “Mag die Here waghou tussen my en jou wanneer ons mekaar nie meer sien nie. 50As jy my dogters verneder, en as jy benewens my dogters nog vroue neem – al is daar geen mens by ons nie – besef dan: God is getuie tussen my en jou.”
51Laban sê toe ook vir Jakob: “Hier is hierdie klippe, en hier is die gedenksteen wat ek opgerig het tussen my en jou. 52Hierdie stapel klippe is 'n getuie en die gedenksteen is 'n getuie: Ek mag beslis nie by hierdie klipstapel verbytrek na jou toe nie, en jy mag beslis nie by hierdie klipstapel en hierdie gedenksteen verbytrek na my toe met kwade bedoelings nie. 53Die God van Abraham en die god van Nahor, hulle sal tussen ons beslis.” Dit is die God van hulle voorvader. Jakob het 'n eed afgelê by die Vrees van sy vader Isak. 54Daarna het Jakob 'n offerdier geslag op die berg, en sy familielede genooi om 'n maaltyd te eet. Hulle het die maaltyd geëet en die nag op die berg oorgebly.
55Laban het vroeg die oggend opgestaan, sy kleinseuns en sy dogters gesoen en hulle geseën. Toe het Laban weggegaan en teruggekeer na sy plek.