1Dít het my Heer, die Here, my laat sien: Daar was 'n mandjie met somervrugte. 2Hy het gevra: “Wat sien jy, Amos?” Ek het geantwoord: “'n Mandjie met somervrugte.”
Daarop sê die Here vir my: “Die einde het vir my volk Israel aangebreek. Ek sal nie weer by hom verbygaan nie.”
3“Die sangeresse van die paleis
sal weeklaag op daardie dag,”
is die uitspraak van my Heer,
die Here.
“Tallose lyke, oral neergegooi!
Stilte!”
4Luister hierna,
julle wat die behoeftiges vertrap,
en daarop uit is om weerloses
in die land uit te wis
5deur te sê,
“Wanneer is nuwemaan verby,
sodat ons weer koring kan verkoop,
en die Sabbat, sodat ons
die graansakke kan oopmaak?”
net om 'n efa kleiner te maak
en 'n sikkel groter,
en om te kul met 'n vals weegskaal,
6om armes vir geld te koop
en behoeftiges vir 'n paar sandale.
“Die uitskotgraan sal ons ook verkoop.”
7Die Here het gesweer
by die trots van Jakob:
“Ek sal al hulle dade in ewigheid
nie vergeet nie.
8Sal die aarde nie hieroor skud nie,
en elkeen wat daarop woon,
nie treur nie?
Dit sal in sy geheel styg soos die Nyl;
dit sal onstuimig wees en terugsak
soos die rivier van Egipte.”
9“Op daardie dag,”
is die uitspraak van my Heer,
die Here,
“sal Ek die son laat ondergaan
op die middaguur
en dit helder oordag donker
maak vir die aarde.
10Ek sal julle feeste
in 'n rouplegtigheid verander
en al julle liedere in treursange.
Ek sal om alle heupe
'n roukleed hang
en op elke kop 'n kaal plek maak.
Ek sal dit laat wees
soos die rouplegtigheid
oor 'n enigste kind
en die einde daarvan
soos 'n bittere dag.”
11“Kyk, daar kom dae,”
is die uitspraak van my Heer,
die Here,
“dat Ek hongersnood in die land
sal uitstuur –
nie 'n honger na brood
en 'n dors na water nie,
maar 'n honger om die woorde
van die Here te hoor.
12Hulle sal strompel van see tot see;
van noord na oos sal hulle dwaal,
op soek na die woord van die Here,
maar dit nie vind nie.
13Op daardie dag sal die mooi
jongmeisies flou word,
ook die jong manne, van dors.
14Hulle wat sweer by die Skuld
van Samaria, en sê,
‘So waar as wat jou god leef, Dan’,
of ‘so waar as wat jou god leef, Berseba’;
hulle sal val en nie weer opstaan nie.”