1Wee dié wat gerus is in Sion,
dié wat hulle veilig voel
op die berg Samaria,
die hooggeplaastes van die mees
vooraanstaande nasies,
na wie die huis van Israel kom.
2Gaan oor die grens na Kalne en kyk;
loop van daar na Hamat-Rabba,
en gaan af na Gat van die Filistyne.
Is julle beter as hierdie koninkryke,
of is hulle grondgebied groter as julle s'n,
3julle wat die dag van onheil
as ver beskou,
maar die gewelddadige einde
nader bring?
4Hulle lê op beddens met ivoorinleg,
luier rond op hulle sofas,
eet lammers uit die trop kleinvee
en kalwers uit die stal.
5Hulle neurie met begeleiding
van die harp;
soos Dawid, improviseer hulle
op musiekinstrumente.
6Hulle drink offerbakke vol wyn;
met die beste olies salf hulle hulleself;
maar hulle treur nie oor
die ondergang van Josef nie.
7Daarom sal hulle nou
in ballingskap gaan
aan die voorpunt van die ballinge;
die gefuif van dié wat rondluier,
kom tot 'n einde.
8My Heer, die Here,
het by Homself gesweer;
die uitspraak van die Here,
die God van alle magte, is:
“Ek verafsku die hoogmoed van Jakob,
en sy vestings haat Ek.
Ek gaan die stad en alles daarin
oorlewer.”
9As daar tien mense in 'n enkele huis oor is, sal hulle sterf. 10En wanneer 'n familielid, die een wat die lyk moet versorg, dit optel om dit uit die huis te neem en vir iemand wat agter in die huis is, vra: “Is daar nog by jou?” en hy antwoord: “Dis klaar!” sal hy sê: “Bly net stil! Want die Naam van die Here moet nie genoem word nie.”
11Want kyk, die Here gee opdrag,
en Hy slaan die groot huis aan stukke
en die klein huis tot splinters.
12Hardloop perde op 'n rotswand
of ploeg 'n mens dit met osse?
En tog het julle die reg
in 'n giftige plant verander
en die vrug van geregtigheid
in wildeals.
13Julle is bly oor Lo-Dabar.
Julle sê: “Het ons nie met eie krag
Karnajim vir ons verower nie?”
14“Maar kyk, Ek laat teen julle,
huis van Israel, 'n nasie optrek,”
is die uitspraak van die Here,
die God wat Heerser is
oor alle magte,
“en hulle sal julle onderdruk
van Lebo-Hamat tot by
die droë loop van die Araba.”