1Ook ek is 'n sterflike mens soos almal,
'n afstammeling van die eerste
mens op aarde geskape,
en in die skoot van my moeder
is ek gevorm tot vlees,
2binne 'n periode van tien
maande saamgepers met
bloed uit die saad van 'n man
en die genot wat die slaap
vergesel het.
3En toe ek gebore is, het ek ook
die gemeenskaplike lug
begin inasem,
en op die aarde
– wat aan dieselfde lyding
blootgestel is – beland,
terwyl ek net soos almal
my eerste huilkreet gegee het.
4Ek is in doeke toegedraai
en met sorg grootgemaak.
5Want geen koning se bestaan
het op 'n ander manier begin nie;
6daar is vir almal één ingang
in die lewe in,
en een en dieselfde uitgang.
7Daarom het ek gebid
en insig is vir my gegee;
ek het God aangeroep
en die gees van Wysheid
het na my gekom.
8Ek het haar verkies
bo septers en trone
en in vergelyking met haar
het ek rykdom as nietig geag.
9Ek het haar nie vergelyk
met 'n kosbare juweel nie,
want vir haar is al die goud
slegs 'n bietjie sand
en teenoor haar sal silwer
soos klei gereken word.
10Ek het haar liefgehad
bo gesondheid en skoonheid,
en ek het verkies om haar
te besit in plaas van lig,
want haar glans bly altyd skyn.
11Alles wat goed is,
het saam met haar na my gekom,
en onskatbare rykdom
deur haar hande.
12Ek was oor alles verheug
omdat Wysheid die gids daarvan was,
maar ek het nie geweet dat sy
die oorsprong daarvan is nie.
13Ek het sonder bedrog geleer
en ek deel dit sonder afguns;
ek steek haar rykdom nie weg nie,
14want dit is vir mense
'n onuitputlike skat.
Diegene wat dit verkry,
verwerf vriendskap met God;
hulle is aanbeveel
op grond van die gawes
wat uit onderrig spruit.
15Mag God my dit gun
om my met gesonde oordeel
uit te druk,
en om te beplan op 'n manier
wat die gawes waardig is,
want Hy is self 'n gids vir Wysheid
en ook die Een wat wyse mense reghelp.
16Want ons en ons woorde
is in sy hand,
so ook alle insig in en kennis
van ambagte.
17Want Hy het vir my die ware
kennis van dit wat bestaan, gegee,
om die samestelling van die heelal
en die werking van die elemente
te verstaan –
18die begin en einde
en middel van tye,
die wisselinge van die sonstilstande
en die veranderinge van die seisoene,
19die jaarsiklusse
en die sterrekonstellasies,
20die geaardhede van diere
en die instinkte van wilde diere,
die magte van geeste
en die gedagtes van mense,
die verskillende plante
en die krag van wortels.
21Alles het ek leer ken –
sowel verborge as bekend –
want die ontwerper van alles,
Wysheid, het my geleer.
22Want in haar is daar
'n gees wat intelligent is,
heilig, uniek, veelsydig,
subtiel, beweeglik, helder,
onbesoedeld, duidelik, onkwesbaar,
lief vir die goeie, skerp,
23onstuitbaar, weldadig, mensliewend,
standvastig, seker, sorgeloos,
almagtig, wat oor alles toesig hou,
en wat alle geeste deurdring,
dié wat intelligent, suiwer
en geheel en al subtiel is.
24Want Wysheid is beweegliker
as enige beweging,
en sy dring in alles in
en deurdring alles
vanweë haar suiwerheid.
25Want sy is die asem
van die krag van God,
en die suiwer uitvloeisel
van die heerlikheid
van die Almagtige;
daarom kan niks wat besoedel is,
tot haar deurdring nie.
26Want sy is die weerkaatsing
van ewige lig,
'n vlekkelose spieël
van die werkende mag van God
en 'n beeld van sy goedheid.
27Hoewel sy één is,
is sy tot alles in staat,
en terwyl sy in haarself bly,
vernuwe sy alle dinge
en van geslag tot geslag
gaan sy heilige siele binne
en maak sy van hulle
vriende van God en profete,
28want God het niks lief nie
behalwe die een
wat met Wysheid saamwoon.
29Want sy is mooier as die son
en sy oortref elke sterrekonstellasie.
Wanneer sy met lig vergelyk word,
is sy helderder,
30want die nag volg wel ná die lig,
maar die kwaad is nie sterker
as die Wysheid nie.