1In die agttiende jaar, op die twee-en-twintigste dag van die eerste maand, is daar in die paleis van Nebukadnesar, die koning van die Assiriërs, aangekondig dat hy wraak sou neem op die hele streek, soos hy gesê het. 2Hy het al sy ampsdraers en al sy hooggeplaastes byeengeroep en hulle van sy geheime plan vertel. Hy het self die boosheid van die streek uitgewys, 3en hulle het besluit om almal uit te wis wat nie gehoor gegee het aan sy bevel nie. 4Nadat hy sy beraadslagings afgesluit het, het Nebukadnesar, koning van die Assiriërs, vir Holofernes, die opperbevelvoerder van sy leërmagte en tweede ná hom, ontbied en vir hom gesê: 5“So sê die groot koning, heer oor die hele aarde: Kyk, jy moet van hier af optrek en manne met jou saamneem wat vertrou op hulle krag, tot soveel as honderd-en-twintigduisend voetsoldate en 'n groot aantal ruiters, twaalfduisend, met hulle perde. 6Jy moet teen die ganse streek in die weste optrek, want hulle het nie my bevele gehoorsaam nie. 7Sê hulle aan om grond en water gereed te maak, want ek gaan in my woede teen hulle optrek en die totale aangesig van die aarde bedek met my leërmagte se voete en hulle as buit aan dié magte oorgee. 8Hulle gewondes sal hulle dale vul, en elke stroom en rivier sal vol lyke word en sy walle oorstroom. 9Ek sal hulle krygsgevangenes wegvoer tot by die eindes van die ganse aarde. 10Maar jy moet uittrek en solank vir my elke enkele grondgebied wat aan hulle behoort, beset. As hulle hulle aan jou oorgee, moet jy hulle vir my hou tot op die dag van hulle veroordeling en straf. 11Jou oog moet egter die ongehoorsames in jou hele gebied nie ontsien nie, maar hulle oorgee aan dood en plundering. 12Want so seker as wat ek leef en so seker as wat die mag van my koningskap bestaan – ek het gespreek en met my hand sal ek dit alles uitvoer. 13En wat jou betref, moenie 'n enkele een van die bevele van jou heer oortree nie, maar handel ten volle af wat ek jou beveel het, en moenie uitstel om dit te doen nie.”
Israel se voorbereiding vir oorlog
14Toe het Holofernes uit die teenwoordigheid van sy heer weggegaan en al die vorste en generaals en offisiere van die leërmag van Assirië ontbied. 15Hy het honderd-en-twintigduisend uitgesoekte manskappe gekies om aan te tree, net soos sy heer hom beveel het, en twaalfduisend berede boogskutters, 16en hulle in slagordes opgestel soos wat 'n groot leër vir oorlog georden word. 17Hy het 'n baie groot aantal kamele, donkies en muile saamgevat vir hulle bagasie, ontelbaar baie skape, beeste en bokke as hulle proviand, 18genoeg voorraad vir elke manskap en 'n baie groot hoeveelheid goud en silwer uit die koning se paleis. 19Hy het van Nineve af opgetrek, hy en sy hele leërmag, om die pad vir koning Nebukadnesar gereed te maak en om die ganse oppervlak van die aarde na die weste toe te bedek met sy strydwaens, berede soldate en uitgesoekte voetsoldate. 20'n Groot verskeidenheid mense het soos 'n swerm sprinkane saam met hulle uitgetrek. Hulle was so baie soos die sand op aarde, só baie dat hulle inderdaad nie getel kon word nie. 21Hulle het drie dae lank van Nineve af getrek in die rigting van die vlakte van Bektilet, en by Bektilet kamp opgeslaan, naby die berg wat aan die noordekant van Bo-Silisië is. 22Hy het sy hele leërmag gevat, die voetsoldate, ruiters en strydwaens, en daarvandaan die berggebied ingetrek. 23Hy het Put en Lud verwoes, en al die Rassiete en die Ismaeliete aan die rand van die woestyn, tot suid van Cheleon, beroof. 24Hy het die Eufraat bereik en deur Mesopotamië getrek tot hy die see bereik het en al die versterkte stede aan die Abronarivier platgevee. 25Daarna het hy die grensgebied van Silisië ingeneem en almal verdelg wat teen hom opgestaan het. Hy het tot by die suidelike grensgebiede van Jafet, teenoor Arabië, gevorder. 26Hy het al die Midianiete omsingel, hulle tente aan die brand gesteek en hulle skaapkrale geplunder. 27Toe het hy, in die tyd van die koringoes, afgegaan na die vlakte van Damaskus en al hulle landerye aan die brand gesteek; hy het hulle skaap- en beestroppe oorgegee aan vernietiging; hulle stede het hy geplunder, hulle velde gestroop en al hulle jong manne met die skerpte van die swaard afgemaai. 28Vrees en bewing vir hom het die bewoners van die kusstreke in Sidon en Tirus oorval, en ook die bewoners van Sur en Okina en al die bewoners van Jamnia. Ook die inwoners van Azotus en Askelon was baie bang vir hom.