1Vir die •musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm.
Here, U ondersoek my
en U ken my.
2U is die een wat my sit en opstaan ken;
U verstaan van ver af
wat ek in gedagte het.
3My omswerwinge en waar ek rus –
U het dit afgemeet;
al my paaie is aan U bekend.
4Ja, daar is nog nie 'n woord
op my tong nie,
kyk, dan ken U, Here,
dit volledig!
5Van agter en van voor omsluit U my;
U plaas u handpalms op my.
6Om dit te verstaan,
is 'n te groot wonder vir my;
dit is te hoog,
ek kan dit nie begryp nie.
7Waarheen kan ek gaan,
weg van u Gees;
waarheen kan ek vlug,
weg van u teenwoordigheid?
8Klim ek op na die hemel –
U is daar;
gaan lê ek in die •doderyk –
ook daar is U!
9Neem ek die vlerke van die daeraad,
gaan woon ek by die einde van die see;
10ook daar sal u hand my lei,
u regterhand my vashou.
11En al sê ek,
“As duisternis my maar net
wil verberg
en die lig om my nag word”,
12is selfs duisternis
nie vir U donker nie,
maar skyn nag so lig soos die dag,
is die duisternis soos die lig.
13Dit is immers U wat my niere
geskep het,
my in die moederskoot geweef het.
14Ek prys U omdat ek
op 'n ontsagwekkende,
wonderbaarlike wyse gemaak is.
Wonderbaarlik is u werke
en ek besef dit maar te goed.
15My skelet was nie vir U verborge
toe ek in die geheim gemaak is nie,
toe ek kunstig geweef is
in die dieptes van die aarde.
16U oë het my vormloosheid gesien.
En in u •boekrol is hulle almal
opgeteken –
dae wat beplan is,
toe nie een daar was nie.
17En vir my, hoe kosbaar
is u gedagtes, o God –
hoe oorweldigend
is die volle getal daarvan!
18As ek dit tel,
is dit meer as die sand.
Word ek wakker,
dan is ek steeds by U.
19As U, o God, goddeloses
maar wou ombring!
Manne wat bloed vergiet,
gaan weg van my af!
20Dit is hulle wat valshede
oor U verkondig,
u vyande wat die stem
tevergeefs verhef.
21Sou ek u haters nie haat nie, Here,
in hulle wat teen U opstaan,
nie 'n weersin hê nie?
22Ek haat hulle met 'n intense haat;
vyande het hulle vir my geword.
23Ondersoek my, o God,
en ken my hart;
toets my,
en ken my ontstellende gedagtes.
24Kyk of ek nie op 'n pad
van verdriet is nie,
en lei my op die ewige pad.