1“Maar jy, Betlehem-Efrata,
al is jy gering in die streke
van Juda,
uit jou sal daar vir My iemand kom
om 'n heerser te wees in Israel.
Sy oorsprong is
uit die verre verlede,
uit die dae van weleer.”
2Dit is waarom die Here
hulle sal oorgee
tot die tyd aanbreek
vir 'n swanger vrou
om geboorte te skenk.
Dan sal die res van sy volksgenote
terugkeer saam met
die Israeliete.
3Hy sal optree en as herder lei
deur die krag van die Here,
deur die grootheid
van die Naam van die Here sy God.
Hulle sal veilig gevestig wees,
want dan sal hy magtig wees
tot aan die uithoeke van die aarde.
4“Hierdie een sal ongedeerd wees.
Wanneer Assirië ons land binnekom,
sy voete in ons vestings sit,
sal ons sewe herders,
ja, agt stamhoofde uit die mense
teen hulle opstel.
5Hulle sal die land Assirië
met die swaard kaalstroop,
die land van Nimrod met dolke.
Hy sal ons van Assirië red
wanneer hulle ons land binnekom
en ons grense oorsteek.
6Die oorblyfsel van Jakob
sal tussen al die nasies wees
soos dou wat van die Here kom,
soos sagte reën op gras,
wat niks van 'n mens verwag nie,
geen hoop op mense vestig nie.
7Die oorblyfsel van Jakob
sal tussen die nasies,
te midde van baie volke,
soos 'n leeu tussen
wilde diere wees,
soos 'n jong leeu
onder 'n trop kleinvee:
As hy verbygaan en vertrap
en verskeur,
is daar niemand wat red nie.
8Mag jy die oorhand hê
oor jou teenstanders;
ja, al jou vyande –
laat hulle uitgeroei word!”
9“Op daardie dag,”
is die uitspraak van die Here,
“sal Ek jou perde wat by jou is,
uitdelg,
en jou strydwaens vernietig.
10Ek sal ook die stede
in jou land uitdelg
en al jou versterkte stede afbreek.
11Ek sal die towery
waarmee jy besig is, uitdelg,
en jy sal nie meer waarsêers hê nie.
12Ek sal jou afgodsbeelde
en gedenkstene
wat in jou midde is, uitdelg,
en jy sal nie meer
voor jou eie handewerk
in aanbidding buig nie.
13Ek sal jou asjeras
wat in jou midde is, uitruk,
en jou stede verwoes.
14Ek sal in toorn en woede
wraak neem op die nasies
wat nie luister nie.”