Job se antwoord op Elifas se tweede betoog
1Job het hierop gereageer en gesê:
2“Ek het al baie sulke woorde gehoor!
Almal van julle is treurige troosters!
3Is dit nou die einde
van jou woorde van wind?
Of wat dryf jou dat jy bly antwoord?
4Ook ek sou soos julle kon praat
as julle in my plek was.
Ek sou woorde aanmekaar kon ryg teen julle,
my kop oor julle meewarig skud.
5Ek sou julle met die woorde
van my mond kon versterk;
die meegevoel van my lippe
sou verligting bring.
6As ek praat, bedaar my pyn nie.
En as ek ophou –
sou dit my dan verlaat?
7“Maar nou – God het my uitgeput.
U het almal in my omgewing
met vrees vervul.
8U het my vasgegryp –
dit dien as getuienis;
die leuen oor my staan teen my op,
dit getuig openlik teen my.
9Sy toorn het my verskeur,
my as 'n vyand behandel.
Teen my het Hy op sy tande gekners;
my teenstander het my
met sy oë deurpriem.
10Hulle het hulle monde
wyd teen my oopgesper,
my beledigend op die wange geslaan;
hulle span teen my saam.
11God lewer my oor
aan misdadigers,
in die hande van goddeloses
werp Hy my.
12Ek was sorgeloos,
maar Hy het my rondgeruk,
my aan die nek gegryp
en aan stukke gebreek.
Hy het my as 'n teiken vir Hom opgestel;
13sy pyle vlieg rondom my,
sonder genade deurboor Hy my niere,
Hy stort my gal op die grond uit.
14Hy slaan bres ná bres in my;
soos 'n held storm Hy op my af.
15“'n Roukleed het ek bo-oor
my naakte vel vasgewerk,
ek het my krag in die stof laat sink.
16My gesig is rooi van die gehuil;
en daar is donker skaduwees om my oë –
17al kleef daar geen geweld
aan my handpalms nie,
en al is my gebed suiwer.
18Grond, moenie my bloed bedek nie,
laat daar geen rusplek
vir my hulpgeroep wees nie.
19Maar nou, kyk, my getuie is in die hemel,
my pleitbesorger is in die hoogte;
20die een wat vir my
voorspraak maak, is my vriend.
By God stort my oog trane;
21maar die voorspraak
sal vir 'n man by God pleit
soos 'n mens vir sy vriend pleit.
22Want min jare sal verloop
voordat ek op 'n pad gaan
waarmee ek nie sal terugkeer nie.