Profesieë oor Jerusalem en Sion
1Luister na my, eilande,
gee aandag, afgeleë nasies!
Die Here het my reeds geroep
toe ek in die moederskoot was;
Hy het reeds my naam genoem
toe ek in my moeder se liggaam was.
2Hy het my mond
soos 'n skerp swaard gemaak,
in die skaduwee van sy hand
het Hy my weggesteek.
Hy het my 'n geslypte pyl gemaak,
in sy pylkoker het Hy my versteek.
3Hy het vir my gesê:
“Jy is my dienskneg, Israel,
deur wie Ek my heerlikheid toon.”
4Ek het egter gedink:
Tevergeefs het ek my
moeg gemaak.
Verniet, vrugteloos het ek
my kragte ingespan.
En tog, die beslissing oor my
lê by die Here,
my beloning is by my God.
5Maar nou, die Here het gepraat
– Hy wat my in die moederskoot
al gevorm het as 'n dienskneg
vir Hom –
sodat ek Jakob na Hom
kan terugbring,
sodat Israel vir Hom
byeengebring kan word.
In die oë van die Here word ek geëer;
my God het my krag geword.
6Hy het gesê: “Dit is nie genoeg
dat jy vir My 'n dienskneg is
om die stamme van Jakob op te rig nie,
om dié wat bewaar gebly het van Israel,
te laat terugkeer nie.
Ek gee jou as 'n lig vir nasies,
sodat my heil sal strek tot aan
die uiteindes van die aarde.”
7So sê die Here, die losser
van Israel, sy Heilige,
aan die sielsveragte,
aan hom wat afstootlik is vir nasies,
aan die dienaar van heersers:
“Konings sal dit sien en opstaan,
ja, vorste,
en hulle sal diep neerbuig –
ter wille van die Here,
Hy wat getrou is,
die Heilige van Israel,
wat jou gekies het.”
8So sê die Here:
“In 'n tyd van welwillendheid
antwoord Ek jou;
op die dag van verlossing
help Ek jou.
Ek sal jou beskerm,
Ek gee jou as 'n verbond aan die volk
om die land op te bou,
om van verlate erfgrond
weer 'n erfdeel te maak,
9om vir gevangenes te sê,
‘Gaan uit!’
en vir hulle wat in die donker is,
‘Kom te voorskyn!’
Langs die paaie sal hulle wei,
op al die kaal hoogtes
sal hulle weiding wees.
10Hulle sal nie honger
of dors word nie,
die dor woestynwind en son
sal hulle nie tref nie.
Ja, hulle ontfermer sal hulle lei,
langs waterbronne
sal Hy hulle begelei.
11“Ek sal al my berge
in 'n pad verander,
en my grootpaaie sal opgevul wees.
12Kyk, hierdie mense kom van ver af;
kyk, sommige kom uit die noorde
en weste,
en ander kom uit die gebied
by Aswan.”
13Jubel, hemel, en juig, aarde!
Breek uit in jubelkrete, berge!
Want die Here het sy volk getroos,
Hom oor sy magteloses ontferm.
14“Sion het gesê,
‘Die Here het my verlaat,
my Heer het my vergeet.’
15Kan 'n vrou haar suigeling vergeet,
haar nie ontferm
oor die seun van haar
moederskoot nie?
Selfs al sou hulle vergeet,
Ek, ja, Ek sal jou nie vergeet nie.
16Kyk, op twee handpalms
het Ek jou ingegrif;
jou stadsmure is steeds voor My.
17Jou kinders kom gou.
Hulle wat jou afgebreek het,
'n puinhoop van jou gemaak het,
hulle trek uit jou uit.
18Kyk oral rond en sien:
Hulle almal kom byeen,
hulle kom na jou toe.
So seker as wat Ek leef,”
is die uitspraak van die Here,
“jy sal hulle almal dra soos juwele,
soos 'n bruid sal jy hulle omhang.
19Oor jou puinhope,
jou verwoeste plekke,
jou vernielde land
lê Ek 'n eed af:
Jy gaan nou te klein wees
vir al die inwoners;
en hulle wat jou verslind het,
sal ver weg wees.
20Die kinders waarvan jy beroof is,
sal weer, terwyl jy dit hoor, sê,
‘Die plek is te beknop vir my,
maak vir my ruimte,
sodat ek hier kan woon!’
21Jy sal in jou hart sê:
Wie het hulle vir my
in die wêreld gebring
terwyl ek kinderloos
en onvrugbaar was,
'n balling en 'n gevangene?
Hierdie kinders –
wie het hulle grootgemaak?
Kyk, ek het alleen oorgebly;
waar was hulle dan?”
22So sê my Heer, die Here:
“Kyk, Ek sal na die nasies
my hand ophef,
na die volke my banier omhoog hou.
Hulle sal jou seuns bring
in die vou van die kleed,
en jou dogters op die skouer dra.
23Konings sal jou voogde wees,
en hulle prinsesse jou pleegmoeders.
Gesig na die grond,
sal hulle diep voor jou neerbuig;
hulle sal selfs die stof van jou voete lek.
Dan sal jy besef dat Ek die Here is.
Wie op My wag,
sal nie beskaamd staan nie.”
24“Sal krygsgevangenes weggeneem word
van 'n held,
of gevangenes vrykom
van 'n geweldenaar?”
25Maar, so sê die Here:
“Selfs gevangenes sal van 'n held
weggeneem word,
en krygsgevangenes sal vrykom
van 'n geweldenaar.
Teen hom wat met jou
die stryd aanknoop,
sal Ek self die stryd aanknoop,
en jou kinders –
Ek self sal hulle verlos.
26Ek sal hulle wat jou verdruk,
hulle eie vlees laat eet.
Hulle sal dronk word van hulle eie bloed,
asof dit soetwyn is.
Alle mense sal besef
dat dit Ek, die Here, is
wat jou verlos,
jou losser, die Magtige van Jakob.”