Sagaria 5
Die boekrol wat vlieg
1Die Here het weer vir my iets gewys. Ek het 'n boekrol gesien wat vlieg.
2Die engel het vir my gevra: “Wat sien jy?”
Ek het gesê: “Ek sien 'n boekrol wat vlieg. Dit is 20 el lank en tien el breed.”
3Die engel het toe vir my gesê: “Die Here het op die boekrol geskryf dat Hy die mense sal vervloek wat steel en wat dinge belowe wat hulle nie wil doen nie. Dit sal gebeur, want hulle het nog nie die straf gekry wat hulle moet kry nie. 4Die Here wat oor alles regeer, het gesê: Ek vervloek die mense wat steel en wat dinge belowe wat hulle nie wil doen nie. Ek sal hulle huise heeltemal verwoes, die hout en ook die klippe van die huise.”
Die vrou in die mandjie
5Die engel wat vir my moes sê wat alles beteken, het na my toe gekom en vir my gesê: “Kyk daar. Wat sien jy?”
6Ek het gevra: “Wat is dit?”
Die engel het gesê: “Dit is 'n mandjie.”
Die engel het ook gesê: “Die sonde van al die mense op die aarde is in die mandjie.”
7Die deksel van die mandjie was van lood. Hulle het die deksel opgelig en toe sien ek daar sit 'n vrou binne-in die mandjie.
8Die engel het gesê: “Dit is die sonde!”
Hy het die vrou in die mandjie ingestamp en hy het die deksel toegemaak. 9Ek sien toe daar kom twee vroue. Hulle het vlerke gehad soos groot sprinkaan-voëls. Hulle het die mandjie opgetel en weggevlieg. 10Ek vra toe vir die engel wat vir my moes sê wat alles beteken: “Waarnatoe neem hulle die mandjie?”
11En hy het vir my gesê: “Hulle bou vir die vrou 'n huis in die land Babel. Wanneer die huis klaar is, dan sal hulle die mandjie daar neersit. Dit is waar die vrou moet wees.”
Bybel vir dowes/almal © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007, 2008. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2012. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.