Die Here sal die volke rondom Juda straf
1Libanon-berg, maak oop jou deure, sodat die vuur kan inkom en jou sederbome kan afbrand. 2Die sipresboom moet huil, want die sederboom het omgeval en die mooiste bome het afgebrand. 3Die skaapwagters huil, want die mooi veld waar die skape wei, het afgebrand. Die leeus brul, want die bosse by die Jordaan-rivier het afgebrand.
4My God die Here het gesê: “Jy moet die slagskape oppas. 5Die mense wat die skape gekoop het, slag hulle en die mense is nie jammer daaroor nie. Die mense wat die skape verkoop, sê: ‘Prys die Here, ons word ryk.’ Die skaapwagters is ook nie jammer vir die skape nie.”
6Die Here sê: “Ja, Ek sal nou ook nie meer jammer wees vir al die mense in die land nie. Ek laat hulle nou doen wat hulle wil met mekaar en Ek laat hulle koning doen wat hy wil met hulle. Hulle sal die land verwoes, en Ek sal niemand red nie.”
7Ek, Sagaria, het toe die slagskape opgepas vir die mense wat hulle koop en verkoop. Ek het twee kieries geneem en ek het die skape opgepas. Ek het die een kierie “Vriendelikheid” genoem en die ander kierie “Saamwees.” 8Ek het in die eerste maand drie skaapwagters weggejaag. Maar ek het ongeduldig geword met die skape, en hulle het ook nie van my gehou nie. 9Ek het toe gesê: “Ek sal julle nie oppas nie. Dit maak nie saak nie: Die skape wat wil vrek, moet vrek, en die skape wat wil verdwaal, moet verdwaal. As daar skape oorbly, dan kan hulle mekaar opvreet.”
10Ek neem toe my een kierie, Vriendelikheid, en ek breek dit. Die Here het gesê Hy sal sy verbond ook so breek, die verbond wat Hy met al die volke gemaak het. 11Die verbond het daardie dag gestop. Die mense wat die skape koop en verkoop, het gesien wat ek doen, en hulle het geweet die Here praat met hulle. 12Ek het vir hulle gesê: “Julle moet my betaal, maar as julle nie wil betaal nie, los dit.”
Hulle het my toe 30 stukke silwer gegee. 13Hulle het gedink dit is hoeveel ek moet kry. Die Here het toe vir my gesê: “Gooi die silwer vir die man wat dit kan smelt.”
Ek het die 30 stukke silwer geneem en ek het dit in die tempel vir die man gegooi wat silwer smelt. 14Daarna het ek my ander kierie, Saamwees, gebreek om te wys dat die mense van Juda en Israel nie meer saam sal wees nie.
15Die Here het toe vir my gesê: “Jy moet weer vir jou kieries neem om skape op te pas, maar jy moet dit nou doen soos 'n skaapwagter wat nie weet hoe om skape op te pas nie. 16Want Ek sal nou 'n skaapwagter kies en aanstel hier in die land. Hy sal nie bekommerd wees oor die skape wat wegraak nie. Hy sal nie die lammers soek nie, hy sal nie die skape help wat seergekry het nie, en hy sal nie die gesonde skape oppas nie. Hy sal die vet skape op-eet en ook hulle pote. 17Dit sal sleg gaan met die skaapwagter wat nie weet hoe om sy skape op te pas nie en wat die skape alleen los. 'n Swaard sal in sy arm en ook in sy regter-oog steek. Sy arm sal heeltemal gebreklik word, en sy regter-oog sal heeltemal blind word.”