1Die Here het met die profeet Sagaria gepraat. Dit was in die tweede jaar nadat Darius koning geword het, in die agste maand. Sagaria was die seun van Berekja en Berekja was die seun van Iddo.
Julle moet terugkom na My toe
2Die Here het gesê:
“Ek was baie kwaad
vir julle voorvaders.
3Jy moet vir die mense
van Juda sê:
Die Here wat oor alles regeer, sê:
Julle moet terugkom na My toe,
dan sal Ek na julle toe terugkom.
4Julle moenie doen
wat julle voorvaders
gedoen het nie.
Die profete wat daardie tyd
gelewe het,
het julle voorvaders gewaarsku.
Hulle het gesê die Here
wat oor alles regeer, sê:
Julle moet ophou
om verkeerd te lewe
en verkeerd te doen.
Maar julle voorvaders
het nie geluister na My nie.
5En waar is hulle nou?
Hulle is dood.
Ook profete lewe nie vir altyd nie.
6Ek het vir die profete,
my dienaars, gesê wat hulle
vir julle voorvaders moet sê,
en dit het alles gebeur.
Julle voorvaders het na My toe
teruggekom en gesê:
‘Die Here wat oor alles regeer,
het gesê Hy sal ons straf
omdat ons verkeerd lewe
en verkeerd doen,
en Hy hét ons gestraf.’ ”
Ek sal weer goed wees vir Jerusalem
7Die Here het weer met die profeet Sagaria gepraat. Dit was in die tweede jaar nadat Darius koning geword het, op die 24ste dag van die elfde maand, dit is die maand Sebat. Sagaria was die seun van Berekja en Berekja was die seun van Iddo.
8Dit was in die nag, en die Here het vir my, Sagaria, iets gewys. Daar was 'n man wat op 'n rooi perd gesit het. Hy was tussen mirtebome in 'n diep kloof in 'n berg. Agter hom was nog mense op rooi perde en bruin perde en wit perde.
9Daar was 'n engel by my. Hy moes vir my sê wat alles beteken. Ek het vir die engel gevra: “Meneer, hoekom is die mense en die perde hier?”
Die engel het vir my gesê: “Ek sal vir jou wys hoekom hulle hier is.”
10Die man wat tussen die mirtebome gestaan het, praat toe en sê: “Die Here het daardie mense gestuur. Hulle moet gaan kyk wat oral op die aarde gebeur.”
11Die mense op die perde het gepraat met die Engel van die Here, die Man wat tussen die mirtebome gestaan het. Hulle het gesê: “Ons was oral op die aarde, en alles is stil en rustig op die aarde.”
12Die Engel van die Here het toe gepraat en gesê: “Here, U wat oor alles regeer, U is 70 jaar lank kwaad vir die mense van Juda en Jerusalem. U moet asseblief weer goed wees vir hulle.”
13Die Here het gepraat met die engel wat vir my moes sê wat alles beteken. Die Here het vir hom gesê dit sal weer goed gaan met die mense van Juda en Jerusalem. 14Die engel het toe vir my gesê: “Jy moet hard praat en jy moet sê die Here wat oor alles regeer, sê: ‘Ek is baie kwaad oor wat die ander volke met Jerusalem gedoen het. 15Ek is baie kwaad vir die volke wat gedink het hulle kan doen wat hulle wil. Ek was net 'n bietjie kwaad vir die mense van Jerusalem, maar die ander volke het hulle baie swaar laat kry.
16“ ‘Maar Ek sal nou weer goed wees vir die mense van Jerusalem. Hulle sal my tempel weer daar by hulle bou. Hulle sal die stad Jerusalem ook weer bou.’ Dit sê die Here wat oor alles regeer.
17“Jy moet weer hard praat en jy moet sê die Here wat oor alles regeer, sê: ‘Die stede van Juda behoort aan My. Dit sal weer goed gaan met die mense in die stede. En Ek sal weer goed wees vir die mense van Jerusalem. Ek sal weer sê: Jerusalem is my stad.’ ”
Die vier horings
18Die Here het weer vir my iets gewys. Ek het vier horings gesien. 19Ek vra toe vir die engel wat vir my moes sê wat alles beteken: “Hoekom is hulle hier?”
Die engel het vir my gesê: “Die horings is die leiers van die volke wat die mense van Juda, Israel en Jerusalem weggevat het na ander lande.”
20Toe wys die Here vir my vier ambagsmanne, 21en ek vra: “Wat moet hulle doen?”
Die engel sê toe: “Daardie horings is die leiers van die volke. Hulle het die mense van Juda weggevat uit hulle land en hulle het die mense verneder. Hierdie ambagsmanne het gekom om die horings af te kap. Hulle moet die leiers van die volke doodmaak. Dit is die volke wat die land Juda aangeval het en die mense weggevat het.”