Paulus sê vir Agrippa dat hy nie skuldig is nie
1Koning Agrippa het vir Paulus gesê: “Jy mag nou iets sê oor jouself.”
Toe het Paulus sy hand uitgesteek en hy het begin sê hoekom hy onskuldig is. Hy het gesê: 2“Koning Agrippa, die Jode beskuldig my en hulle sê ek het baie verkeerde dinge gedoen, maar ek is bly dat ek vandag voor jou kan staan en kan sê hoekom ek onskuldig is. 3Ek is nog meer bly omdat jy weet hoe die Jode lewe en waaroor ons stry. Daarom vra ek mooi vir jou om geduldig te luister terwyl ek praat.
4“Al die Jode weet hoe ek gelewe het, vandat ek 'n kind was. Vandat ek klein was, het ek tussen my eie volk en in Jerusalem gebly. 5Hulle ken my 'n lang tyd. As hulle wil, dan sal hulle kan sê dat ek die waarheid praat wanneer ek sê dat ek 'n Fariseër was en dat ek gelewe het soos die Fariseërs. Die Fariseërs is die strengste groep in ons godsdiens, hulle lewe presies soos die wette sê. 6En nou staan ek voor jou sodat jy my kan oordeel omdat ek glo en weet dat God sal doen wat Hy vir ons voorvaders belowe het. 7Ons twaalf stamme hou aan om vir God te dien, want ons weet en hoop dat God sal doen wat Hy belowe het. Ja, koning Agrippa, die Jode beskuldig my omdat ek weet en hoop dat God sal doen wat Hy belowe het. 8Hoekom wil julle nie glo dat God mense wat gesterf het, weer kan laat lewe nie?
9“Voorheen het ek gedink dat ek baie slegte dinge moet doen teen die Naam van Jesus van Nasaret. 10In Jerusalem het ek baie slegte dinge gedoen aan die mense wat aan God behoort. Ek het baie van daardie mense in tronke laat gooi. Die priesterleiers het gesê ek mag dit doen. Ek het ook gesê dit is reg toe hulle die mense doodgemaak het wat aan Jesus behoort. 11Ek het hulle baie maal gestraf en ek het gesê hulle móét in al die sinagoges slegte dinge sê teen God. Ek was baie kwaad vir hulle en ek het baie slegte dinge gedoen aan hulle, ook in die stede in ander lande, ver weg van Jerusalem.
12“Dit is hoekom ek na die stad Damaskus gegaan het. Die priesterleiers het gesê ek kan en moet dit gaan doen. 13Ek was besig om na die stad Damaskus te gaan. Dit was omtrent twaalfuur die middag. Koning, toe het ek 'n lig gesien wat uit die hemel skyn. Die lig was baie helder, meer helder as die son. Die lig het op my geskyn, en ook op die mense wat saam met my geloop het. 14Ons het almal op die grond geval, en toe het ek Iemand gehoor praat. Hy het in Hebreeus vir my gesê: ‘Saul, Saul, hoekom doen jy slegte dinge aan My? Jy maak jouself seer as jy nie na My luister nie.’
15“Ek het geantwoord: ‘Wie is U, Here?’ En die Here het vir my gesê: ‘Ek is Jesus. Jy doen slegte dinge aan My. 16Maar jy moet opstaan. Ja, staan regop, want Ek het aan jou verskyn omdat Ek jou gekies het en omdat Ek jou wil aanstel om vir My te werk. Jy moet My dien en jy moet getuig van die dinge wat jy vandag gesien het. Jy moet ook getuig van die dinge wat Ek later vir jou sal wys. 17Ek sal jou beskerm teen jou eie volk en teen die heidene. Ek stuur jou na die heidene. 18Hulle glo nie in My nie. Hulle is soos blinde mense, maar Ek sal jou gebruik om hulle weer te laat sien. Hulle moet verander en lewe soos God wil hê. Dan sal hulle wees soos mense wat in die donker was, maar wat na die lig gekom het. Ja, hulle moet wegdraai van die krag van Satan, hulle moet teruggaan na God toe. Dan sal God hulle sonde vergewe en hulle sal ook mense word wat aan God behoort omdat hulle in My glo.’
19“Koning Agrippa, God het dit alles vir my laat sien en laat hoor. Daarom was ek gehoorsaam 20en ek het gaan preek, eers vir die mense wat in Damaskus woon, en toe vir die mense wat in Jerusalem woon, en toe oral in die provinsie Judea, en ook vir die heidene. Ek het vir hulle gesê hulle moet verander en begin lewe soos God wil hê. Ja, hulle moet teruggaan na God toe en hulle moet dinge doen wat wys dat hulle verander het en dat hulle lewe soos God wil hê. 21Dit is hoekom die Jode my in die tempel gevang het, dit is hoekom hulle my probeer doodmaak het. 22Maar God het my gehelp, tot vandag toe. Daarom staan ek hier en ek vertel vir almal van God, ek vertel dit vir kinders en vir grootmense. In die boeke van die profete en in die Wette van Moses is die dinge geskryf wat moes gebeur. Ek praat oor daardie dinge. 23Daar is geskryf dat die Christus baie swaar moes kry en dat Hy die eerste Persoon sal wees wat gesterf het en wat weer begin lewe het. Dan sal die Christus vir almal vertel dat God hulle red, die Jode en die heidene. Hulle sal wees soos mense wat in die donker is en dan die lig sien.”
24Terwyl Paulus gepraat het en gesê het hoekom hy onskuldig is, het Festus hard geskree en gesê: “Paulus, jy is mal! Jy het te veel dinge geleer, en dit maak jou mal!”
25Maar Paulus het gesê: “Geagte Festus, ek is nie mal nie. Ek praat die waarheid, ek praat soos 'n wyse man praat. 26Ek is nie bang om met koning Agrippa te praat nie. Want ek weet en ek is seker dat hy weet van hierdie dinge wat ek sê, want hierdie dinge het gebeur waar almal dit kon sien. 27Koning Agrippa, glo jy wat in die boeke van die profete geskryf is? Ek weet dat jy dit glo.”
28Agrippa het vir Paulus gesê: “Jy moenie dink dat jy my so maklik 'n Christen sal maak nie!”
29Paulus het geantwoord: “Ek bid en vra vir God dat Hy vir jou sal maak soos ek is, en dat Hy dit ook sal doen vir al hierdie mense wat vandag na my luister. God kan dit gou doen of Hy kan dit ná 'n lang tyd doen, dit maak nie saak nie. Ja, ek wil hê julle moet wees soos ek is, maar julle moenie gevangenes wees nie.”
30Toe het die koning opgestaan, ook die goewerneur en Bernice en die mense wat by hulle gesit het. 31Toe hulle uitgaan uit die saal, sê hulle vir mekaar: “Hierdie man is onskuldig. 'n Mens mag hom nie straf en doodmaak nie. Hy moet ook nie in die tronk wees nie.”
32En Agrippa het vir Festus gesê: “Hierdie man het gesê dat die keiser hom moet oordeel. As hy dit nie gevra het nie, dan kon hy nou uit die tronk gekom het.”