God gee die Heilige Gees vir die gelowiges
1Al die gelowiges was bymekaar op die dag van die Pinksterfees. 2Hulle het skielik iets gehoor wat uit die hemel kom. Dit was soos 'n sterk wind wat waai. Hulle het dit gehoor oral waar hulle in die huis gesit het. 3Toe sien hulle iets wat lyk soos 'n klomp vuurvlamme bymekaar. Die vlamme het gelyk soos tonge, en 'n vlam het op elke gelowige gaan sit. 4Die Heilige Gees het in hulle almal gekom en hulle het begin praat in ander tale. Die Gees het hulle laat praat in hierdie tale.
5Daar was Jode in Jerusalem, hulle het in ander dele van die wêreld grootgeword en het toe in Jerusalem kom woon. Daar was Jode van elke land in die wêreld. Hierdie Jode was lief vir die Here en hulle het Hom gedien soos Hy wil hê. 6Toe hulle hoor dat hierdie sterk wind kom, het baie van hierdie Jode saamgekom by die huis. Hulle het nie geweet wat gebeur nie, want hulle het gehoor hoe praat die gelowiges in die tale van elkeen van hulle wat uit die ander lande van die wêreld kom. 7Hulle was baie verbaas en hulle het gesê: “Al hierdie mense wat so praat, kom van Galilea. 8Elkeen van ons hoor sy eie taal wanneer hulle praat. Hoe gebeur dit? 9Want ons is Jode uit verskillende volke: Perse, Mediërs, Elamiete, mense wat woon in Mesopotamië, Judea, Kappadosië, Pontus, Asië, 10Frigië, Pamfilië, Egipte en die dele van Libië naby Sirene, en mense wat woon in Rome, 11ook Jode en heidene wat die Jode se godsdiens aanvaar het, Kretensers en Arabiere. Ons hoor hoe praat hulle in ons eie tale oor die groot dinge wat God gedoen het.”
12Hierdie Jode was almal verbaas en deurmekaar. Hulle het vir mekaar gesê: “Wat kan dit beteken?”
13Maar ander mense het gespot en gesê: “Hulle is dronk.”
Petrus praat op die Pinksterfees
14Toe staan Petrus op saam met die ander elf apostels. Hy het hard en ernstig gepraat en vir die mense gesê: “Joodse vriende, ja, almal wat in Jerusalem woon, julle moet verstaan wat hier gebeur en julle moet goed luister na wat ek vir julle sê. 15Julle dink hierdie mense is dronk, maar hulle is nie, want dit is nou nege-uur in die oggend. 16Die dinge wat hier gebeur, is die dinge waaroor die profeet Joël gepraat het:
17“God het gesê:
“Dit sal só wees in die laaste dae:
Ek sal my Gees gee
vir al die mense:
Julle seuns en julle dogters
sal God se boodskap bring.
Julle jongmanne sal dinge sien
wat die Here vir hulle wys,
en julle ou manne
sal drome droom.
18Ja, in die laaste dae sal Ek
my Gees gee vir elke man
en vrou wat vir My werk,
en hulle sal God se boodskap
bring.
19En Ek sal wondertekens gee
bo in die hemel
en tekens onder op die aarde:
bloed en vuur en rook.
20Die son sal heeltemal
donker word,
en die maan sal word soos bloed.
Dan sal die groot en belangrike
dag van die Here kom.
21En dit sal só wees:
Die Here sal almal red
wat tot Hom bid,
almal wat vra dat Hy
hulle moet red.
22“Israeliete, julle moet goed luister na wat ek sê: Julle weet dat God vir Jesus van Nasaret groot dinge en wonderwerke en tekens laat doen het toe Jesus by julle was. So het God gewys dat Hy self vir Jesus gestuur het. 23God het lank gelede besluit en geweet dat Hy hierdie Man sal gee vir die mense wat nie die wette van God ken nie, sodat hulle met Hom kan doen wat hulle wil. Hierdie mense het vir Jesus geneem en hulle het Hom vir julle gegee, en toe het julle Hom gekruisig en vermoor. 24Maar God het toe vir Jesus vrygemaak van die pyne van die dood, Hy het vir Jesus weer laat lewe. Want die dood kon nie vir Jesus vashou nie. 25Dawid het dinge gesê oor homself, maar hy het dit ook oor Jesus gesê. Dawid het gesê:
“Ek het die Here altyd
voor my gesien,
want Hy is hier regs langs my
sodat ek nie val nie.
26Daarom was my hart bly
en was my tong baie bly.
Ja, ek hoop en ek is seker
dat my liggaam sal lewe.
27Want U sal nie vir my
na die doderyk laat gaan nie.
Ek is aan U gewy,
U sal my nie laat sterf nie.
28U het vir my geleer
hoe om te lewe,
ek sal altyd bly wees
wanneer U by my is.
29“Vriende, julle almal weet dat ek reg is as ek vir julle sê dat ons voorvader Dawid gesterwe het en begrawe is, en dat sy graf vandag nog by ons is. 30Maar Dawid was 'n profeet, en hy het geweet dat God vir hom belowe het dat een van sy nageslag eendag op sy troon sal sit. 31Dawid het gesien wat later sal gebeur en daarom het hy gesê dat Christus weer sal lewe. Dawid het gesê:
“God het Hom nie na die doderyk
laat gaan nie,
en sy liggaam het nie gesterf nie.
32“God het vir Hóm, vir Jesus, weer laat lewe, en ons is almal getuies daarvan. 33God het vir Jesus opgeneem in die hemel en Hy het gesê dat Jesus op die belangrikste plek langs Hom moet sit. Toe het die Vader vir Jesus die Heilige Gees gegee, die Vader het dit belowe. En Jesus het die Heilige Gees vir ons gegee. Dit is wat julle nou sien en hoor. 34Want Dawid het nie na die hemel gegaan nie. Dawid sê self:
“Die Here het vir my Here gesê:
‘Jy moet hier langs My sit,
op die belangrikste plek,
35want Ek sal jou vyande verneder,
en Ek sal hulle voor jou laat lê
sodat jy jou voete op hulle kan sit.’
36“Die hele Israel moet nou weet, en dit is seker: Julle het vir Jesus gekruisig, maar God het gesê dieselfde Jesus moet die Here en die Christus wees.”
Die gelowiges word meer
37Toe die mense hierdie woorde hoor, was hulle hartseer en ontsteld. Hulle het vir Petrus en die ander apostels gevra: “Vriende, wat moet ons doen?”
38En Petrus het vir hulle gesê: “Julle moet verander en julle moet lewe soos God wil hê. Julle almal moet gedoop word in die Naam van Jesus Christus. Dan sal God julle sondes vergewe, en God sal die Heilige Gees vir julle gee. 39Want God het dit belowe vir julle en vir julle kinders en ook vir al die mense wat nie Jode is nie. Ja, Hy belowe dit vir al die mense wat die Here ons God na Hom toe sal roep.”
40Petrus het nog baie ander dinge gesê, hy het die mense gewaarsku en hy het ernstig met hulle gepraat. Hy het gesê: “Julle moet vir God vra om julle te red, julle moenie wees soos die wêreld se mense wat sonde doen nie.”
41Die mense wat besluit het om te doen wat Petrus sê, is gedoop. En God het nog omtrent 3 000 mense op daardie dag gelowiges laat word.
Hoe die gelowiges gelewe het
42Die gelowiges het aangehou om die dinge te doen wat die apostels vir hulle geleer het en hulle was altyd saam. Hulle het ook altyd saam geëet en gebid. 43Toe die ander Jode die wonderwerke en die tekens sien wat God die apostels laat doen het, het hulle almal besef dat dit God is wat dit laat gebeur. 44Al die gelowiges was bymekaar, en hulle goed het aan hulle almal behoort. 45Hulle het hulle grond en huise en goed verkoop en hulle het die geld gegee vir mense wat min gehad het. 46Hulle het elke dag bymekaargekom in die tempel en hulle het saam geëet in mekaar se huise. Hulle het vir mekaar kos gegee. Hulle het dit gedoen omdat hulle bly was en omdat hulle mekaar graag wou help.
47Hulle het God geprys, en al die mense in Jerusalem het gehou van hulle. Die Here het elke dag mense gered en so het die gelowiges meer geword.