Petrus waarsku gelowiges teen mense wat vir hulle vals dinge sal leer
1Daar was ook vals profete by die volk van God. So sal daar ook vals leermeesters by julle wees. Hulle sal vir mense hierdie vals dinge leer, maar die mense sal nie weet dat dit verkeerd is nie. Hierdie vals dinge sal die mense verlore laat gaan. Hierdie vals profete sal ook sê dat hulle nie aan die Here behoort nie, die Here wat vir hulle losgekoop het. Daarom sal dit hulle eie skuld wees dat hulle verlore sal gaan, dit sal skielik gebeur. 2En baie mense wat sê dat hulle gelowiges is, sal soos daardie vals profete ook alles doen wat hulle wil doen. Daarom sal die ander mense wat nie gelowiges is nie, slegte dinge sê oor die lewe van die mense wat glo dat die goeie boodskap die waarheid is. 3Hierdie vals leermeesters wil altyd meer en meer goed hê vir hulleself, daarom sal hulle verkeerde stories vir julle vertel om julle te bedrieg. Maar God het lank gelede klaar besluit om hulle te straf, en Hy sal dit doen, Hy sal hulle verlore laat gaan.
4God sal hulle straf. Hy was voorheen nie jammer vir die engele wat sonde gedoen het nie. Nee, Hy het hulle in die onderwêreld gegooi. Hy het hulle met kettings in die donker vasgebind en Hy het hulle gelos om daar gevangenes te bly totdat die oordeelsdag kom. 5God was ook lank gelede nie jammer vir die sondige wêreld nie toe Hy die watervloed oor die wêreld van die sondaars laat kom het. Maar Noag het in daardie tyd die boodskap gebring dat mense reg moet lewe voor God, en God het vir Noag gered. God het ook sewe ander mense saam met Noag gered uit die watervloed. 6God het ook die stede Sodom en Gomorra gestraf en Hy het hulle verbrand en verwoes. Hy het dit gedoen om die ander mense te waarsku dat Hy sondaars sal straf. 7Maar God het vir Lot gered. Lot het reg gelewe en hy was baie geskok oor die lewe van die mense wat nie gehoorsaam was aan die wette van God nie, daardie mense het gedoen wat hulle wil. 8Want Lot het reg gelewe, maar hy het gewoon by die mense wat nie gehoorsaam was aan die wette van God nie, en hy het elke dag gesien en gehoor wat hulle gedoen het. Die dinge wat hulle gedoen het, het elke dag vir Lot baie geskok, want Lot het reg gelewe. 9Maar die Here weet dat Hy die mense sal red wat Hom dien, Hy sal hulle red wanneer hulle baie swaar kry, en Hy sal die mense wat verkeerd lewe, aanhou straf totdat die oordeelsdag kom. 10Vir wie sal die Here die meeste straf? Hy sal die mense straf wat graag dinge wil doen wat 'n skande is en wat hulleself vuil van die sonde laat word. Hulle dink die Here wat regeer, is nie belangrik nie.
Die sondes van die vals leermeesters
Hierdie vals leermeesters praat verkeerd, maar hulle is nie bekommerd daaroor nie. Hulle dink hulle is beter as ander mense. Daarom is hulle nie bang om slegte dinge te sê oor die engele nie. 11Maar die Here se engele is sterker en hulle het meer krag as die vals leermeesters. Die Here se engele beskuldig nie die ander engele nie. 12En hierdie vals leermeesters is soos diere wat nie verstand het nie, diere wat gebore is sodat mense hulle kan vang en doodmaak. Daarom praat die vals leermeesters sleg oor dinge wat hulle nie verstaan nie. Die Here sal hulle ook doodmaak soos die mense wilde diere doodmaak. 13Hulle sal swaarkry, dit is die straf vir die slegte dinge wat hulle doen. Hulle geniet dit om ook in die dag fees te vier en om te veel te eet en te drink. Hulle is soos vuil kolle op klere. Terwyl hulle saam met julle feesvier, hou hulle aan om mense te bedrieg, en so bring hulle skande oor julle. 14Hulle soek altyd vroue wat seks wil hê met hulle, hulle wil altyd meer en meer sonde doen. Party mense se geloof is nie sterk nie, die vals leermeesters wil daardie mense verlei. Hulle wil altyd meer en meer dinge hê. Die Here sal hulle vervloek. 15Die vals leermeesters doen hierdie dinge omdat hulle opgehou het om te lewe soos die Here wil hê. Hulle het gedoen wat Bileam seun van Bosor gedoen het. Bileam was baie lief vir geld en daarom het hy verkeerde dinge gedoen om die beloning te kry. 16Maar die Here het gesê Bileam doen iets wat verkeerd is. 'n Donkie het vir Bileam die profeet gekeer sodat hy nie 'n dom ding gedoen het nie. 'n Donkie is 'n dier wat nie kan praat nie, maar hierdie donkie het met Bileam gepraat soos 'n mens praat.
17Hierdie vals leermeesters is soos fonteine wat droog is, daar kom nie water uit nie. Hulle is soos miswolke, 'n stormwind waai hulle weg. Daarom het die Here vir hulle 'n plek gereedgemaak in die donker plek, die baie donker plek. 18Hulle dink hulle sê baie belangrike dinge, maar hulle woorde beteken niks. Hulle wil mense verlei om ook slegte dinge te doen, mense wat probeer om weg te kom van mense wat verkeerd lewe. 19Die vals leermeesters belowe dat hulle die mense vry sal maak, maar die vals leermeesters is self slawe van alles wat sleg en swak is, want wanneer iets jou oorwin het, dan is jy sy slaaf. 20Die vals leermeesters het voorheen die vuil dinge van die wêreld gedoen, maar hulle het dit gelos omdat hulle ons Here en Redder Jesus Christus goed leer ken het. Maar toe het hulle weer die vuil dinge begin doen en hulle het slawe geword van daardie vuil dinge. Wanneer dit gebeur, dan is hulle nog slegter as wat hulle voorheen was. 21As hulle nie geweet het wat die Here sê en hoe hulle moet lewe nie, dan was dit beter vir hulle. Maar nou weet hulle dit, hulle het dit gehoor by die apostels, maar hulle het opgehou om te doen wat die Here wil hê. 22Hulle het gedoen soos die spreekwoorde sê, spreekwoorde wat waar is:
'n Hond kom terug na die kos
wat hy opgebring het
en
'n Vark wat skoon gewas is,
gaan terug om weer
in die modder te rol.