Paulus vra vir die Korintiërs om geld te gee vir die gemeente in Jerusalem
1Vriende, ons wil hê julle moet weet dat God genadig was vir die gemeentes in die provinsie Masedonië. 2Hierdie gemeentes is baie arm. En God het hulle getoets, ja, hulle het baie swaar gekry. Maar hulle is ook baie bly. En nou het hulle gewys dat hulle ryk is, want hulle het ander gelowiges wat swaarkry, baie gehelp. 3Hierdie gemeentes het gegee wat hulle kon gee. Nee, ek kan getuig dat hulle meer gegee het as wat hulle kon gee. Hulle het self gekom en 4ernstig vir ons gevra of hulle vir ons kan help om geld te kollekteer vir die gelowiges in die provinsie Judea. Hulle het gesê dit sal hulle baie bly maak. 5Maar hulle het baie meer gedoen as wat ons gehoop het. Hulle het die belangrikste ding eerste gedoen: Hulle het hulleself vir die Here en vir ons gegee. Dít is soos God wil hê. 6Hulle het gesê ons moet vir Titus bemoedig. Ja, ons weet dat hy al klaar begin het om by julle te kollekteer vir die gelowiges in Judea. Maar die gemeentes in Masedonië wil hê dat Titus moet aanhou om te kollekteer totdat dit klaar is. 7Ons weet dat julle alles baie goed doen. Julle glo baie sterk, julle kan goed praat. Julle weet baie van die ware lewe. Julle hou nie op om goed te doen nie. En julle is lief vir mekaar soos ons vir julle geleer het. Nou moet julle ook goed doen en geld gee wanneer Titus by julle kollekteer.
8Julle moet onthou, ek sê nie dat julle geld móét gee nie. Ek wil sien of julle ook wil help soos die gelowiges in Masedonië. En ek wil kyk of julle regtig lief is vir ander mense. 9Julle weet dat ons Here Jesus Christus genadig is vir ons. Hy is ryk, maar Hy het arm geword vir julle. Nou kan julle ryk wees omdat Jesus arm geword het.
10Ek wil vir julle sê wat julle moet doen wanneer julle moet besluit wat julle nóg wil doen om die gelowiges in Judea te help. Want julle het al klaar verlede jaar besluit om geld bymekaar te maak, en toe het julle dit begin doen. 11Maar nou moet julle die werk klaarmaak wat julle begin doen het. Julle wou graag begin kollekteer, en julle moet dit nou klaarmaak. En julle moet gee wat julle kán gee. 12Want as 'n mens graag iets wil gee, dan aanvaar die Here dit wat jy kan gee. Die Here wil nie hê dat jy iets moet gee wat jy nie het nie.
13Hy wil nie hê dat julle self moet swaarkry omdat julle baie gee om die gelowiges in Jerusalem te help nie. Nee, die een moenie meer as die ander hê nie. 14Julle het nou meer as genoeg om te kan lewe. Daarom kan julle vir ander mense gee, mense wat nie genoeg het nie. Daar sal miskien weer 'n tyd kom wanneer die gelowiges in Jerusalem te veel het. Dan sal hulle weer vir júlle help wanneer julle te min het. En dan sal die een nie meer as die ander hê nie. 15Dit is soos daar in die Ou Testament geskryf is:
Hulle wat baie gehad het,
het nie te veel gehad nie,
en hulle wat 'n bietjie
gehad het,
het nie te min gehad nie.
Titus en nog twee ander persone gaan kollekteer in Korinte
16Maar ek sê vir God dankie dat Hy vir Titus lus gemaak het om julle te gaan help om die geld te kollekteer. Titus dink ook soos ek dat dit belangrik is dat julle klaar moet kollekteer. 17Want toe ons vir Titus ernstig gevra het om vir julle te gaan help, het hy ja gesê. Maar hy wou dit voorheen self graag doen. Daarom het hy self besluit om te gaan. 18Ons stuur ook iemand anders saam met Titus. Hy werk saam met ons vir die Here. Al die gemeentes ken hom en prys hom omdat hy die goeie boodskap so goed bring. 19Maar dit is nie net óns wat hom stuur nie, die gemeentes het hom ook gekies om saam met ons te werk wanneer ons die geld kollekteer vir die gelowiges in Jerusalem. Ons doen hierdie werk sodat almal kan sien dat net die Here Koning is. En dan kan almal ook sien dat ons graag hierdie werk wil doen. 20Ons wil ook keer sodat mense nie sleg praat van ons nie. Want dit is baie geld wat ons kry en uitdeel. 21Ons wil só werk dat die goeie dinge wat ons doen, reg sal wees vir die Here en dat mense duidelik sal kan sien dat ons reg werk met die geld.
22Ons stuur ook 'n derde persoon saam met Titus en die ander persoon. Die derde persoon werk ook vir die Here soos ons. Ons het hom baie getoets in al die werk wat hy saam met ons gedoen het. Hy werk baie hard vir die Here. En hy is nou baie opgewonde om na julle toe te gaan, omdat hy glo dat julle graag wil help. 23Nou praat ek weer oor Titus: Julle moet onthou, hy werk baie hard saam met my, en hy wil graag saam met julle werk. En julle moet onthou die gemeentes stuur ook die ander twee persone, en Christus is trots op hulle altwee. 24Julle moet nou bewys dat julle lief is vir ander mense en dat ons reg is wanneer ons spog oor julle. Julle moet dit so doen dat die gemeentes dit kan sien.