Die Here wys vir Paulus dinge in die hemel waaroor hy nie kan praat nie
1Om te spog, help 'n mens niks, maar partymaal moet 'n mens 'n bietjie spog. Ek wil nou iets sê. Die Here het iets met 'n persoon laat gebeur en Hy het vir hom dinge gewys wat niemand anders gesien het nie. 2Ek weet van 'n man wat aan Christus behoort. Veertien jaar gelede het God hierdie man na die hoogste hemel geneem. Ek weet nie of die man met sy liggaam daar was en of net sy gees daar was nie. Net God weet dit. 3-4Ja, ek weet God het hierdie man geneem tot in die paradys. Ek weet nie of die man met sy liggaam daar was en of net sy gees daar was nie. Net God weet dit. Daar in die paradys het hierdie man wonderlike dinge gehoor, so wonderlik dat 'n mens nie daaroor kan praat nie. 5Ek sal spog oor hierdie man. Maar ek sal nie oor myself spog nie. Ek sal net daaroor spog dat ek swak is. 6As ek besluit om te spog, dan sal ek nie 'n dom mens wees nie, want ek sal die waarheid praat. Maar ek het besluit om nie te spog nie. Want ek wil nie hê dat die mense moet dink ek is beter as wat ek was toe hulle my gesien of gehoor het nie. 7Want hulle weet van die belangrike dinge in die hemel wat God vir my gewys het. Maar God het iets in my lewe gegee, dit pla my baie. Hy het dit gegee sodat ek nie baie van myself moet dink nie. Hierdie ding is soos 'n engel van Satan. Die engel slaan my met sy vuis sodat ek nie baie van myself moet dink nie. 8Ek het baie maal vir die Here gevra dat Hy hierdie ding moet wegneem. 9Maar Hy het vir my gesê: “Ek is genadig vir jou, en dit is genoeg, want wanneer iemand weet dat hy swak is, dan word my krag in sy lewe meer.”
Daarom sal ek graag spog dat ek swak is, want dan is die krag van Christus in my. 10Daarom is ek tevrede wanneer ek swak is, wanneer mense my beledig, wanneer ek swaarkry, wanneer mense slegte dinge doen aan my, en wanneer ek probleme het. Want ek weet dat alles gebeur omdat ek aan Christus behoort. Ja, ek is tevrede, want wanneer ek swak is, dan is ek sterk.
Paulus is baie bekommerd oor die gemeente
11As ek so spog, dan doen ek dieselfde soos 'n dom mens doen. Maar dit is júlle wat my dit laat doen. Want julle is die mense wat vir my moes geglo het. Party van daardie vals apostels dink dat hulle beter is as ek en hulle sê dat ek niks beteken nie, maar ek is so goed soos hulle. 12Ek het baie maal by julle dinge gedoen wat wys dat ek 'n ware apostel is. Ek het tekens en wonderwerke gedoen en ander dinge wat wys hoe sterk God is. 13Ek het by julle niks anders gedoen as in die ander gemeentes nie. Maar ek het nie vir julle geld gevra vir myself nie. As dit verkeerd was, dan moet julle my vergewe.
14Dit is nou die derde maal dat ek na julle toe sal kom. Ek sal nie vir julle geld vra vir myself nie. Ek wil nie julle geld hê nie, ek wil vir júlle hê. Julle weet hoe die lewe is: Dit is nie die kinders wat vir die ouers geld moet spaar nie, nee, dit is die ouers wat vir die kinders geld moet spaar. 15Ek sal baie graag alles wil gee wat ek het, ek sal ook alles wil gee wat ek is sodat ek vir julle kan help. As ek so baie lief is vir julle, dan mag julle nie minder lief wees vir my nie.
16Ja, ek het nie vir julle geld gevra sodat ek vir myself kon sorg nie. Maar daar is miskien party van julle wat sê dat ek baie slim was en dat ek ander skelm dinge gedoen het om julle te bedrieg. 17Het ek julle bedrieg toe ek een van die mense wat saam met my werk, na julle toe gestuur het? Nee. 18Julle onthou dat ek vir Titus gevra het om na julle toe te kom. Ek het ook iemand anders saamgestuur, iemand wat saam met ons werk. Julle weet dat Titus julle nie bedrieg het nie. En ek dink soos Titus en ek doen dieselfde wat hy doen.
19Julle dink miskien nog altyd dat ons besig is om te wys dat ons nie iets verkeerd gedoen het nie sodat julle kan dink ons is goed. Nee, ons is mense wat aan Christus behoort, ons weet dat God alles hoor wat ons sê. Daarom sê ons hierdie dinge. Ons doen alles omdat ons lief is vir julle en omdat ons julle geloof sterker wil maak. 20Ek is bang dat wanneer ek by julle kom, dan sal julle nie wees soos ek graag wil hê julle moet wees nie. En miskien is ék ook nie soos julle graag wil hê ek moet wees nie. Miskien haat julle ander mense, miskien stry julle met almal, miskien maak julle mense kwaad vir mekaar, miskien maak julle mense vyande van mekaar, miskien beledig julle mekaar, miskien skinder julle van mekaar, miskien dink die een mens hy is beter as die ander mens, of miskien maak julle probleme. 21Ek is bang dat God my sal verneder wanneer ek weer daar by julle kom. Hoekom? Omdat ek miskien sal huil en treur oor baie mense in die gemeente wat sonde gedoen het en wat nie verander het nie, hulle lewe nie soos God wil hê nie. Ek is bang dat hulle nog die dinge doen wat hulle altyd gedoen het, dat hulle slaap by mense met wie hulle nie getroud is nie, dat hulle onsedelik lewe, en dat hulle doen wat hulle wil.