Uit die Bybel - vandag
7Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens 'n lewende wese geword het.
8Die Here God het toe 'n tuin in Eden in die ooste aangelê en die mens wat Hy gevorm het, daar laat woon. 9Die Here God het verder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet, uit die grond laat uitspruit, ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van alle kennis.
10Daar het 'n rivier in Eden ontspring om die tuin nat te maak, en van daar af het dit verdeel en vier riviere geword. 11Die eerste rivier is die Pison en dit loop rondom die hele Gawila, waar daar goud is. 12Die goud van daardie land is suiwer. Daar is ook balsem en oniks. 13Die tweede rivier is die Gihon en dit loop rondom die hele Kus. 14Die derde is die Tigris wat oos van Assirië verbyloop, en die vierde is die Eufraat.
15Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas.