Bible Society of South Africa

Water word wyn

deur Driekie Olwage

Eendag was daar ’n troue. ’n Man en ’n vrou het getrou in die stad Kana in Galilea. Jesus se ma was ook daar. Ook Jesus en sy dissipels is genooi na die troue toe.

Die mense het heerlik gekuier en nog voor die troue klaar was, toe is die wyn al op. Jesus se ma het bekommerd na Hom toe gekom en vir Hom gesê: “Die wyn is op.”

“Liewe vrou, hoekom sê jy dit vir My? Dit is nog nie my tyd nie.” Antwoord Jesus haar.

Jesus se ma sê toe vir die kelners: “Julle moet doen wat Jesus vir julle sê.”

Daar was ses watervate van klip. Die Jode het die water in die vate gebruik om hulle te reinig. Daar was 90 tot 100 liter water in elke klipvat. Jesus het vir die kelners gesê: “Maak die vate vol water!”

Hulle maak toe die vate heeltemal vol.

Toe sê Jesus vir hulle: “Skep nou van die water en gee dit vir die hoofkelner!”

Hulle het gemaak soos Jesus sê, die water vir die hoofkelner gegee. Die hoofkelner het geproe. Die water het wyn geword. Hy het nie geweet van waar die wyn kom nie, maar die kelners wat die water geskep het, het geweet. Die hoofkelner het die bruidegom geroep en vir hom gesê: “’n Mens moet eers die goeie wyn vir jou gaste gee. Later, wanneer die mense baie gedrink het, gee ’n mens die wyn wat nie so goed is nie. Maar jy het die beste wyn gebêre tot nou toe!”

Dit was die eerste wonderteken wat Jesus gedoen het. Hy het dit in die stad Kana in Galilea gedoen. So het Jesus vir die mense gewys dat Hy ook God is, en daarom het sy dissipels in Hom geglo.

Johannes 2:1-11

Aktiwiteite:

Die Bybel vir almal 2008 © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007, 2008.
Oudio-opname deur Driekie Olwage ℗ 2021.
Slegs vir privaat gebruik. Nie vir herverspreiding nie. Geen veranderinge word toegelaat nie


Illustrasie © 2018, Bybelgenootskap van Brasilië (SBB)
Alle regte voorbehou.  www.sbb.org.br  Gebruik met toestemming.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS