Bible Society of South Africa

Onreing geeste staan nie ‘n kans nie

Deur Driekie Olwage

Eendag het Jesus en sy dissipels gegaan tot by die land waar die Geraseners gewoon het, oos van Galilea. Toe hulle uit die boot klim, kom daar ’n man uit die stad na Jesus toe. Die man was vol duiwels, hy was mal. Hy het ’n lang tyd niks klere gedra nie en hy het nie in ’n huis gewoon nie. Hy het in die grafte gewoon. Toe die man vir Jesus sien, het hy hard geskree en voor Jesus op die grond geval: “Wat wil U met my doen, Jesus, Seun van die Allerhoogste God? Ek soebat U, U moenie vir my seermaak nie, asseblief.”

Die man het dit gesê omdat Jesus vir die onrein gees gesê het hy moet uit die man uitgaan. Voorheen het die onrein gees die man baie maal aangeval. Dan moes die mense die man vasbind met kettings en voetboeie en hulle moes hom toesluit. Maar die man het altyd die kettings en boeie stukkend gebreek en dan het die duiwel hom in die woestyn ingejaag. Jesus vra toe vir die man: “Wat is jou naam?”

“My naam is Legioen.” Het hy geantwoord.

Hy het hierdie naam gekry omdat baie duiwels in hom gewoon het. Die duiwels het Jesus gesoebat om hulle nie na die onderwêreld te stuur nie. ’n Groot trop varke het teen die kant van die berg gewei. Die duiwels het vir Jesus gesoebat om hulle in die varke te laat ingaan. Jesus het gesê hulle mag dit doen. Die duiwels het uit die man uitgegaan en hulle het in die varke ingegaan. Die varke het teen die berg afgehardloop tot binne-in die see en daar het almal verdrink.

Die wagters wat die varke opgepas het, het gesien wat gebeur het. En hulle het toe weggehardloop en hulle het alles gaan vertel in die stad en op die plase. Die mense het toe gekom om te kyk wat gebeur het. Toe hulle by Jesus kom, sien hulle die man, uit wie die duiwels uitgegaan het. Hy het by die voete van Jesus gesit. Hy het klere aangehad. En daar was nie meer duiwels in hom nie, hy was nie meer mal nie. Die mense het groot geskrik. Die ander mense wat gesien het hoe Jesus die man gered het wat vol duiwels was, vertel toe alles. Dis toe dat al die mense in die land waar die Gerasene gewoon het, vir Jesus gevra het om weg te gaan van hulle, want hulle almal het baie bang geword. Jesus het toe in die boot geklim en weggegaan.

Die man uit wie die duiwels gegaan het, het gesoebat om saam met Jesus te gaan. Maar Jesus het vir hom gesê: “Gaan terug na jou huis en vertel vir die mense alles wat God vir jou gedoen het.”

En so het die man toe weggegaan en vir almal in die stad vertel wat Jesus vir hom gedoen het.

Lukas 8:26-39

Aktiwiteite:

Bybel vir Almal 2008 © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007, 2008.
Oudio-opname deur Driekie Olwage ℗ 2021.
Slegs vir privaat gebruik. Nie vir herverspreiding nie. Geen veranderinge word toegelaat nie.

Illustrasie © Richard Gunther (www.richardgunther.org)

Bible Society of South Africav.4.27.6
VOLG ONS